{ARGIEF}

met die fokustekste van die Leesrooster vir Lidmate as basis
Agtste week in Koninkrykstyd
30 Julie
Matt.13:31-33, 44-52
Ysbreker
Watter klein dingetjie wat iemand vir jou gesê of gedoen het, sal jy jou lewe lank onthou?
 
Lof en Aanbidding
Kom nou tot rus by die Here. Geniet sy geselskap. Hy het ‘n besondere afspraak met jou. Sing liedere waarmee julle Hom met blydskap loof en aanbid. Kom dan tot rus by die Here en dink aan Hom saam met jou op weg die afgelope week. Iemand lees Psalm 105:1-11 terwyl die res dit in hulle harte saambid. Herhaal die woorde: “U hou u verbond altyd in stand” drie maal in jou hart.
 
Woord
Matt.13:31-33, 44-52

  1. Lees nou weer die gelykenisse eers in stilte deur. Hoor Jesus se stem terwyl Hy hulle in liefde vertel, asof jy een van die dissipels is wat hoor en aangeraak word. Watter woorde spreek jou aan? Het jy ‘n vraag wat jy vir Jesus sou wou vra? Oordink dit biddend.
  2. Sien jy hoe verse 31-33 rondom jou waar word? Wat wil Jesus jou leer oor die koninkryk van die hemel?
  3. Hoeveel is dit vir jou werd om deel van God en Sy Koninkryk te wees? Sou jy sê soveel soos verse 44-46?
  4. Wat wil Jesus ons leer met die gelykenis van die goeie en onbruikbare vis? (Verse 47-52)
  5. Raak nou weer stil by die Here. Sien jouself in die Koninkryk. Hoe wil die Here jou gebruik in sy Koninkryk? Antwoord Hom.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar. Deel julle behoeftes en bekommernisse met mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe gaan die Here hierdie groep in die week wat kom in sy Koninkryk gebruik. Dink saam oor wat julle by Hom gehoor het.
 
Negende week in Koninkrykstyd
6 Augustus
Matt.14:13-21
Ek dien die Here met die min wat ek het
Ysbreker:
Iemand klop aan jou deur met die woorde: Môre, meneer, mevrou, mejuffrou. Ek het goeie nuus. U het so pas een miljoen Rand gewen. Vertel mekaar nou wat jy alles met die een miljoen Rand sal doen.
 
Lof en Aanbidding
Gee julleself aan die Here met julle lof- en aanbiddingsliedere. Kom dan tot rus en geniet die stilte in sy teenwoordigheid. Sien jouself deur God se oë. Hy kyk met liefde na jou. In jou hart bid jy: “Here, ek is hier met die min wat ek het, om dit vanaand met ander te deel”. Sien reeds hoe jy jouself gee aan God en hulle wat saam met jou by hierdie byeenkoms is. Dank Hom in stilte vir dit wat jy kan gee.
 
Woord
Matt.14:13-21

  1. Lees die gedeelte biddend en sien jouself in die verhaal. Saam met Jesus op pad na stilte. Beleef hoe die stilte ontwrig word deur die mense. Hoe jy voel. Sien Jesus se liefde vir die mense. Dink biddend na oor jou liefde in vergelyking met Jesus s’n.
  2. Kyk of julle so ‘n paar verskille kan sien tussen Jesus en die dissipels se houding teenoor die skare. Hoe sou jy gevoel het as jy een van Jesus se dissipels was en jy moeg en honger nog so baie mense rondom jou gehad het? (Verse 13-15)
  3. Die kos wat die dissipels by hulle gehad het, was seker net genoeg vir hulle twaalf plus Jesus. Wat sou jy gedoen het as Jesus vir jou gesê het: “Gee julle vir hulle iets om te eet”? (Vers 16)
  4. Wat gebeur as die Vader die dissipels se “min” (maar hulle alles) seën? Glo jy die Here kan dieselfde doen met die min wat jy vir Hom kan gee? Hoe? (Verse 17-21)
  5. Wat wil die Here vanaand vir julle as groep sê oor: i) mense wat jou rus verstoor; ii) julle hulp aan mense in hulle nood, iii) jou offer aan Hom?
  6. Raak nou weer stil en lees weer die gedeelte deur. Hoe verander hierdie woorde jou lewe? Sê dit vir die Here in stilte.

