{ARGIEF}

met die fokustekste van die Leesrooster as basis

Paassondag en die week daarna
16 April
Kol.3:1-4
Saam met Christus uit die dood opgewek
Ysbreker
Op skool het ons ‘n onderwyseres gehad wat aan die einde van die jaar die hele klas beloon het met ‘n partytjie, selfs al het almal nie ewe goed presteer nie. Kan jy onthou van ‘n oomblik toe jy saam met ander beloon is, selfs al het jy dit nie verdien nie? Vertel ons daarvan.
 
Lof en aanbidding
Die Here lewe! En ons lewe saam met Hom. Ons loof nou die Here met liedere vir wat Hy gedoen het en aanbid Hom vir Wie Hy is. Daarna kan ons weer die kers aansteek. In stilte kyk ons na die kers in die middel en dink daaraan dat Hy opgewek is uit die dood. Dink na oor hoe lewend Hy die afgelope week vir jou was. Op watter oomblik(ke) was Hy vir jou die meeste lewend, teenwoordig? Kyk saam met Hom terug op jou week of dag. Iemand lees Psalm 118:1-2, 14-24, terwyl die res die Psalm in hulle harte saambid. Herhaal die woorde: “Aan u liefde is daar geen einde nie” so ‘n paar keer saggies en laat dit afsak tot in jou hart.
 
Woord
Kol.3:1-4

  1. Lees weer die gedeelte biddend. Fokus op woorde wat vir jou uitstaan en herhaal dit tot dit deel is van jou hart. Sien die leë graf. Sien hoe jy saam met Hom lewe.
  2. Wat het gebeur met ons toe Christus uit die dood opgewek is? (Vers 1a)
  3. Ons lees dat ons twee dinge moet doen: “strewe” en “rig julle gedagtes” (Vers 1,2). Wat beteken dit?
  4. Hoe ver is “daarbo”? Gesels bietjie saam daaroor.
  5. Hoe is ons “lewe verborge saam met Christus in God”? Wat beteken dit vir ons daaglikse lewe tussen ons mense en met al ons werksaamhede?
  6. Watter belofte hoor ons in vers 4? Gee dit vir jou hoop?
  7. Raak nou weer stil. Lees weer die woorde wat die Here op jou hart gelê het. Sien reeds hoe jou lewe verander wanneer jy daaraan dink: “Ek is saam met Christus uit die dood opgewek… ek strewe, ek rig my gedagtes…”

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar. Deel eers met mekaar hoe julle die lewende Christus in mekaar raaksien. Deel dan julle strewes en gedagtes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan hierdie groep in die komende week gaan lewe dat die wêreld sien, ons is saam met Christus opgewek? Wees prakties en laat die lewende Here julle lei.
 
Tweede Week in Paastyd
23 April
Johannes 20:19-31
My Here en my God!
Ysbreker
Kan jy dink aan ‘n groot kans wat jy gehad het, maar wat jy gemis het, waaroor almal rondom jou praat? Vertel ons daarvan.
 
Lof en aanbidding
Fokus op die Here in julle midde, selfs al is die deure toe! Sien die spykermerke. Dit is Hy! Sing lof- en aanbiddingsliedere vir Hom. Daarna kom julle tot rus by Hom. Julle kan die vertrek waarin julle bymekaar is effens donker maak. Iemand steek dan ‘n kers aan, en sê: “Vrede vir julle…” Daarna kan julle die ligte aansit. Dink aan Hom as die Een wat weet van jou. Hy ken jou hart, jou gedagtes wat nou deur jou kop maal, jou twyfel en bekommernis en Hy fokus op jou. Hoor sy woorde: “Vrede vir jou” – bring jou vinger, bring jou hand, bring alles waaroor jy twyfel… Beleef die nabyheid van die Here. Herhaal die woorde saggies in jou hart: “My Here en my God”… Iemand sluit hierdie oomblikke van rus by die Here af met die lees van Psalm 16:5-11.
 
