{ARGIEF}

Hierdie week was ek bevoorreg om deel te wees van ‘n kursus waar VGK en NG predikante en lidmate opgelei is in Fasiliterende Leierskap. Soos die kursus aangaan, het ons beleef dat die vertroue onderling groei en mense oopraak teenoor mekaar en al hoe eerliker met mekaar praat.

Die kern hiervan was dat ons gefokus het op ‘n blaamlose en waarderende luister na mekaar.

By dag drie – waag ek dit om die groep uit te daag om eerlik met mekaar te begin praat oor ons vooroordele teenoor mekaar.  Ek verwys na Coenie se opmerking dat ons mekaar nie regtig leer ken het nie.  Ons doen ‘n rollespel waarin ons ons voorveronderstellings oor mekaar opskort en in mekaar se skoene probeer klim.  Ek vra ‘n VG leraar om te probeer ervaar wat NG mense beleef het toe geprekke van die VGK leiers se kant opgeskort is.  Ek vra ‘n NG leraar om te probeer ervaar hoe die VG mense die gebeure by hulle sinode ervaar het. So klim ons in mekaar se wêrelde in. Toe ons hieroor nadink, sê ‘n NG leraar wat meer as 30 jaar in die bediening is:

Dit is die eerste keer dat ek ervaar dat VG leraars blaamloos en waarderend na my verhaal luister!

Ons word almal vir ‘n oomblik stil – kan dit waar wees dat daar tussen ons kerke so min ruimtes is waar ons mekaar kan leer ken en waardeer?  In die soeke na mekaar het ons byna geen veilige ruimtes waar ons oop en eerlik met mekaar kan praat nie.  Anthonie Verheule, ‘n Nederlandse pastor, praat van “terreurvrye ruimtes”. Ja,  merk ‘n ander VGK leraar op, ek het vanoggend gesien dat ons bly was om mekaar te sien, en dit was eg, dit is omdat ons regtig geleer het om mekaar te waardeer en te geniet.

Ek dink Coenie is reg, ons behoort mekaar as leiers oor die grense van kultuur en ras en kerkverband beter te geleer ken het.  Hoekom het dit nie gebeur nie? Wat hou ons vas dat ons nie kan vorder nie – dat ons nou weer vasgeloop sit in ‘n totaal onaanvaarbare verbrokkeling van verhoudings tussen die kerke?

Ek het die week geleer dat daar byna geen – terreurvrye gespreksruimtes is – waar ons mekaar as mense kan ontmoet nie.  Die werklikheid is dat ons almal seer gekry het die afgelope 30 jaar in die stryd tussen die twee kerke. Prof Russel Botman het by Verantwoordelike Vernuwing gesê – dat die huidige geslag leiers te veel beleef het en te seer gekry het om sommer maklik met oplossings te kom. Ons het mekaar tot ketter verklaar, mekaar beveg en swart (sic) gesmeer, gesprekke  opgeskort, ooreenkomste  gebreek, prosesse het versand, en so kan ek aangaan. In hierdie prosesse het mense seer gekry en die emosionele wonde lê baie diep.  Dit help nie ons fokus op die aanvaarding van Belhar, dit moet ons ook doen, of skryf kerkordes, dit moet ons ook doen, of konsulteer gemeentes, dit moet ons ook doen, maar ons doen die voor die hand liggende ding nie – en dit is om in liefde na mekaar uit te reik en blaamloos en waarderend na mekaar te luister nie. Voor ons nie mekaar eenvoudig onvoorwaardelik leer aanvaar en liefkry nie, sal die ander dinge galmende simbale wees met hol klanke.

In my agterkop is die verhaal wat ‘n NG leraar ‘n paar jaar gelede vertel het van ‘n besoek aan die VGK gemeente in hulle dorp. “Ons praat so een maal ‘n jaar met mekaar, dan kry ons NG ouens ons jaarliks pak slae,” was sy weergawe. Ek hoor aan die ander kant dikwels VGK leiers wat kla dat NG leiers nie regtig op ‘n dieper vlak verhoudings met hulle wil bou nie – hulle hou net vergaderings met ons, maar wil nie saam met ons huis toe gaan en saam eet en koffie drink nie!  Die ruimtes tussen ons is nie terreurvry nie – maar vol landmyne.

Hoe skep ons terreurvrye ruimtes?

  • Ons luister na mekaar sonder blaam – as ons gaan aanhou om te probeer vasstel wie het die meeste foute gemaak het, gaan die terreur tussen ons net vergroot.  Ek dink nie dit is meer die tyd om te moraliseer nie – kom ons vat elkeen sy/haar eie blaam.
  • Ons handhaaf die ingesteldheid van waardering teenoor mekaar. Ek het die week weer gesien as ‘n mens werklik na mekaar se stories luister, is daar altyd iets om te waardeer.  Almal is na die beeld van God geskape en kan daarom waardeer en bevestig word. Vir my is dit ‘n geestelike dissipline om die Gees te vra om my hierin te lei.
  • Kom ons breek voorveronderstellings en stereotipes wat ek handhaaf oor die ander af. Vra jouself af, wat is daardie voorveronderstellings wat in jou sit oor die leiers van die ander kerk – net ek en jy kan dit in ons eie lewens beveg en begin om eerlik te raak oor die rasse, kulturele en kerklike vooroordele wat ons almal in ons binneste koester.  Ontkennende sinnetjies soos: ek het niks teen hulle nie – gaan niemand help nie.
  • Skep ruimtes waar verhoudinge gebou kan word so gereeld as wat jy kan – los maar die vergaderings as daar nie verhoudings is nie.

Die bekroonde Poolse reisjoernalis Rysard Kapuscinski wat verlede jaar oorlede is, skryf in die pragtige boekie: De Ander ( oorspronklike titel Ten Inny) dat die probleem in die verhoudinge tussen vreemdelinge nie lê in die grense en die strukturele struikelblokke nie, maar in die onsekerheid wat daar vir elkeen van ons lê in die ontmoeting. Ontmoeting met ‘n vreemdeling is ‘n vraagteken. Dit is waarteen ons moet aanstoot, nie die grense buite onsself nie, maar die grense binnekant.

Hoe sal dit wees as ons vir ‘n oomblik sal ophou om die blaam te soek en begin om mekaar te soek,mekaar lank genoeg in die oë kyk met ‘n waarderende blik dat die ander nie hoef af te kyk of weg te kyk nie, maar kan terugkyk?

Goddelik