{ARGIEF}

Hoop

Opening

LEIER:  Wat is hoop?

LESER 1: Wat ‘n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie.  Wie hoop nog op wat hy reeds sien?  Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.  [ Rom 8:24-25 ]

LESER 2: Om te hoop beteken dat ons elke oomblik ingestel is op dit wat nog nie gebore is nie.  Selfs al gebeur sekere dinge nie in ons leeftyd nie, beteken hoop dat ons nie desperaat en moedeloos sal raak nie.   Dit beteken nie veel om te hoop op dit wat reeds bestaan of op dit wat nie moontlik is nie.  Hulle wie se hoop swak is, gee hulle maklik oor aan gerief en self geweld.  Hulle wie se hoop sterk is, sien en koester elke teken van nuwe lewe.  Hulle is elke oomblik gereed om te help dat nuwe dinge onder ons gebore word. [ Erich Fromm ]

LIED

ONS DEEL IN TEKENS VAN HOOP WAARVAN ONS IS DIE TYD BEWUS GEWORD HET.  [ Dit is belangrik dat ons alle tekens van hoop wat ons in ons alledaagse lewe en verhoudinge vind, sal koester en met mekaar sal deel. ]

GEBED  [ Almal saam ]

Here ons God, U weet hoe min hoop daar in ons lewe is.  Ons dae is dikwels vol van slegte nuus – berigte van lyding en dood, haat en onvrede, werkloosheid en bedrog.  Ons samelewing bloei steeds sonder ophou.  Ook in ons eie harte voel ons onseker en magteloos.  Soos die psalmdigter vra ons ook dikwels: waar is God vandag?  In so ‘n tyd wil ons opnuut aan Jesus dink.  Ons wil dink aan Sy kruis – hoe Hy gely en gesterf het.  Toe alle hoop verdwyn het, het U Hom uit die dood opgewek.  Selfs die dood kon U liefde nie keer nie.  Deur die opstanding van Christus skep U nuwe lewe, nuwe hoop.  Gee ons vandag weer tekens van U liefde en sorg.  Vul ons harte met nuwe verwagting.  Laat die hoop tog in ons groei.  En help ons ook om dit te vier.  Alleen so kan ons dissipels wees – mense vol blydskap, moed en hoop!

AMEN

 

 

LEIER  Alhoewel ons hoop en verwagting nog nie ‘n vaste besit is nie, bevat dit tog ‘n element daarvan.  Die feit dat ons op iets wag, wys reeds dat ons dit op ‘n manier besit.  Indien ons met geduld en hoop op iets wag, is die krag van dit waarop ons wag reeds werksaam in ons lewe.  Hy wat in alle erns wag, is alreeds in die greep van dit waarop hy wag. 

VIERING VAN HOOP   [Almal saam ]

Te midde van hongersnood en geweld, vier ons die belofte van oorvloed en vrede.

Te midde van onderdrukking en tirannie, vier ons die belofte van diens en vryheid.

Te midde van twyfel en wanhoop, vier ons die belofte van geloof en hoop.

Te midde van vrees en ontrouheid, vier ons die belofte van vreugde en lojaliteit.

Te midde van haat en dood, vier ons die belofte van liefde en lewe.

Te midde van sonde en verval, vier ons die belofte van redding en vernuwing.

By die herinnering aan ‘n sterwende Heer, vier ons die belofte van ‘n lewende Christus.

LIED

AFSLUITING

Leier:  Mag die God van hoop julle vul met sy genade en vrede.  Mag julle deur die krag van sy Gees groei in hoop.