Woord
Joh.20:19-31

  1. Lees die gedeelte eers in stilte biddend, asof jy self daar teenwoordig is. Sien die ander dissipels, die vrees op hulle gesigte, hulle uiterse spanning. Voel die spanning in jou eie hart. Wat gebeur in jou wanneer Jesus skielik in julle midde is met die woorde “Vrede vir julle” en oor julle blaas?
  2. Wat beleef die dissipels die Sondagaand? (Verse 19-20)
  3. Wat doen Jesus in hulle midde? (Verse 21-23)
  4. Wat is Tomas se reaksie wanneer hy hoor van hierdie ontmoeting? (Verse 24-25) Kan dit gebeur dat jy dalk ‘n week lank met twyfel in jou hart rondloop omdat jy dalk net nie daar was toe die Here sy dissipels ontmoet het nie (bv in die erediens, die huiskerk, ens.?)
  5. Dan gaan daar 8 dae verby, en Jesus se dissipels is weer bymekaar. Hierdie keer is Jesus weer daar, spesiaal vir Tomas. Wat gebeur hier? (Verse 26-31)
  6. Raak nou weer stil, bewus van die lewende Here, spesiaal hier vir jou. Lees en beleef weer die gedeelte. Hoor Jesus se woorde: “Vrede vir jou… Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek jou ook…” Antwoord met die woorde: “My Here en my God”…

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel die dinge waaroor julle twyfel met mekaar. Bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan ons in die komende week die lewende Here teenwoordig gaan maak in die lewe van die twyfelende mense in ons omgewing?
 
Derde Week in Paastyd
30 April
Lukas 24:13-35
Het ons hart nie warm geword nie…?
Ysbreker
Hoe voel jy gewoonlik wanneer ‘n derde persoon die gesprek tussen jou en jou vriend onderbreek?
 
Lof en aanbidding
Die Here lewe! Hy is hier. Plaas vanaand ‘n stuk brood op die tafel in die middel van die groep en steek ‘n kers langs die brood aan wat simboliseer dat Hy opgestaan het. Sing lof- en aanbiddingsliedere vir Hom. Raak dan stil en dink aan Hom. Wees net. Jy is in Sy geselskap met jou eie vrae, onsekerheid, gevoel van verlies, selfs eensaamheid. Wees stil. Met al die deurmekaar gedagtes is Hy by jou, sluit Hy by jou aan op jou eie unieke reis. Wat sou jy graag met Hom wou deel? Doen dit in die stilte. Iemand kan dan die brood in twee breek. Die Here is hier. Dan kan iemand Psalm 116:1-7, 12-19 lees terwyl die ander biddend luister. Herhaal die woorde “Ek is u dienaar, Here” ‘n paar maal in jou hart.
 
Woord
Luk.24:13-35

  1. Lees eers weer die gedeelte in stilte asof jy self in die verhaal is. Stap saam met iemand wat jy vertrou en gesels oor “al hierdie dinge” wat in jou lewe gebeur het. Word dan bewus van nog iemand wat saamstap. Praat jou hart uit.
  2. Hoe dink julle is die gemoed van hierdie twee Emmaus-reisigers, en wat gebeur met hulle op pad huis toe? (Verse 13-19)
  3. Waaroor gesels hulle en die “vreemdeling” met mekaar? (Verse 19-24)
  4. Sou Jesus se reaksie jou enigsins gehelp het met jou “somber” gemoed? (Verse 25-27)
  5. Wat gebeur wanneer hulle by die dorpie aankom? (Verse 28-32)
  6. Hoe verander hierdie twee reisigers na die ontmoeting met die lewende Here? (Verse 33-35)
  7. Lees nou weer die gedeelte in stilte. Dink na oor hoe Jesus se teenwoordigheid jou lewe verander. Praat in jou hart met Hom daaroor.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar. Wees bewus daarvan dat Jesus by julle is. Deel met mekaar dié dinge wat julle lewe “somber” maak, versterk, vertroos en bemoedig mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe gaan julle in die komende week met mense deel dat Jesus lewe en by julle “aangesluit” het op julle reis?
 
Vierde Week in Paastyd
7 Mei
Johannes 10:1-10
Die lewe… in oorvloed
Ysbreker
Wie se stem sal jy in die donker of toe oë herken? Hoekom?
 
Lof en aanbidding
Die lewende Here is hier teenwoordig in julle midde. Hy kom na jou toe as jou Goeie Herder om jou ook deur hierdie byeenkoms te lei. Sing lof- en aanbiddingsliedere vir Hom. Kom tot rus by die Here. Dink aan jou lewenspad en hoe Hy die pad saam met jou stap as jou Herder. Hy ken jou naam, jy ken sy stem. Kan jy aan ‘n oomblik dink toe jy die afgelope week bewus was van sy leiding? Praat in stilte met Hom daaroor. Loof en aanbid Hom dan met liedere en gebede. Iemand kan Psalm 23 voorlees en die res bid dit in hulle harte.
 
