{ARGIEF}

Die Here het ons gelei om vanjaar by die ring van Morgenster in Zimbabwe betrokke te raak. Die ring bestaan uit 8 gemeentes. Hulle het ’n groot behoefte aan kategese materiaal en ons gaan hulle bystaan om nuwe materiaal te ontwikkel. Die goeie nuus is dat die Sinode van Zimbabwe kennis dra van die projek en as alles afgehandel is, wil hulle die nuwe kategese materiaal ook vir die res van die gemeentes beskikbaar stel. Ons gaan dus in noue vennootskap met Morgenster Sending-stasie werk en saam ontwikkel aan nuwe boekies in Sjona (hulle amptelike taal). Dit het ons laat dink aan ’n projek naam. Omdat die Sjona alfabet gebruik gaan word om die Bybel stories aan kinders te bring, het ons die naam gekies: “Zim ABC wat die Woord gee”.
Nou het ons ‘n wonderlike idee om die Sjona alphabet te gebruik in ons fondsinsameling. Julle kan die Sjona alfabet aflaai vanaf ons webtuiste. Kopieer dit en knip uit. Daar is ‘n Sjona woord vir elke letter en dit sal baie pret wees om dit aan te leer. Die plan vir ons fondsinsameling is dat die kinders indiwidueel of in groepe die letters van een van die volgende 3 sinne kan koop teen R5 ‘n letter. Die drie Sjona sinne is:

Jesus loves you – Jesu anokuda,
God is always with you – Mwari anewe nguva dzose en
We pray for you – Tinomunyengetererai.

Die geld stuur ons vir hulle om nuwe kategese materiaal te skryf en te laat druk. ‘n Sin soos Tinomunyengetererai, wat 19 letters het, beteken R95. Sodra ‘n groepie al die geld vir ‘n sin ingesamel het, neem dan ‘n foto van die kinders saam met hulle sin en stuur dit na die Jeugkantoor. Ons sal sorg dat die gemeentes van Morgenster dit kry. Die 8 gemeentes se kinders gaan weet dat ons vir hulle omgee.
Vat dit huis toe
Ons het by ons Kix Sinode die tema “Vat dit huis toe” hanteer. Ons wil julle aanmoedig om die kinders te motiveer om dit wat hulle in die ontmoetings ontdek, ook met hulle ouers of voogde te deel. Verskeie van ons ontmoetings het “Vat dit huis toe”- voorstelle. Julle is self kreatief en ken julle eie omstandighede; dus kan julle ook jul eie “Vat dit huis toe”- idees gebruik.
Rituele is baie belangrik in ons almal se lewens (al besef ons dit dalk nie altyd nie). Die afgelope paar jaar skryf ons ontmoetings met vaste rituele as deel van die ontmoetings. Gebruik asb. die eerste ontmoeting se “welkom”-liedjie, temalied, stilword-ritueel en seënbede as verwysing vir die hele kwartaal se ontmoetings. Ons het die liedjie, “It’s a welcome here”, vertaal en met notasie by die eerste ontmoeting ingesit. Leer dit gerus vir jul kindertjies en sing dit elke week om almal welkom te laat voel.
Ons vertel “Die storie van God met die mens” van die skepping af. ‘n Voorstel om die kronologie duideliker te maak, is om ‘n lang koord of tou in jul lokaal te span en elke week se “storie” daar vas te steek (‘n prent, net die karakter se naam of die naam van die ontmoeting).
Deur die loop van die kwartaal word die prente van die diere by verskillende ontmoetings gebruik. Jy kan dit bv. in kleur kopieer en lamineer om bv. twee van elke soort te hê vir Noag se ontmoeting. (Daar is reeds 2 volstruise, want hul kleure verskil mos baie.)
Deur die loop van die jaar gaan ons een keer besempoppe, 3 keer viltborde en 6 keer sandbokse gebruik. Dit sal dus die moeite werd wees om uitgawes en moeite aan te gaan daarmee sodat dit weer-en-weer gebruik kan word. (Baie wenke en idees is op die Sinode-DVD en -handleiding.)

Daar is nog kans om ‘n DVD van die Kix-Sinode te bestel @R120 plus posgeld. Al die aanbiedings is daarop. Kontak Pauline Matthee so gou as moontlik by 084 593 0700 of 044-272 3356 of paulinematthee@webmail.co.za om seker te maak jy kry jou eie kopie. Dit kan bv. gebruik word om vir al die Kix-leiers of kategete te wys as toerusting. Jy kry ‘n kopie van die handleiding wat by die sinode gebruik is saam met die DVD.