Ouerskap

Written by Mariette Steyn on . Posted in Argief Vrouelidmate

altEen van die gebiede waar die wêreld die heel meeste vordering gemaak het die afgelope 40 jaar is die gebied van kommunikasie. Reeds sedert die laat 19de eeu probeer ons kommunikeer met toestelle en die ontdekking van “wireless” toestelle wat jy saam met jou kon rondry, het net alles onherroepelik kom verander. Onbetaalbare selfoonoproepe en 85c SMS’e (snaaks dis nog steeds 85c al vir meer as 10 jaar!) is later vervang met internetgebaseerde kommunikasie- programme soos Mix-it, BBM, WhatsApp and still counting … Ook die Facebook- en Twitter-era help ons in kontak bly en voorsien aaneenlopende kommunikasie. En tog … ons weet nie meer hoe om te kommunikeer nie. Ouers vertel dat hulle nie meer weet hoe om met hulle kinders kontak te maak nie – hulle stuur ook nou maar ‘n WhatsApp!

Die probleem is dat tegnologiese kommunikasie op ‘n ander emosionele vlak lê as kontak-kommunikasie. Veral as tegnologiese kommunikasie nie opgevolg of ondersteun word deur kontak-kommunikasie nie. Dis nou as jy vir jou vrou ‘n baie romantiese SMS gestuur het, maar as julle mekaar sien jy geensins by die stemming van jou SMS aansluit nie. Die uitdaging is om die tegnologiese kommunikasie ondersteunend tot die kontak-kommunikasie te laat werk, maar dan moet jy die bruggie oorsteek as julle bymekaar is – praat jou praat en wys jou affektiwiteit. Die rede vir die bruggie is die swak kontak-kommuni-kasie vaardighede wat ons het. Ons kommunikeer baie keer bedreigend en luister formulerend.

Bedreigende kommunikasie lê op drie vlakke: Lyftaal, stemtoon en woordkeuse.

Ons lyftaal verklap baie keer ons gesindheid – of van irritasie of van haastigheid of van meerderwaardigheid. Hoe jy staan of sit of loop, kommunikeer afstand, nie nabyheid nie. Stemtoon verdoof die woorde. Jy kan die volgende sin met verskillende stemtone sê en jou hoorder hoor twee totaal verskillende boodskappe: “Liefie jy weet mos dat ek jou liefhet.” Ouers se stemtoon is baie keer net te hard of te sag of te versigtig of te selfversekerd dat dit die boodskap doodmaak. Woordkeuses kan weer die hoorder of nadernooi of afstoot. Woorde soos “nooit” en “altyd” en “nee” en “maar” is struikelwoorde – jy moet eers daar oorkom om weer aan te gaan. Jy kan bloot met die keuse van ‘n woord jou hoorder “shame”, verkleineer of blameer. Byvoorbeeld: “Kan jy nie net die moeite gedoen het en vir ons gebel het om te sê waar jy jou bevind nie?” Teenoor. “Dis vir my baie lekker as jy bel, want dan weet ek waar jy is”. Jy kan selfs dieselfde sin gebruik en net die struikelwoorde uithaal bv. “Jy kon die moeite doen en vir ons gebel het om te sê waar jy is!” Al klaar beter en minder beskuldigend of bedreigend.