 
Bedien mekaar
Jy kry nou die eerste geleentheid om met jou klein, eenvoudige gebed gehoorsaam te wees aan Jesus. Bedien mekaar nou 3-3 in gebed. Bid dat die Here so in julle behoeftes sal voorsien, dat julle die skares kan voed en Sy kerk altyd genoeg sal hê.
 
Uitsending
Na watter een gesin wat swaarkry gaan julle dissipelgroep hierdie week om gehoorsaam te wees aan Jesus se woorde: “Gee julle vir hulle iets om te eet”?
 
Tiende week in Koninkrykstyd
13 Augustus
Matt. 14:22-33
Waar is die Here in die storm?
Ysbreker
Vertel mekaar van die benoudste oomblik in jou lewe en hoe jy daaruit gekom het.
 
Lof en Aanbidding
Raak nou stil by die Here en fokus op Hom. Sing vir Hom liedere waarmee julle Hom loof en aanbid. Kom dan tot rus by die Here en dink aan Hom die afgelope week in jou lewe. Waar was Hy toe dit “kalm” was in jou lewe? Kan jy dink aan ‘n oomblik of meer toe dit vir jou gevoel het dit is stormagtig? Waar was Hy toe? Het jy enigsins beleef dat Hy “na jou toe kom” in hierdie omstandighede? Praat met Hom daaroor. Herhaal Jesus se woorde driemaal in jou hart: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie”.
 
Woord
Matt.14:22-33

  1. Lees die gedeelte biddend deur en beleef wat die dissipels op die see deurmaak. Dink na oor hoe dit ooreenkom met jou eie lewe. Sien ook hoe Jesus in jou eie lewe na jou toe aangeloop kom, selfs al herken jy Hom nie.
  2. Hoekom is Jesus nie by die dissipels in die skuit nie? Wat leer ons by Hom? (Verse 22-23)
  3. So pas het die dissipels beleef hoedat, as die Vader seën, wonderwerke gebeur. Waarskynlik het hulle nog op hulle bootjie gesit en droom oor die twee vissies en vyf brode wat ‘n hele skare gevoed het. Hulle geloof is so versterk. Maar nou kry hulle weer te doen met hulle eerste storm. Hoe reageer hulle wanneer hulle Jesus in hierdie storm sien? (Verse 24-26)
  4. Hoe stel Hy hulle gerus? (v.27). Het jy al ervaar dat Hy jou so gerusstel?
  5. Sou jy gemaak het soos Petrus in vers 28 en 29? Wat gebeur wanneer hy sien die wind is sterker as hy? (vers 30)
  6. Mens sal sê dit is onmoontlik om naby aan Jesus te wees en dan onder te gaan, en tog gebeur dit met Petrus. Hoekom? In vers 31 sien jy die woordjie “dadelik”. Wat sê dit vir jou?
  7. Het jy al ervaar dat die wind en golwe so verskriklik is, dat jy eerder na hulle kyk as na Jesus? Wat sê die Here vanaand vir julle? Praat in stilte met Hom daaroor. Herhaal die woorde: “U is waarlik die Seun van God” in jou hart.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe en deel die storms in julle lewe wat dreig om julle te laat ondergaan met mekaar. Belowe mekaar om nie uit te praat oor wat julle gehoor het nie en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Watter een mens ken julle wat naby aan Jesus is en nog steeds besig is om onder te gaan? Laat die Heilige Gees julle nou lei en gaan na hom/haar toe, sodat Jesus in en deur jou hom/haar dadelik kan help.
 
Elfde week in Koninkrykstyd
20 Augustus
Matt.15:21-28
‘n Dissipel het Jesus se hart vir mense!
Ysbreker
Waarvoor of vir wie sal jy die moeite doen om eenhonderd myl te loop en hoekom?
 