Woord
Joh.10:1-10

  1. Lees nou weer die gedeelte in stilte met jou hart. Sien die woorde wat vir jou uitstaan, raak. Dink aan hoe Hy jou beskerm, hoor Sy stem. Praat in stilte met Hom daaroor.
  2. Die beeld word gebruik van die Herder as hek of deur. Wat beteken dit? (Verse 1,2)
  3. Hoe verstaan ons die beeld van die skape wat die herder se stem ken? (Verse 3-5)
  4. Die mense verstaan nie wat Jesus bedoel nie en daarom verduidelik Hy dit vir hulle. (Verse 6-10). Verstaan jy dit nou?
  5. Waarvoor het Jesus as Herder gekom? (Vers 10) Ervaar jy dit waarvoor Hy gekom het?
  6. Wat wil jy graag nou vir die Here sê? Hoe verander die Goeie Herder ook jou pad? Hoor sy woorde: “Ek ken jou naam, jy ken my stem, Ek lei jou…” Praat nou met jou Herder in jou stilte.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Dank die Here vir jou broer/suster en bid vir sy/haar behoeftes.
 
Uitsending
Ken julle dalk “skape” in julle omgewing wat weggeraak het en net weer nodig het om hulle Herder se stem te hoor? Wat gaan julle daaraan doen?
 
Vyfde Week in Paastyd
14 Mei
Johannes 14:1-14
Die Weg, die Waarheid, die Lewe
Ysbreker
Wat (waar) is jou ideale woonplek?
 
Lof en aanbidding
Die Here is by ons, in ons midde. Terwyl ons op Hom fokus, sing ons vir Hom lof- en aanbiddingsliedere. Raak dan rustig en beleef net die Here se teenwoordigheid. Asof hemel en aarde in hierdie oomblik bymekaar uitkom. Jy het die voorreg om deel daarvan te wees. Dink aan oomblikke die afgelope week toe jy die Here so naby beleef het, dat dit vir jou gevoel het hemel en aarde raak aan mekaar. Hoe het die lewende Here Homself hierdie week aan jou kom wys as die Weg, die Waarheid, die Lewe? Na die oomblik van rus kan iemand met die volgende gebed sluit: “Lewe U in my, Heilige Gees. Ek begeer niks as om net te wees en deur U te lewe nie. Ek stel my tot U beskikking. Ek wil my oopmaak en my oop in my hand uithou na U toe. Werk so in my dat U my lewe is. Wees so om my dat U my wêreld is. Deurdring my dat ek self vervaag en U alleen oorbly.” (Pad na die Gebed)
 
Woord
Joh.14:1-14

  1. Lees eers weer in stilte die gedeelte biddend deur. Beleef die dissipels se onsekerheid, hulle vrae. Hoor Jesus se stem.
  2. Jesus begin sy dissipels voorberei daarop dat Hy nie meer lank (soos Hy nou is en lyk) by hulle gaan wees nie. Hoe bring Hy hulle ontsteltenis tot rus? (Verse 1-4)
  3. Watter groot boodskap krap Tomas oop? (Verse 5-7)
  4. Hoe antwoord Jesus op Filippus se versoek, en wat beteken hierdie antwoord? (Verse 8-11)
  5. Wat beteken dit vir die dissipels en elke dissipel na hierdie groepie rondom Jesus? (Verse 12-14)
  6. Raak nou weer stil. Lees weer die gedeelte. Watter woorde spreek jou in besonder aan? Hoe verander hierdie woord jou lewe?

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Dank die Here vir die mooi dinge wat jy in jou broer of suster raaksien (wees spesifiek) en bid dan vir mekaar se behoeftes.
 
Uitsending
Hoe kan ons as groep in hierdie week wat kom mense in ons midde laat “tuisvoel”, sodat hulle tussen ons iets beleef van “die huis van my Vader?”
 
Sesde Week in Paastyd
21 Mei
Johannes 14:15-21
Ek in my Vader… julle in My… Ek in julle
Ysbreker
Wat bedoel ons wanneer ons sê: “Ek wens ek was vandag by julle, maar in die gees sal ek daar wees?”
 
Lof en aanbidding
Ons Here is nou hier by ons. Ons geniet sy teenwoordigheid wat elke ruimte in ons lewe vul. Die groep sing lof- en aanbiddingsliedere vir Hom met die fokus op Hom. Kom dan tot rus en dink aan Hom en beleef Hom in stilte. Jesus sê: “Julle sien My, omdat Ek lewe…” Sien Hom nou met liefde na jou kyk. Dink saam met Hom na oor die afgelope week in jou lewe. Was daar oomblikke dat jy Hom gesien het? Was daar oomblikke toe jy werklik gevoel het soos ‘n weeskind? Wanneer was dit en waar was Hy toe? Iemand kan die oomblikke van rus by die Here afsluit met die volgende gebed: “U is die Lig wat van bo afskyn, die Lewe wat van bo kom, die Gees wat van bo met ons praat. Stuur u Gees uit die hoogte sodat ek nie met myself praat wanneer ek bid nie, maar met U. Dat ek nie myself hoor as ek luister nie, maar vir U. Dat ek in U lewe en nie net in myself nie. Dat U in my kan wees en nie net bo my nie. Nabye God. Op hierdie aarde wag ek op U” (J.Zink)
Woord
Joh.14:15-21

