Ook nog geluister 2 Sam 5

Written by Martin Heyns on . Posted in Vorige kommentaar

God se nuwe Koers [lewe onder die Heerskap van God] kry ‘n nuwe momentum in hierdie verhaal van Dawid. God stel Dawid amptelik aan a sy prins [heerser] en as sy herder oor al sy mense. Die hele Israel is nou ter sprake. ‘n Prins is natuurlik nie self in beheer nie. Daar is net een Koning in beheer! ‘n Prins kan maar net in die Naam van die Koning optree, as hy daartoe gevra word. ‘n Herder is ‘n versorger; ‘n dienskneg; die afhanklike slaaf van Ps 123. Herders lewe net uit genade.

Maar wat ‘n voorreg; wat ‘n verantwoordelikheid dat God gewone mense so hoog ag om in sy Naam vir Hom diensbaar te wees, ter wille van Sy mense en die Sy hele skepping! Om hulle met liefde agter hulle te kyk; hulle op te bou en hulle in God se vrede [Jerusalem, Shaloom] te laat lewe…

Mens hoef nie ver te rek om onsself in die verhaal te ontdek nie. Ons wat op hierdie prins-en-herder-pad gevat is in Christus Jesus, die ware Prins van vrede [Jerrusalem] en Herder-versorger: “Soos die Vader-Koning, My gestuur het, stuur ek julle!” En die Heilige Gees rus julle toe om dit te doen. So blaas Die Skepper/Herskepper Gees toe mos hierdie Nuwe Lewe in ons in; sit ons amptelik, soos Dawid, op Koers [Joh 20].

Hoe respondeer mense op God se aanstelling? Die Lectionary wil lyk my, die verhaal ontduik! Hoekom is vers 5:6-8, wat die Lectionary betref, uitgelaat? Omdat dit een van die moeilikste tekste in die Bybel is, sê die meeste verklaarders?

Dit lyk my ons moet die week tog maar na die hele verhaal probeer luister. Die prins wat toe vir hom ‘n paleis-stad soek en van die Jebusiete gaan vat: Jerusalem; eintlik na die oorname, toe die “Dawid-stad” genoem. So het die meeste volke en konings in die omringende kulture gedoen? Is dit ‘n prins van die ware Koning wat só moet maak? Is dit nog ‘n prins dié, of is dit dalk ‘n prins wat klaar ‘n “koning” probeer wees? Ek kan nie help om hierdie ondertone in die verhaal van die skrywer te hoor nie. Onthou die Koningsboeke was onder meer kritiek op die herders wat despote geword het.

Wat hierdie ondertone baie sterker maak, is Dawid wat die “kreupeles en blindes”, wat hom gekoggel het, uit die Dawid-stad uitsluit, met ‘n ewige haat. Jerusalem se herder-prins sluit mense uit met ‘n ewige haat? Ek kan nie help om die eerste krake in die prins/herder se amptelike diensmondering, namens God te hoor nie. Lê Dawid dalk hier die eerste boustene van die Sionsteologie wat later verseker ontwikkel het en God se mense eintlik daarop laat roem het om “die-ander” uit te sluit? Die van-Koers-af-lewe wat al die ware profete en later Jesaja probeer nek omdraai het [Jes 56]?

Uit die God-stories van die Bybel en uit eie ervaring, lyk dit my dis al waartoe ons prinse en herders in staat is. Ons vat sommer oor asof ons in ons eie naam lewe en werk. Ons word van kleinsaf so geleer en die moderne tegnologie en wetenskap maak ons gode, wat wou prinse-herders! Ons vrek oor mag en beheer in plaas van die gewone simpel diensbaarheid vir die Koning. En die eerste tekens hiervan: Ons vorm ‘n kliek wat ander eerder uitsluit as insluit. Die ander bedreig skielik ons eie “koninkrykies”. Die voorbeelde is legio in die NG Kerk se geskiedenis en ons eie ‘sionsteologie’. En ons verniel mekaar tot in die grond en God se hele skepping [ekologie] daarmee saam. Die verhaal sê vir my: Luister mooi, só is mense!

Ons Hoop is net in die ware Prins, die Gekruisigde wat opgewek is en lewe! En kyk mooi hoe was die Vredevors, Prins-Herder van God, gekoggel, deur al wat leef. En Hy het toe niemand uitgesluit en daarvoor gehaat nie. Onthou, Hy het selfs vir die koggelaars by sy Kruis gebid: “Vader, vergeef hulle, hulle weet nie wat hulle doen nie”. Voorwaar Hy is ons Prins en Herder wat ons ware Jerusalem-vrede en -lewe gee.

Hel, ons moet Hom dien! Hom eer! Hoe kan ons anders?

Trackback from your site.

Leave a comment