Hierin sal vroue ons moet kom lei!

Written by Frederick on . Posted in Gemeentes

Na aanleiding van my artikel Om te kan huil voor mekaar, vra Magriet die volgende:

Frederick ek ervaar ‘n groot leemte …dit is so jammer dat ons nog nie in die ‘susterskerke’ meer saam kan huil oor dit wat gebeur het in ons land nie. Dit maak my moedeloos lam dat ek al sovele baie emosionele gesprekke met sovele van my kollegas kon he hieroor, maar in die kerk gebeur dit nie. In die werkskring het ons al sovele kere saam gehuil daaroor. Nie een keer was daar verwyte van hulle wat aan die ontvangkant van apartheid was nie, maar ons het saam gehuil oor kleur, taal en kultuur grense heen oor die seerkry wat nie net kon gesond word met die voorreg om ‘n kruisie op ‘n stembrief te kan trek nie. Net laasweek het ek en ‘n wit kolega saam getreur oor ons gekleurde kolegas nie die kommerlose kinderdae kon ervaar wat ons gehad het nie, en nou nooit sal nie. Saam het ons gewens ons kon die horlosie terugdraai sodat hulle ook die voorreg kon kry om kommerlose kinders te wees. Dan wil ek ween oor ek by my kerk by die meerderheid mede gelowiges nie dieselfde ervaar nie….ek wil huil oor ek dikwels voel ek huil alleen in die kerk hieroor….soveel van my medegelowiges huil oor ander goed…huil oor die kriminaliteit, elektriese heinings, goed wat gesteel word ens ens. Sommige van ons landgenote het nog nooit iets anders geken in hulle lewens nie, hulle is nog hulle lewe lank uitgelewer aan kriminaliteit en wreedheid. Toe was die hoogs opgeleide polisie te besig om apartheidswette toe te pas en alle hulpbronne aan te wend om ‘n klein weredljie te beveilig vir die klein bevoorregte minderheid….

Dit is nou al ‘n week wat ek met die vraag rondloop. Magriet is so reg- hoe is dit dat ons in die kerke van alle plekke nie regkry om voor mekaar, met mekaar te huil oor ‘n verlede wat ons almal soveel pyn aangedoenhet nie. As ek Dirkie Smit se artikel gister in Die Burger (Saterdag 13 Maart 2010) Verbonde aan ons wonde? reg verstaan het ons onvermoe oa te make met die feit dat ons dieper gevorm is deur die “ideaal” van onverbondenheid as wat goed is vir ons. Dirkie verwys na  die feministiese filosoof Judith Butler se werk Precarious Life waarin sy betoog dat ons verbondenheid aan mekaar veral na vore kom in ons verwondheid. Wanneer ons rou aan die verliese, huil oor ons verwondhede, dat ons ontdek hoe diep ons verbonde is aan mekaar.

Dirkie skryf: “Dis juis omdat ons so verbonde is met ander dat hulle ons so dipe seer kan maak. Deur hulle woorde, optrede, houding. Deur hulle wegdraai, weggaan, afskeid. Deur hulle swaarkry, wegkwyn, weggeruk word. En as ons onsself teen die soort seer wil beskrem deur isolasie en outonomie, se sy, deur dan liewer nie lief te he nie, nie om te gee nie!, dan mis ons ietes. Die geheimenis van menswees self. Liefde laat ons weerloos teen die leed. Hoe kan ons in die dae van lydenstyd dit ooit vergeet?”

Magriet- dit is natuurlik nie ‘n bevredigende antwoord op jou vraag nie. Dit is tog ABC van geloof dat ons verbonde is aan mekaar, hoekom sukkel ons so daarmee in kerke, en kry julle iets daarvan reg in julle werk. ‘n Deel van die antwoord is dat Magriet en Judith Butler, vroue is en dat hulle sensitiwiteit vir ons verbondenheid aan mekaar, ook in ons verwondhede, eenvoudig in ons kerke nie na vore kom nie omdat ons gemeentes en kerke steeds gelei word deur mans, en belangriker manlike perspektiewe waar daar min ruimte is vir broosheid wat nog te se van trane? Ons het hierdie perspektief van vroue so dringend nodig. Het dit nie tyd geword dat ons vroue toelaat om ons te kom lei in gemeentes en kerke nie?

Trackback from your site.

Leave a comment