{ARGIEF}

Die gety van geweldsmisdaad wat steeds oor ons spoel, laat `n mens kwaad, gefrustreerd, maar ook met `n klomp vrae oor die wyse waarop alles hanteer word. Een vraag is byvoorbeeld of SA nie maar eintlik in `n andersoortige vorm van lae-intensiteit burgeroorlog vasgevang is nie. `n Baie groot hoeveelheid lande in Afrika is na onafhanklikheid daardeur. Dink maar aan Anglo, Mosambiek, die DRK en Zimbabwe (weliswaar `n uitgestelde een). Hieroor het ons reeds in vorige skrywes gepraat. Nog `n vraag sou wees of `n sogenaamde liberale grondwet kan werk in `n land waarbinne almal saamstem daar nog `n lang pad van ontwikkeling en veral ontwikkeling in sosiale dissiplines moet plaasvind.

 

So kom ons egter by die eintlike vraag wat ek wil vra. Laat ek eers sê dat my hart intens uitgaan na die lede van ons polisiemag en alle geweldslagoffers. Wat tans gebeur, is verskriklik. Die vraag is egter of uitsprake van politici en ander senior beamptes in die polisie (onder andere nuwe polisiekommissaris Cele) dat die polisie maar moet skiet om dood te skiet nie `n nuwe en meer ongekontroleerde vorm van doodstraf is nie. As ek dit reg het, gaan hulle verder deur te sê dat wetgewing dienooreenkomstig aangepas moet word. Is dit nie (terwyl almal dit sal ontken), `n manier om te sê dat ons die doodstraf op een of ander manier moet terugbring nie? Is dit nie maar `n nuwe en andersoortige vorm van doodstraf nie? Noodwendig laat dit `n mens met nuwe vrae?  Ek bedoel, wat sou dan nou die beste wees? `n Proses waar die regbank met al die kruiskontroles wat bestaan, besluit oor die doodstraf, of `n wildeweste skietgeveg waar `n polisieman wat reeds onbillike spanning en stres ervaar, moet besluit waar hy gaan mik en of hy die sneller moet trek of nie?

 

Hierdie is `n klassieke oefening in die hantering van kompleksiteit. Aan die een kant wil ons die lewe te alle koste eer en koester (daarom die standpunte  oor die afskaffing van die doodstraf). Aan die ander kant, is ons by `n punt in ons geskiedenis dat lewe in elk geval geminag word tot op `n punt dat uitsprake soos waarna ons verwys het, al meer en meer simpatie wek.  Die vraag is waar dit ons laat? Hoop ons die polisie skiet in die normale handhawing van reg en geregtigheid net genoeg van die ergste boewe dood, dat die land weer na normaal kan terugkeer?

 

Wat sou die antwoord wees? Ek is onseker, maar terwyl ek weet dat diegene wat sê dat ons met `n sistemiese probleem te doen het, reg is en ook reg is as hulle sê dat misdaad nie oornag gaan verdwyn nie. Intussen behoort die polisie en regering werklik alles in plek te sit rakende kundigheid, dissiplines en kapasiteit om die probleem hok te slaan. `n Paar kopskote gaan dit nie doen nie.