Ryk van Velden

Written by webmeester on . Posted in Vorige kommentaar

Verslag oor Voortgesette Bedieningsontwikkeling:
Geestelike leierskap

Die volgende aspekte of dimensies van geestelike leierskap het my aangespreek of vrae by my laat ontstaan oor myself of die aard van leierskap in ons gemeentes: (Wat hier volg is nie in ʼn spesifieke orde gerangskik en word nie in ʼn samehang aangebied nie)

Verskillende fasette van geestelike leierskap

Leierskap in ʼn gemeente het te doen met die dinamiese spanning tussen leier as profeet (fokus op God en sy wil); priester (fokus op diens aan medemens); koning (fokus op bestuur en orde in gemeenskap van gelowiges). Hierdie verskillende aspekte van leierskap vra verskillende vaardighede, maar mag ook nooit los van mekaar gedink en beoefen word nie. ʼn Groot leemte t.o.v. een van die dimensies sal noodwendig ander skipbreuk laat lei.

Gemeenteleraars kan maklik vanweë die aansprake wat gemeentelede en die samelewing op leraars plaas, hulle profetiese leiersfunksie verwaarloos (die soeke, verstaan en proklamasie van die wil van God in die lig van die Woord van God). Alhoewel dit veronderstel word dat predikante hulle verdiep in die Woord en God in die Woord hoor, getuig die praktyk anders. Predikante en ander leiers in die gemeente word so ingetrek deur die ander aspekte van leierskap dat hulle nie meer regtig die Woord hoor, die wil van God vir die tyd waarin ons leef onderskei en die Woord met oortuiging en gesag verkondig en lidmate daarin onderrig nie.

Leierskap as profeet, priester en koning vereis egter dat gemeenteleiers self eers dissipels van Christus word en hulle eie lewe orden vanuit ʼn lewende intieme verhouding met Christus. Geen geestelike leierskap is moontlik as die leier nie geestelik, fisies en emosioneel gesond bly nie. Dit is alleen moontlik wanneer leiers vanuit ʼn intieme verhouding met Christus kan onderskei waarop dit aankom en in die geloof doen wat reg is.

Groot vraag: Glo ons leiers regtig (nog) die evangelie? Die evangelie wat handel oor die goeie God wat nou leef en in die wêreld hier en nou handel. Getuig ons prediking en ons lewenshouding en dade dat ons dit werklik glo. Gee ons leiers aan die gemeente en die wêreld wat niemand ander hulle kan gee nie, nl. goeie nuus oor God? (Skuldgevoelens lei tot geen standhoudende motivering of mobilisering nie: dankbaarheid en verwondering oor God wel).

Ons bediening is ʼn derde orde bediening

God is aan die werk in die wêreld deur sy Woord en Gees. Ons kan nêrens bedien waar Hy nie reeds werksaam is nie. God werk primêr deur sy gemeente op wie die Heilige Gees met al sy gawes uitgestort is.

Lidmate van ʼn gemeente moet opgeroep en uitgedaag word om mekaar en die wêreld in onderlinge gemeenskap te bedien. Geestelike leierskap wat nie lidmate help om hulle gawes te ontdek, te ontwikkel en te ontplooi is gebrekkig en bankrot. Geestelike leierskap is nie bedreig deur die inisiatiewe van lidmate nie, maar probeer juis vir hulle ruimte skep om kreatief hulle gawes sonder beletsel uit te leef. Geestelike leierskap help gemeentes om hierdie dinamiek te verstaan en hulleself daaraan oor te gee: om self te dien en deur lidmate bedien te word.

Eers na die twee vorme van bediening kom die geestelike leiers aan die orde. Hulle is ʼn derde orde bediening. Hulle vind hulle leiersrol alleen binne die groter bediening van God en die gemeente. Ten einde hulle leierskap uit te leef moet hulle kan onderskei wat God in die wêreld doen en hoe Hy sy gemeente in die proses gebruik en toerus. Eers dan kan die geestelike leiers van “voor” leiding neem in ʼn gemeente.

Vraag: Luister en onderskei ons leiers in die gemeentes regtig die wil van God en sy werking deur die gemeente in die wêreld voor ons mense mobiliseer vir diens ens.? Watter vaardighede en praktyke of tradisies het leiers in die gemeente in plek om te verseker dat hulle regtig die wil en werking van God in die wêreld en die gemeente verstaan en volg? Wat doen ons as leiers konkreet op ʼn deurlopende vlak om dit te verseker.

Om Christus te ken beteken om deel te kry aan sy lyding en oorwinning

Fil. 3:1-10: Wie Christus werklik leer ken, se eie persoonlike kultuur en agtergrond word radikaal relativeer.
Christus verander alles en slegs in ʼn intieme verhouding met Hom ontdek ons die aard van ware lewe. Hierdie lewe is nie vry van lyding nie, maar word beleef in die spanning van lyding, oorwinning, hoop en volharding. Wie lyding ten alle koste probeer vermy, probeer die evangelie vermy want wie deel het aan Christus het deel aan sy lyding en oorwinning. In lyding leer ons onsself, ander en God op ʼn vlak ken wat sonder lyding nooit moontlik sou wees nie. Lyding moet positief waardeer word en lidmate moet gehelp word om lyding en broosheid te omhels in die teenwoordigheid van Christus en leer om oorwinnend te midde van lyding met hoop te leef.

