Straf en Dissipline is dit dieselfde ding?

Written by Frederick on . Posted in Positiewe Ouerskap

STRAF EN DISSIPLINE: IS DIT DIESELFDE DING?
Beste Gaynor en al die ander besoekers aan die deelnemende ouerskap Blog,

Ek is só beïndruk met moderne ouers wat, soos Gaynor tereg sê, alles in hulle vermoë doen om hulle kennis te verbreed omdat hulle doeltreffende ouers wil wees. Vandag se ouers weet dat tye drasties verander het en dat hulle nie kan voortgaan om hulle voorgangers se “resep” te gebruik nie. Dit werk net nie meer nie. Die magdom van kennis waartoe kinders toegang het en hulle bewustheid van hulle eie regte ten opsigte van wat hulle dink en doen bemoeilik die ouer se saak. Ouers is lankal nie meer kinders se enigste bron van kennis nie.

Tog is dit my ervaring dat die meeste ouers, soos Gaynor ook, dikwels onseker is oor of hulle “reg” optree of nie. In haar geval wonder sy wanneer en hoe sy haar kinders moet straf. Eintlik moes ek voorheen reeds gesels het oor die verskille tussen dissipline en straf, maar ek onderbreek nou ons reeks en voeg dit hier in. Dankie Gaynor dat jy my daaraan herinner het.

Daar is beduidende verskille tussen straf en dissiplinering. Daar is ook ‘n ooreenkoms: In beide gevalle is die ouers se bedoeling om die kinders se gedrag te verbeter.  Ervaring leer egter dat ouers baie meer sukses behaal met dissiplinering as met straf. Dit is dus nodig om helderheid te verkry oor wat straf is en hoe dit van dissiplinering verskil:

  • Straf onderdruk swak gedrag, meesal tydelik. As ‘n kind byvoorbeeld ‘n appel steel en hy word gestraf (hy word geslaan of daar word op hom geskree of wat die straf ook al mag wees), sal hy  dit moontlik nie weer doen nie, omdat hy bang is vir die straf of hy sal vir homself sê dat hy volgende keer versigtiger moet wees sodat hy nie gevang word nie. Nie een van die gebeurlikhede leer die kind om verantwoordelikheid vir sy gedrag te aanvaar nie. Hy leer niks daaruit nie.
  • Seker die bekendste vorm van straf is lyfstraf en dit hou gevare in: Dit veroorsaak dikwels gevoelens van verontregting of gee aanleiding tot wraakgedagtes: “Wag net tot ek groot is dan wys ek julle”. Die grens tussen lyfstraf en mishandeling is ook baie fyn. As ‘n ouer kwaad is (beheer oor haar emosies verloor), is sy geneig om die grens te oorskrei en die verhouding met die kind kan moontlik skade ly. In die praktyk is die heel grootste probleem met straf dat die ouer nie soveel keer straf as wat hy dreig om dit te doen nie. Die kind waag dus kanse en gedrag verbeter nie.

Deelnemende ouers straf nooit hulle kinders nie – hulle dissiplineer hulle. Lees asseblief weer die vorige twee insette: “Dissipline is dikwels vir ouers ‘n kopseer” en “Deelnemende  ouerskap is nie vir die weekhartige ouers nie”. Die twee geskriffies is ‘n inleiding tot dissiplinering. Volgende keer meer daaroor.

Trackback from your site.

Leave a comment