{ARGIEF}

Maak 2009 ’n verrykende Godservaring …!

Eerste beweging

Ek het so pas die laaste bladsy van The shack deur William P Young gelees. Op ’n vreemde maar tegelyk verrassende en beeldryke manier, praat God en die hoofkarakter in ’n ontspanne atmosfeer met mekaar. Só raak iets van God se identiteit aan hom bekend en dit bring mee dat sy wonde van (be)rou genees. Dit is dié ontmoeting wat mens in verwondering innerlike vreugde en vrede laat ervaar.

Dit is ook nogal wat die gelowige Psalmdigter doen. Die Psalms nooi ons om God as ’t ware te “ontmoet”, voor Sy aangesig te leef (coram Deo) – dat ons Sy stem sal hoor, met Hom sal praat …

Coenie Burger (WTDL II/4) skryf wanneer jy die Psalms lees, kom jy agter dat ’n lewe voor die aangesig van God nie ‘n benouende en beklemmende saak is nie, maar dat ‘n mens juis dáár teregkom in ‘n “ruimte” waar jy werklik kan asemhaal en leef. Het ons nie hierom nodig om die Psalms meer gereeld te lees nie? Enkele Psalms kan deur lidmate in die erediens gelees word – dalk deur diegene wat baie swaar gekry het die afgelope tyd. Psalms oor moeilike omstandighede wat deur sulke mense gelees word, kan baie medegelowiges se harte aangryp …

(So stel David Carelse in sy liturgiese momente van sy preekstudie oor Psalm 29 voor, om ruimte en tyd in die erediens te skep waar diegene wat moeg, bevrees en afgemat is weer kan asem haal en die Here se stem hoor.)

Tweede beweging

As dit nog altyd nodig was om van God se teenwoordigheid bewus te wees, soveel te meer vanjaar. Dink  net  hoe baie mense 2009 benoud en onseker tegemoet gaan …

Lees gerus J P Landman “Van anderkant die berg: Baie het in dié nuwe jaar voorspoed nodig. Voorspoedige nuwe jaar.” Hy skryf “’n Deel van my voel dit is nutteloos om dié wens uit te spreek, want 2009 kan eintlik nie ’n goeie jaar wees nie. Ekonomies gaan dit beslis swakker wees as 2008. Sommige mense gaan hul werk verloor; baie pensioentrekkers gaan noustrop trek; kleinsakemanne gaan veg om oorlewing …) in http://www.dieburger.com/Stories/Opinion/19.0.1196672725.aspx)

Derde beweging

Daarom is dit juis in hierdie tyd van epifanie, waar kerke tradisioneel terugdink aan God se verskyning, belangrik dat Sy stem opnuut gehoor word. Nie as ’n kwaai stem nie … maar as gerusstellend. Nie soos in die huis waar die kinders met donderweer bang gemaak is nie: “Hoor hoe raas God met ons, want Hy is kwaad oor al ons sondes”. Maar soos in die huis langsaan: “Kyk hoe groot en wonderlik is God: Hy neem van ons flitsligfotos, Hy’s lief vir ons”

God is op ’n mistieke wyse aanwesig en iets van sy identiteit word in mensetaal in Psalm 29 uniek en beeldryk verwoord.

In dié Psalm hoor jy die Here se wonderwerkende stem in ’n loflied. Met mitiese beelde en motiewe word die grootheid en heerskappy van God besing. Dit is veral die Psalms wat ons leer dat die sin van die mens se bestaan is om God te loof deur alles wat hy is en doen. Dit laat die geloof nie bly steek in ’n vermoeiende, eties-moralistiese geskarrel nie (Coenie Burger). Met ander woorde dit gaan nie daaroor dat ons ’n klomp goed moet doen net om te ontdek en bewus te word van hoe ver ons in terme daarvan te kort skiet nie. Dit gaan daaroor dat ons soos kinders, wat nie bang is vir hulle ouers nie, sommer net vrolik kan leef ….

Vierde beweging

Die loflied van Psalm 29 mond uit in ’n geloofsbelydenis. God is groot. Hy gee om. God bring vertroue. “Hy skep ’n nuwe bedeling, wat al die chaos en lewensangs ontmagtig” (Walter Brueggeman, The message of the Psalms). Hy bemagtig en seën met oorvloed (slotvers) – die oorspronklike woord is שלום.

Die vredesverklaring herinner aan die bekende seënwens in Numeri 6:22-26. Die Here verseker Sy kinders dat hulle nie alleen is nie. Hy is met hulle, daarom kan hulle innerlike vrede hê. Die beweging van eer (vers 1-2;10) na vrede (vers 11) klop met die Engele se lofsang buite Betlehem (Walter Brueggeman). “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het (Lukas 2:14). Die Messias is hier. Die heil het gekom!” (David Carelse).

Dié Psalm haak nie net aan Genesis 1:1-5, dat God uit chaos iets nuuts kan skep nie, maar lei ‘n mens tot Jesus (tekste wat dit onderstreep is Markus 1:4-11; Handelinge 19:1-7). “In Christus kom die stem van Psalm 29 by die mense. Daarom skryf Johannes in sy evangelie dat Jesus die ‘stem’ en ‘gestalte’ van die Vader is (5:37)” (David Carelse). En skryf Coenie Burger: in die Nuwe Testament beteken coram Deo eintlik coram Christo.

Mag ons die nuwe jaar opnuut ervaar dat die chaos nie teenoor God staan nie. God het in Jesus die laaste sê. Dit laat ons  met verwondering: om as bemagtigdes God te prys en in Sy teenwoordigheid vrede in 2009 te vind.

Pieter van Niekerk – VGK Friemersheim