Sias Meyer

Written by webmeester on . Posted in Vorige kommentaar

Terugvoer VBO 1 geestelike Leierskap – Sias Meyer

My persoonlike verwagtings rondom “geestelike leierskap” het natuurlik meer te doen gehad met my eie vrae oor my bediening as oor die “beginsels” of teoretiese onderbou van die verskynsel van leierskap. Tans wonder ek baie oor my verantwoordelikheid as leraar en met leraar bedoel ek veral die rol van die “lerende ouderling”, die een wie se verantwoordelikheid dit is om onderrig te gee. Dit is duidelik dat daar gapings is tussen predikante en lidmate se kennis van die Bybel en teologie. Omdat ek self opgelei is as bybelwetenskaplike is die gaping oor die Bybel my eerste liefde, maar feit bly staan dat daar baie verskille tussen predikante en lidmate is oor baie verskillende onderwerpe. Ons probleem is dat ons in ons opleiding (en daarna) baie kennis verwerf het en dat ons sukkel om te oor te dra.

Ek word al hoe meer oortuig dat ʼn groot deel van ons tyd daaraan spandeer moet word om hierdie gaping te oorbrug. Dit is met hierdie behoefte dat ek die kursus bygewoon het, in die hoop dat dit my nadenke oor my roeping en verantwoordelikheid sal stimuleer. Ek moet ook byvoeg dat my “verwagtings” redelik oop was, omdat ek besef het dat dit die eerste keer is wat so iets aangepak word en dat dit maar “trial and error” sal wees totdat ʼn suksesvolle resep gekry is.

Soos ek die kursusraamwerk verstaan, was die eerste dag bedoel om meer teologies van aard te wees en ʼn geleentheid om stil te staan by basiese teologiese kwessies soos die teenwoordigheid van Christus en die feit dat Hy ons geroep het. Die tweede dag sou dan meer “sekulêr” van aard wees en ʼn geleentheid om te dink oor algemene leierskapsbeginsels, dinge wat ons m.a.w. by mense kan leer wat nie noodwendig gelowig is nie en ook nie noodwendig dink oor “geestelike” leierskap nie. Soos met baie van my kollegas het ek hier ook ʼn spanning beleef tussen die twee dae en het ek gesukkel om die twee bymekaar uit te bring.

Coenie se opmerking oor die teenwoordig van ʼn boek soos Spreuke in die Bybel het my (as Ou-Testametikus) egter baie gehelp. Spreuke is baie meer “sekulêr” van aard en deel wysheid wat eintlik deur die waarneming van die lewe bekom is. So ver ek weet, kon die meeste Ou-Testamentici nog nie daarin slaag om Spreuke sinvol in ʼn “teologie van die Ou-Testament” te integreer nie. Die spanning tussen Spreuke en die res van die Ou-Testament is dus nie iets wat maklik opgehef gaan word nie. Netso dink ek ook nie dat die spanning tussen dit wat Coenie aangebied het en dit wat Braam gedoen het maklik opgelos sal kan word nie. Miskien moet ons maar vrede maak met die spanning.
Wat het jou die meeste van Coenie se aanbieding getref?

Die hele idee van roeping bly aangrypend. Die idee dat God my geroep het om ʼn spesifieke rol in die N.G. Kerk te speel is iets waaraan ons onsself gedurig behoort te herinner. Dit gaan natuurlik gepaard met die vraag wat presies die N.G. Kerk is.

In hierdie opsig was die gesprek oor die vraag of die propvol gemeentes van Pretoria-Oos regtig om die evangelie bymekaarkom, vir my fassinerend. Die gesprek moet nie stilgemaak word in ons kerk nie, want ons sit met baie kulterele bagasie. As ons as kerk nie binne die volgende 20 of so jare hiervan ontslae gaan raak nie, gaan ons nie regtig ʼn rol in Suid-Afrika kan speel nie. Die N.G. Kerk is grotendeels nog ʼn vaste vesting vir Afrikaners en ons behoort eintlik ʼn tuiste te wees vir Christene van alle kulture. (Terloops, ek is al hoe meer oortuig dat as ons vaal in kerkeenheid, dan gaan ons oor 20 jaar totaal-en-al irrelevant wees.)

Die vraag van Leith my aangespreek: “Wat gee ons vir mense wat hulle nêrens anders kan kry nie?” Dit is ʼn vraag wat ons vierkantig in die oë moet kyk.

Op ʼn meer persoonlike vlak is ek aangespreek deur die opmerking dat groei nie moontlik is sonder lyding nie. Soms hunker ʼn mens in jou bediening na ʼn gemeente waar jy hoop dat die probleme wat jy tans ervaar nie teenwoordig sal wees nie. Daardie droomgemeente bestaan natuurlik nie. Ek besef al hoe meer dat dit dinge wat jou soms die moegste maak, is juis dinge wat bedoel is om jou te laat groei.

Ek neem ook kennis van wat Coenie sê oor mentorskap. Ek verstaan nou dat ek vroeër in my bediening wel sulke mense gehad het, maar dat dit nou ʼn leemte is. Dit is iets waaraan ek moet aandag gee.

En Braam se bydrae?

Op ʼn persoonlike vlak, was dit veral die opmerking dat ons ons energie moet bestuur en nie noodwendig ons tyd nie. Om dit te kan doen het jy ʼn baie beter kennis van jouself nodig. Die term “self-awareness” is ook soms gebruik.

Maar wat my die meeste op die tweede dag getref het, was Braam se verwysing na ʼn goeie leier se vermoë om ʼn “call” te maak. Hy het verwys na Mbeki se “legacy” en dat hy onthou sal word as die een wat misluk het oor Zimbabwe en AIDS. Dit bring my terug na die verwagtig waarmee ek gekom het nl., ons verantwoordelik om te praat oor die dinge waaroor daar gepraat moet word, maar wat almal liefs vermy. Vir my persoonlik dink ek dat dit is waar die grootste uitdagings lê.

Dit is wat ek geleer het. Ek besef dat die kursus nog baie gebreke het, maar dit was nog steeds waardevol.

Sias Meyer

Trackback from your site.

Leave a comment