Lof en Aanbidding
Fokus op die Here wat by julle is, terwyl julle Hom loof en aanbid met liedere. Gee jouself aan Hom. Raak dan stil en dink na oor vreemde maniere waarop jy die afgelope tyd die Here se teenwoordigheid ervaar het, verrassings wat sy nabyheid vir jou ‘n werklikheid gemaak het. Beleef hoe Hy nou in die stilte by jou is en jou aanraak. Bid vir een persoon wat saam met jou by hierdie byeenkoms is.
 
Woord
Matt.15:21-28

  1. Lees die gedeelte met jou hart in stilte deur. Beleef wat hier gebeur. Sien die desperate, smekende vreemde vrou. Hoor die dissipels se reaksie op die vrou wat so pla. Hoe raak Jesus se reaksie jou?
  2. Hoe ver moes Jesus loop om by die Kanaänitiese vrou uit te kom? (Sien ysbreker). Sou jy vir iemand wat nie van jou groep is nie, soveel moeite gedoen het? (Vers 21)
  3. Ken die vrou vir Jesus? (Vers 22)
  4. Wat dink julle van die dissipels se houding teenoor die vrou in vers 23?
  5. Die vrou besef dat geen dokter, sielkundige of enigiemand kan help nie. Sy kan self ook niks doen nie. Daarom smeek sy: “Here help my”. Jesus is haar enigste hoop. Hoekom antwoord Jesus haar dan so snaaks in vers 26?
  6. Waarmee sal die vrou tevrede wees? (vers 27-28)
  7. Wat wil die Here vanaand vir julle as groep sê oor mense wat julle irriteer of hinder en nou voor jou kom staan met die woorde: “Help my… my kind…”?

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Bid nou die Heilige Gees se krag en vrug op mekaar af, sodat julle met die hart van Jesus tussen mense wat Jesus nodig het, kan gaan leef.
 
Uitsending
Vir watter een mens gaan julle as groep hierdie week ‘n honderd myl loop?
 
Twaalfde week in Koninkrykstyd
27 Augustus
Matt.16:13-20
Wie sê julle is Ek?
Ysbreker
As jy graag jouself aan mense wil bekend stel, watter woorde en beskrywing sal jy gebruik?
 
Lof en aanbidding
Fokus nou op die Here in julle midde en sing vir Hom liedere waarmee julle Hom loof en aanbid. Kom dan tot rus en dink aan Hom in die afgelope week in jou lewe. Wie was Hy vir jou? Hoe het Hy Homself aan jou kom gee? Sê vir Hom in jou stilte dankie dat Hy Homself elke minuut van die afgelope week aan jou gegee het. Gee jouself nou aan Hom oor om by hierdie byeenkoms in en deur jou te doen wat Hy graag wil.
 
Woord
Matt.16:13-20

  1. Lees die gedeelte biddend deur en hoor Jesus se stem. Sien hoe Hy na jou kyk wanneer Hy vra: “Wie sê jy, is Ek?” Beantwoord sy vraag in jou hart.
  2. Hoe begin Jesus sy gesprek met sy dissipels? (Verse 13, 14). Wat hoor julle vandag die mense sê van Jesus?
  3. Hoekom dink julle is dit belangrik dat die dissipels persoonlik op die vraag antwoord: “Wie sê julle, is Ek?” (Vers 15)
  4. Hoe antwoord Petrus? Hoe sou jy antwoord? (Vers 16)
  5. Wat bedoel Jesus met die woorde wat ons lees in verse 17-20?
  6. Raak nou stil by die Here en dink na oor: “Wie sê jy, is Ek?” Wie is Jesus vir jou? Praat in stilte met Hom.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar van die mooi dinge waaraan julle Jesus se teenwoordigheid in mekaar raaksien, deel dan julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe gaan hierdie groep in die week wat kom Jesus deel met die mense in die omgewing, selfs hulle wat sê hulle ken Hom?
 
 
Opgestel deur Adriaan Haasbroek, Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net