{ARGIEF}

In ons gemeente het ons die afgelope jaar ‘n bediening vir jeugdiges van 18-35 wat ons Crossings noem. Spesiale eredienste word in die aande vir hulle gehou in die taal en terminologie, konteks en karakter van jongmense in daardie ouderdomsgroep. Musiek word verskaf deur ‘n orkes wat van krag tot krag gaan en die prediking word gedoen deur iemand wat wéét hoe om hierdie ouderdomskategorie aan te spreek. Die hele fokus van hierdie bediening is op gestuurdheid. Die byval wat dit vind in die gemeente is baie goed.
Verlede Vrydag klop iemand aan my pastorie se voordeur. Ek maak oop en voor my staan Waldo. Hy is 12 jaar oud en een van ons baie gereelde en getroue kerkgangers – kom selfs as pa en ma nie wil kom nie. In sulke gevalle loop hy kerk toe en dit geld oggend en aand. Hy is geklee in sy Sondagklere en staan ewe formeel met ‘n aktetas in sy hand.
“Dominee, ek wil dominee graag spreek.” Vol selfvertoue, assertief – ek hou daarvan.
“Kom in Waldo, kom sit. Waarmee kan ek jou help vandag?”
Waldo antwoord plegtig “Dominee ek kom toestemming vra vir iets wat ek ongelukkig klaar gedoen het. Mag ek vir dominee daarvan vertel?”Die afwagting op sy gesig spreek boekdele.
Ek bly so rukkie stil om enersyds die moment te koester en andersyds om die plegtigheid daarvan te beklemtoon en toe sê ek formeel “Ja, dit is goed. Jy mag my maar vertel.”
En Waldo begin vertel:
“Dominee, ek het ‘n junior-Crossings by die skool gestig. Ons is al 14 kinders wat betrokke is. Ons kom elke dag bymekaar, lees uit die Bybel, gesels oor wat dit vir ons beteken en dan gaan ons na ons verskillende klasse. Is dit OK as ons daarmee aangaan?”
My hart swel van trots op hierdie klein mannetjie: “Natuurlik mag julle Waldo!”
“…maar Dominee dis nie al nie – ons gaan van nou af elke Sondagaand se Crossings ook kom bywoon en twee van die kinders behoort nie aan ‘n kerk nie. Hulle het gesê hulle wil graag by ons kom inskakel. Sal dit goed wees as ek Sondag-aand vir tannie Thea vra vir vorms vir hulle om in te vul?”
Teen hierdie tyd wil my mond al begin oophang – “Dis goed so Waldo – gaan voort!”
“Dominee, dan nog ‘n ding…” En hy maak sy tas oop en uit die tas kom ‘n legger en in hierdie legger is van hierdie plastiek vouers en uit een van hulle haal hy ‘n met potlood handgeskrewe vel papier. Uit die hoek van my oog kan ek sien dit is ‘n lys van goed wat daar neer geskryf is en ek wonder …
“Dominee kan ons die Koffiekroeg Saterdag middae huur vir ons byeenkomste?” Ek val amper van my stoel af!
“My liewe Waldo julle hoef dit nie te huur nie – kom haal net die sleutel by my dan kan julle dit gratis gebruik” sê ek.
“Dankie Dominee. O ja – nog iets. Ons het met die skoolhoof gesels en het toestemming gekry om briefies onder die leerlinge te versprei waarin ons hulle uitdaag om Maandag elkeen ‘n kombers te bring vir die Winterhoopprojek waarvan ons in die Kerk gehoor het. Is dit OK as ons dit oor twee weke kerk toe bring Dominee?”
Teen hierdie tyd kan ek net my kop glimlaggend knik …
“Dominee ons gaan Sondag by die kategese die ander skole ook uitdaag om dieselfde te doen. Dalk kry ons nog komberse en nog mense vir die junior-Crossings!” sê hy met oortuiging.
Toe hy later na ‘n koppie koffie en stuk beskuit uitstap, is dit asof ‘n stukkie van die Lig in hom in my sitkamer agterbly … en ek besef so duidelik soos daglig dat die Gees beweeg ook in kinders en stuur hulle net soos Hy ons stuur!