{ARGIEF}

In die NGK Somerstrand gesels ons gereeld oor skilpad-geloof.  Iemand het êrens gelees dat die pad saam met die Here dikwels soos ‘n skilpad is.  Dit beweeg stadig voort, jy bid vir jare oor iets en dit voel vir jou dat niks gebeur nie, dat daar geen beweging is nie.  Dan, op ‘n dag, verander die skilpad ewe skielik in ‘n vuurpyl – en dan moet jy vashou!  Hierdie beeld beskryf baie goed ons gemeente se ervaring.  Ons gesels gereeld oor die geloof van ‘n skilpadjie en die vashou aan die vuurpyl.  Ons vra aanmekaar vir mekaar:  wat is ons nou – skilpad of vuurpyl?  En hoe moet ons in hierdie spesifieke fase optree? 

So praat ons al jare oor ons eredienste.  Ons wil graag families bereik en is oortuig dat daar veranderinge aangebring moet word om dit te doen.  So kom verskillende lidmate van tyd tot tyd saam om te gesels en bly dit ‘n staande item op die Kerkraad se agenda.  Ons bid ook elke week vir die Here se leiding hieroor. 

In 2008 het ons deur ‘n lang proses van bid en praat gegaan.  Daar is besluit dat ons by die Kerkraad gaan voorstel dat ons met twee eredienste gaan begin.  Almal op die Kerkraad, van die ouer, behoudende leiers tot die jonger, ongeduldige leiers, was ten gunste hiervan.  Al die vrae van vroeër was ewe skielik nie meer op die tafel nie.  Ons was oortuig dat dit die Here se wil is. 

By die betrokke Kerkraadvergadering beleef ons egter dat die Gees met ons werk.  Ons almal – elke enkele een – skuif tydens die vergadering in ons vooropgestelde idees.  Daar word besluit om nié nou te begin met ‘n tweede erediens nie, maar om baie meer moeite te doen met die kindertyd tydens die erediens en die toepassings wanneer die kinders die erediens verlaat. 

So gesê, so gedaan.  Dit het ‘n wonderlike impak gehad, die kinders het dit baie geniet en die erediensbywoning het gestyg.

In die tyd kry ons ‘n nuwe Bedieningsbestuurder vir ons jeugbediening.  Ian het as klein seuntjie in ons kategese tot bekering gekom, deur ons kinderkerk sisteem gekom, by ons belydenis afgelê en skakel by die studentebedienig in.  Die manier waarop die Here hom voorberei het vir sy huidige bediening, is ook ‘n storie op sy eie!  So praat Ian tydens ons laaste Kerkraadsvergadering oor die manier waarop die kinders elke Sondag grense oorsteek na die ouer mense en vra of die ouer mense nie ook soms grense kan oorsteek na die kinders nie.  Hy stel voor dat die Kerkraad daaroor begin bid om moontlik vroeg volgende jaar (2010) ‘n besluit te neem om twee maal per kwartaal ‘n informele diens te hou.

Die Kerkraad se onmiddellike reaksie was:  “Wat wou volgende jaar – volgende week!”

Met groot opgewondenheid en spanning het ons dus die afgelope Sondag ons eerste informele “gesinsdiens” gehad.  Wat ‘n heerlike, geseënde ervaring!  Almal, van die jongste kind tot die oudste oupa, vertel hoe hulle die diens geniet het.  Ons het saam gesing (met orrel, baskitaar, blokfluite, voorsangers, ens.), gesels, handbewegings gedoen en in verwondering voor die Here gestaan.

Nou wag ons om te kyk wat die Here vorentoe gaan doen…  Is dit nou vuurpyl-tyd of weer skilpad-tyd?