{ARGIEF}

Wat hou 2016 vir my in? Dis ’n vraag wat in die meeste van ons se onderbewussyn leef, maar wat ons nie kan beantwoord nie. Ons het almal die behoefte om voorbereid te wees. As iemand ons net ’n idee kan gee, kan ons onsself gereed kry en nie onkant gevang word nie. As gelowiges het ons egter die voordeel van God se beloftes. Ons ken ook nie die inhoud van die toekoms nie, maar ons ken die uitkoms! Iewers het ons al Jeremia 29:11 vasgebind in ons geheue: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!”

Ons vat die teks maklik vir ons, want niemand vra vir teenspoed nie. Tog is hierdie teks nie ’n waarborg vir die inhoud van die toekoms nie, maar wel vir die uitkoms. Die uitkoms is ’n herstelde realiteit, ’n versoende eenheid, ’n vredevolle beslag, ’n liefdevolle werklikheid! Ons het ’n versamelwoord daarvoor – hemel! Mag jy 2016 ingaan en nie hemel op aarde hê nie, maar hemel voor oë! Die oog vestig op die vreugde wat vir ons in die vooruitsig is. (Heb. 12:2)
Projek 2016: Otjiekos!
Vanjaar werk ons plaaslik. Maar hoekom so ’n vreemde naam… Otjiekos? Ons wil hê kinders en volwassenes moet vanjaar vir die “otjie” kos gee! Elke keer as jy ’n robotbedelaar of bedelaar op die straathoek sien en jy voel aangespreek of jammer vir die persoon, moet jy eerder die geld wat jy vir die persoon wil gee, in jou otjie gooi.
Die goue reël is – moet nooit geld vir robotbedelaars gee nie! Jy hou hulle daarmee op die straathoek. Solank jy gee, sal hulle daar bly staan. Jy help hulle ook net van die wal af in die sloot. Saam met die Kix.kom ontvang julle ’n inligtingstuk wat breedvoerig verduidelik hoekom daardie munt of noot wat jy deur jou venster aangee, bekend staan as “toxic charity”.
Ons het ’n alternatief. Voer jou otjie, gee hom kos en gebruik die geld om organisasies te ondersteun wat kan help met die probleem. Julle kan papier mâché-otjies bestel of self otjies maak. Op hierdie webtuiste is patrone waarmee julle otjies kan maak. Net die maak van die “otjies” kan groot pret wees. Julle kan selfs ’n kompetisie hou vir die snaaksste of mooiste otjie of ’n kompetisie om ’n naam vir die otjie te kies. Dis klein genoeg om by die rathefboom van ’n motor te pas en dit sal julle heeltyd herinner aan die projek om robotbedelaars van die straat af weg te help.
Met die projek gaan ons elke kwartaal iets nuuts leer. Hierdie kwartaal probeer ons mense inlig oor die gevaar van “toxic charity” en waarom jy nie geld moet gee nie. Volgende kwartaal verskaf ons inligting oor die beste manier om R10 te spandeer. Die wêreld van “Nutrition” is dan ons fokus. So gaan jy leer om armes te help om slim te koop, al het hulle min geld. Gedurende die derde kwartaal leer ons hoe om met bedelaars te praat en die oomblik se kontak menswaardig en positief te maak. Kwartaal 4 fokus ons op organisasies wat kan help en met wie julle kan hande vat daar in julle eie omgewing.
Ek hoop jy is opgewonde om saam met die kinders te fokus op die uitdagings in julle omgewing. Mag ons altyd onthou dat die toekoms en verwagting wat die Here skep nie net vir ons en ons kinders is nie, maar ook vir almal wat daar ver is. Dalk ver van hulp, ver van ’n opbouende lewe en ver van iemand wat regtig omgee.
As jy ook wil deel wees van ons Otjiekos Projek, begin sommer plaaslik in jou gemeente of dorp. Al die inligting wat jy nodig het, is op hierdie webtuiste beskikbaar. Jy kan na die einde van die jaar toe vir Sharon by die jeugkantoor kontak en reëlings tref om jul bydrae saam met die res van die land s’n te stuur.
Jeugkantoor info:
e-pos: jeug@sun.ac.za
telefoon: 021 808 9050

  • [listyofiles folder=”Dokumente/KIX_pdfs/2016″]