{ARGIEF}

Met Paasfees agter ’n gelowige sien hy kans vir enigiets wat van vooraf aankom. Mag julle hierdie tweede kwartaal ingaan met dié wete: die stryd is gestry en die oorwinning is behaal!! Kom wat wil, dit kan nie die uitslag omdraai nie. Tetelestai!!
Ons Otjie-kos projek fokus hierdie kwartaal op die opvoeding van alle mense oor die waarde van kos en hoe jy slim met jou geld kan werk, al het jy baie min. Die idee is dat kinders en hulle ouers bemagtig word om vir bedelaars goeie raad te gee oor hoe hulle meer waarde vir hul bietjie geld kan kry. Dalk sal die beste wees om self R10 uit te haal en goeie kos daarmee te koop en vir die bedelaar te gee. Laai gerus die addisionele inligting af (“Nutrition vir bedelaars”) wat julle kan help met koskeuses. Hierdie inligting kan julle met bedelaars deel.
’n Laaste groet en ’n eerste hallo: Gielie groet:
Dit was my voorreg om die afgelope 12 jaar betrokke te wees eers by die Kinderkrans en later by KIX. In hierdie tyd het ek gesien hoe die Here gawes vir sy kerk gee, veral in die persoon van die wonderlike mense wat op die UK kon dien. Mense met die regte gawes en passie vir die regte tyd. Ek het ook beleef hoe die Here die kinderbediening op ’n baie spesiale en duidelike manier lei. Ek wil dit waag om te sê dat ek die Here se leiding in my 12 jaar by die Jeugkantoor die meeste en duidelikste in die kinderbediening beleef het! Dit het my altyd laat onthou: “Laat die kindertjies na my toe kom en moet hulle nie verhinder nie.”
My wens en gebed vir die kinderbediening is dat ons by die oorspronklike bedoeling van die Kinderkrans sal bly deur kinders bewus te maak van ’n wêreld buite hulleself. Ons het nog altyd ’n sendingfokus gehad en deesdae verkies ek om te sê die Here het ons gelei om missionaal te wees. Die verskil is dat sending kan verstaan word as iets ver van ons af en dat ons net met geld of uitreike by mense en plekke betrokke kan wees. Missionaal beteken dat ons elke dag met alles wat ons doen, naby en ver, God volg in wat Hy rondom en saam met ons doen. Elke leier moet daarom altyd dink hoe ons die kinders kan bewus maak van wat Jesus aan die doen is en hoe ons daarby kan aansluit.
Dit gaan beteken dat ons kinders moet leer wat diensbaarheid is en dat ons elke dag ons selfsug sal moet los. Mag elke ontmoeting of aktiwiteit of wonderstelling die kinders help verstaan dat ware geluk kom in die weggee van jouself.
Gelukkig is daar ook ’n eerste Hallo! Hallo aan ds. Anriëtte de Ridder wat by my oorneem. Anriëtte was ’n dominee in Stellenberg gemeente en het jare lange gespesialiseerde jeugbediening ervaring. Sy is baie opgewonde om ook haar besondere gawes en passie vir ’n breër platform aan te bied en glo my, sy het baie te bied!
Ek groet dus met hierdie briefie al die wonderlike leiers in Kinderbediening! Julle het regtig iets   spesiaals in julle mondering. Wees getrou aan julle roeping, maak julle arms wyd oop vir die ongelowige kindertjies by die bewaarskole en gee net liefde, liefde en liefde. Soveel kinders het so ’n groot      behoefte daaraan.
Anriëtte stel haarself bekend
Ek is die afgelope 13 jaar by Stellenberg Gemeente in die Noordelike voorstede van Kaapstad werksaam as jeugleraar. Ek is getroud met Koos en het drie kinders: Daniël (6 jaar), Ciné (3 jaar) en Jan-Carel (1 jaar). Jeugbediening, families en kinders lê my baie naby aan die hart. Ek sien baie uit daarna om as PSD vir Jeug- en Familiebediening te werk en is dankbaar vir die geleentheid. Ek glo dat die jeug en gesinne ‘n belangrike fokusarea vir die kerk is en sien daarna uit om behulpsaam te wees om effektiewe bediening en nadenke te fasiliteer.
Ek is ook baie opgewonde om deel te raak van die Kix familie – ek glo ons kinders het nodig om allerlei kreatiewe maniere van Jesus se omgee en sorg te leer. Daar is baie uitdagings in kinderbediening – ‘n veranderende wêreld, stressors, gebroke families en verskeie negatiewe invloede. Daarom raak ‘n effektiewe en holistiese kinderbediening al hoe meer van kritiese belang! Ek hoop dat baie van julle gaan saamwerk om kreatief en praktykgerig oor kinderbediening te dink en idees en getuienisse met mekaar te deel.

  • [listyofiles folder=”Dokumente/KIX_pdfs/Tyd”]