Vraag: Help ons lidmate om lyding te aanvaar en toe te laat om ons lewens te vorm en ons te leer om oorwinnend te midde van die swaar te leef. Wat verkondig en leer ons mense in RSA vandag wat lyding ten alle koste probeer ontvlug? Hoe omhels ons lyding sonder om sonde wat tot baie lyding aanleiding gee goed te praat?

Geen bediening sonder liefde nie

As ons mense en ons gemeente nie lief het nie, kan ons hulle nie werklik bedien nie. (I1 Kor. 13). Die bediening gaan in die eerste plek oor verhoudings en nie om aksies en formele byeenkomste nie. Lg. kry slegs betekenis as die leiers regtig met die lidmate identifiseer en hulle liefhet soos hulle is.

Die belang van ʼn mentor

Mentorskap moet in die hele leierskapstruktuur van die kerk en gemeentes aangemoedig word. Mentorskap kan verskillende funksies vervul en dit is moontlik om meer as een mentor te hê. ʼn Vereiste vir enige mentorskap is dat daar respek vir mekaar en vertroue tussen die partye moet wees. Mentorskap gee ʼn oor en indien moontlik en wenslik ook leiding wanneer iemand sonder “maskers” voor die ander leef. Mentorskap gaan ook oor meerdere wysheid in enige bedieningsituasie sonder dat daar noodwendig ʼn krisis is of persoonlike swaar of probleme is.

Vraag: Watter “instruksies” of verantwoordelikhede verwag ons presies van ʼn mentor.

Lees en oordenking van die Bybel

Die gevaar bestaan dat ons oor die teks heers of staan omdat ons dit dikwels net lees om te verstaan of om ʼn preek vir ander te maak. Die uitdaging is om werklik God se stem in en deur die teks te hoor omdat ons nie soseer luister om te verklaar nie, maar om te hoor en te onderskei. Wat belangrik is, is om net met die Woord besig te wees in die verwagting dat die Here met ons persoonlik wil kommunikeer.

Die belangrikheid om die dele van die Bybel andersyds ook by tye baie doelbewus met ʼn sekere bril te lees ten einde op die spoor te kom van verskuilde waarhede en insigte: bv. om dele te lees ten einde te probeer bepaal wat die teks oor missionêre gemeentewees; God se teenwoordige handelinge; mense se reaksie op sy spreke ens. sê.

Vraag: Hoe vergroot ek tye vir die lees van die Bybel?

Onderskeiding as ʼn wesentlike deel van geestelike leierskap

Geestelike leierskap beskryf vanuit die hoek van onderskeidingsvermoë spreek my baie aan. Geestelike leiers verstaan die wêreld, die Bybel en mense en is in staat om die werklikheid te definieer en te beskryf. Geestelike leierskap moet onderskei wat dit beteken om vandag in hierdie tyd te verstaan wat God besig is om te doen en ook van ons verwag om te doen. Sonder onderskeidingsvermoë is geen leierskap moontlik nie, hoogstens goeie bestuur, maar waarheen? Ons het te veel goeie bestuurders en te min leiers wat kan onderskei in die kerk.

Vrae: Hoe ontwikkel ek my onderskeidingsvermoë en my geloof en gehoorsaamheid om paslik te reageer wanneer ek God se wil onderskei? Hoe ontwikkel ons ander leiers se geestelike onderskeidingsvermoë en ontwikkel ʼn kultuur in die gemeente om na God te luister en ook goed te “kyk” waar Hy in die gemeenskap aan die werk is en waar Hy en hoe Hy ons wil inskakel by dit wat Hy doen.

Karakter en integriteit is onverhandelbaar vir geestelike leierskap

Geestelike leierskap is onmoontlik as die integriteit van die leier onder verdenking is of wanneer ʼn leier duidelik oneerbaar opgetree het. Waar iemand se karakter of integriteit geskend is, laat dit ʼn permanente letsel op die bediening.

In leierskap gaan dit in die eerste plek om die nastreef van waardes en nie om tegnieke of resepte nie. Waardes bring energie en volhoubaarheid en die vestiging en effek van waardes in ʼn gemeente en gemeenskap vra tyd.

Visie kan net effektief beliggaam word deur spanne

Volhoubare verandering en vernuwing wat regtig die gemeenskap vir Christus transformeer kan nie deur ʼn (charismatiese) leier alleen teweeggebring word nie. God werk deur die gemeenskap van gelowiges en leierskap sluit in dat die gelowige gemeenskap in spanverband gemobiliseer en toegerus moet word. ʼn Gemiddelde span (in terme van vermoëns) wat goed saamwerk, bereik baie meer as ʼn klomp baie begaafde individue wat nie goed saamwerk in spanverband nie.

Visionering in die gemeente moet in spanverband geskied. Hoe ontwikkel ʼn gemeente ʼn span wat doelbewus en deurlopend onderskeidend die gemeente en gemeenskap in die lig van die Woord “lees”? Watter kommunikasiekanale word in ʼn gemeente geskep om te verseker dat die res van die gemeente kennis neem en aan die gesprek oor visie deelneem ?

Hand aan hand hiermee is die belangrikheid om leiers te kweek. Leiers word gekweek deur rolmodelle, toerusting en geleenthede om hulle gawes uit te leef en leiding te neem. Om leiers te ontwikkel moet mense aan leiers blootgestel word.

Ons is wat ons dink

Ons denke bepaal ons lewe en die van ʼn gemeente. Voer en bou ons mekaar op met positiewe en opbouende gedagtes en die evangelie, of kenmerk ons gesprekke en inhoud van preke ens. die negatiewe? Wat lê ons vas in die gedagtes van lidmate?

Trackback from your site.

Leave a comment