  1. Lees eers weer die verse in stilte biddend deur. Fokus op woorde of sinsnedes wat vir jou uitstaan. Herhaal dit in jou hart. Sien hoe hierdie woorde jou van binne-af verander en nuut maak.
  2. Is die dissipels se liefde vir Jesus net lippetaal? (Verse 15, 21)
  3. Wanneer ons sê “Ek is in die gees by julle”, bedoel ons dat ons eintlik afwesig is. Wanneer Jesus sê dat Hy deur die Gees by ons is, is Hy werklik by ons. Hoe? (Verse 16-17)
  4. Gee die belofte van Jesus in verse 18 en 19 vir jou hoop? Hoe?
  5. Wat beteken vers 20 vanaand spesifiek vir jou?
  6. Kom nou weer tot rus. Lees die gedeelte weer deur. Beleef die lewende Here in die gedeelte. Sien ook hoe anders jy lyk en doen omdat jy die Here Jesus liefhet.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel vir mekaar hoe julle die lewende Here in mekaar raaksien. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan ons mekaar help om hierdie week baie meer bewus te wees van Jesus in sy Vader, ons in Hom en Hy in ons?
 
Sewende Week in Paastyd
28 Mei
Johannes 17:1-11
Jesus kyk op na die hemel toe
Ysbreker
Het jy die vrymoedigheid om die mooiste woorde wat iemand al ooit voor jou van jou gesê het, met die groep te deel, en veral hoe dit jou laat voel het?
 
Lof en aanbidding
Ons rig ons oë op Jesus by ons, om ons, in ons. En ons raak bewus van die intimiteit van sy nabyheid. Dan sing ons lof- en aanbiddingsliedere vir Hom. Wanneer ons werklik die Here se teenwoordigheid beleef, raak ons stil en fokus op die Here wat bid. Dink aan iets wat jy graag wil hê Hy moet vir jou voor bid. Sê dit vir Hom. Kom nader en nader aan Hom, sodat jy beleef dat Hy as’t ware in jou bid. Maak dan jou oë oop en kyk na bo (na die hemel). Rus net by Hom. Na hierdie oomblikke saam met die Here kan iemand die volgende woorde van Kierkegaard lees terwyl die res dit in hulle harte beaam: “Toe my gebed meer toegewyd en inniger geword het, het ek al hoe minder te sê gehad. Uiteindelik het ek stil geword, heeltemal stil… Eers het ek gedink bid is praat. Maar ek het geleer bid is nie net om stil te bly nie, dis luister. So is dit: Bid is nie om jouself te hoor praat nie, bid is om stil te word en te bly en te wag totdat jy God hoor.”
 
Woord
Joh.17:1-11

  1. Lees nou eers weer die woorde in stilte met jou hart. Bid dit saam met Jesus asof dit jou eie gebed is. Jy in Hom en Hy in jou. Fokus op dele van die gebed wat vir jou uitstaan wat jy graag sou wou herhaal. Herhaal dit saggies, laat dit deel word van jou.
  2. Wat dink julle bedoel Jesus as Hy bid “Verheerlik u Seun”? (Verse 1-5)
  3. Aan watter mense dink Jesus in sy gebed? Hoe pas ons in hierdie prentjie in? (Verse 6-8)
  4. Wat beteken dit om aan Jesus te “behoort”? (Verse 9-11a)
  5. Watter belangrike saak roer Jesus aan in sy gebed? (Vers 11b)
  6. Lees nou weer die gebed stadig deur. Herhaal die woorde wat jy graag saam met Jesus wil bid in jou hart. Hoe verander die woorde jou?

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Probeer nou hierdie gebed vir die twee wat saam met jou is, bid. Elkeen bid ‘n gedeelte tot al 11 die verse in die gebed gedek is.
 
Uitsending
Ek het gewoonlik as ek my pa hoor bid het: “Here, help tog my seun dat hy hierdie week goed genoeg doen in sy eksamen”, ekstra ure aan my studies bestee. Hoe kan ons prakties hierdie gebed gaan leef in die week wat kom?
 
 
Adriaan Haasbroek, Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net