{ARGIEF}

10de Adventverhaal van Hoop – 9 Desember 2008

Hoop het ‘n vreemde pad met ons geloop vanjaar. Ek kry ‘n oproep van ‘n NGO uit die Kaap wat iemand soek om om te sien na ‘n vrou uit ‘n land uit Sentraal Afrika. Ek is gereed, maar vind toe uit dat die vrou in ‘n buurdorp byna 100 km van ons woon! “Dit sal maar moeilik wees, maar kom maar terug indien jy nie regkom nie”, sluit ek die gesprek af.  Na ‘n paar dae kry ek weer ‘n oproep, kan ons nie maar asb. help nie; hulle kry nie iemand om te help nie, want sien die vrou is ‘n Moslem en haar posisie is werklik benard. Daar is nog kinders ook.

Wel, ons raak toe betrokke.  Ek het my verbaas oor die deernis waarmee ons gemeentelede sonder vooroordeel ons nuwe vriendin begin ondersteun het. In die proses het hegte bande begin vorm.  So heg dat sy na ‘n tyd na ons begin verwys het as haar familie. Selfs toe ander Moslems opdaag om haar te ondersteun, het sy dit respekvol van die hand gewys en gesê: “Ek het familie wat my help, dankie”.

Toe ek later vir Abibo, vra, hoekom sy so aangetrokke tot ons gemeentelede voel, was haar antwoord: “Ek het geweet julle is my famlie toe julle die eerste keer inkom en my kinders groet en vra na hulle name en hulle respekvol behandel!”