Formulerende luister is weer ‘n luister met die een oor. Terwyl jy luister, is jy eintlik besig om ‘n antwoord te formuleer. Jy is besig om jou woorde agtermekaar te kry om, sodra die persoon ophou praat, gereed te wees met ‘n antwoord. Daarom is dit goed om vir jouself sekere vaardighede in te oefen en gebruike aan te leer. Alles om die persoon met wie jy kommunikeer die gevoel te gee jy luister intensioneel. Een so ‘n vaardigheid is om jou gespreksgenoot te eggo. Eggo klink vir jou baie kunsmatig en geforseerd en daarom oneg. Die teendeel is egter waar vir jou gespreksgenoot. Hy/sy beleef dat jy regtig omgee en luister. Eggo forseer jou om by die persoon te bly en om seker te maak jy het reg gehoor. Dit gee jou gespreksgenoot ook kans om te hoor wat hy/sy gesê het en te herformuleer indien nodig. In kort, dit kommunikeer dat jy begrip het. Jy kan daarom selfs goed eggo waarmee jy nie saamstem nie, want eggo is nie ‘n waardeoordeel nie. As jou naskoolse kind by die huis kom en sê: “Ek is nou so ontsteld en kan ‘n bottel brandewyn uitdrink!” kan jy dit eggo sonder om te oordeel. Jy kan sê: “ Klink vir my jy is so kwaad jy kan sommer aan die drink gaan.” Jou seun sal voel my pa/ma hoor my en sal dan heel waarskynlik sê wat hom so ontstel. As jou reaksie was: “Nee, kind daar is baie beter maniere om ‘n mens se woede te hanteer as om aan die drink te gaan”, was sy reaksie seker: “Ja, Ma, whatever!” en het jy nooit gehoor wat hom so ontstel het nie.

Kommunikasie maak van iemand jou vriend of vyand! ‘n Ouer vertel nou die dag dat hy na die kursus ‘n verkeerskonstabel wat hom vir spoed afgetrek het, ge-eggo het. Die atmosfeer het so verander dat die konstabel hom net met ‘n waarskuwing weggestuur het en duidelik in ‘n beter bui was. Gebrekkige kommunikasie is ‘n groot aanklag van kinders aan ouers. Hier is sommer nog ‘n paar wenke deur ouers wat kinders laat ervaar dat hulle wel luister.

  • “Ek moes eers leer om my mond toe te rits”, vertel die eerste ouer. As haar kind nog net begin het om van ‘n probleem te vertel, was sy gereed met ‘n moontlike oplossing en haar kind het meesal geïrriteerd reageer met: “Ma verstaan nie”. Sy het nou geleer om enduit te luister.
  • Nog ‘n ouer vertel dat hy moes leer om op te hou om televisie te kyk, om met volle aandag na sy kind te luister. Interessant genoeg word probleme nou gouer opgelos en los sy kind dikwels sy eie probleme op voordat hy ‘n woord sê. Bloot die feit dat sy ouer met onverdeelde aandag luister, help hom om self oplossings te vind. Hy bieg dat dit voorheen dikwels gebeur het dat hy later nie mooi kon onthou wat Jannie vertel of gevra het nie. Hy verstaan nou dat dit onmoontlik is om gelyktydig aan die televisieprogram en sy kind aandag te gee. Hy bieg ook dat hy nie altyd gedink het wat sy kind sê is so danig belangrik nie. Nou verstaan hy dat, al is dit nie vir hom belangrik dat Jannie se maatjie vandag by die skool lelik met hom was nie, is dit vir Jannie baie belangrik. Hy doen nou sy bes om met sy lyf, oë, ore en hart te luister.
  • ‘n Ma vertel dat sy moes leer om oogkontak te maak. Voorheen het sy dikwels voortgegaan met kosmaak, terwyl sy met een oor na haar kind geluister het. Grietjie het dan haar storie tot vervelens toe oor en oor vertel, omdat sy die gevoel gehad het dat haar ma nie werklik hoor nie. Nou skakel die ma die stoof af, kyk vir Grietjie in die oë en luister met volle aandag. As dit nie moontlik is nie, belowe sy dat sy sal luister sodra die pot aan die kook is. Sy sorg dat sy dit nie vergeet nie.
  • Nog ‘n ma vertel dat sy ‘n baie sensitiewe dogtertjie het. Sy weer, het ‘n baie sterk en harde stem en soms het haar kind gedink sy raas, terwyl sy eintlik net gepraat het. Sy let nou baie meer op na haar stemtoon en vind dat Anke baie nader aan haar beweeg en haar storietjies met meer vrymoedigheid vertel. Sy het ook geleer om na haar kind se liggaamstaal te “luister”.

Kom ons sit kontak-kommunikasie by ons tegnologie en probeer só beter kommunikeer.

Trackback from your site.

Leave a comment