{ARGIEF}

leesroostermet die fokustekste van die Leesrooster as basis

Derde Week na Epifanie

25 Januarie
Markus 1:14-20
Kom hier, kom saam met My…
Ysbreker
Vir watter een persoon in jou lewe sal jy ruimte maak en jou tyd gee, al is jy ook hoe besig? Hoekom sal jy dit vir hom of haar doen?
Lof en Aanbidding
Ons fokus nou op die Here wanneer ons vir Hom liedere sing waarmee ons Hom loof en aanbid. Daarna kan die groep stil word en vir ’n paar minute rustig net in die Here se teenwoordigheid sit. Sien jouself in die Here se geselskap en die liefde waarmee Hy na jou kyk. Herhaal die woorde “Kom hier, kom saam met My” stadig drie maal in jou hart en gedagtes. Gee jouself dan in stilte aan Hom.
Woord
Mark.1:14-20

  1. Lees die gedeelte met jou hart deur. Sien jouself in die gebeurtenis. Voel die seesand onder jou voete. Sien hoe jy hard besig is met jou dagtaak. Sien ook hoe Jesus langs die see aangestap kom, reguit na jou toe, asof Hy jou lank reeds ken. Hoor sy stem as Hy jou in jou oë kyk sê: Kom hier, kom saam met My… beleef jou reaksie.
  2. Wanneer Jesus begin preek, is die opsomming van die baie kort preek: Alles het nou verander. Hoe raak sy woorde in vers 15 jou?
  3. Wat gebeur wanneer Jesus sy eerste dissipels se pad langs die See van Galilea kruis? (Verse 16-20) Wat beteken hierdie gebeurtenis vir ons?
  4. Wat dink julle was Jesus se aantrekkingskrag, dat gewone vissermanne hulle alles net so los om Hom te volg?
  5. Raak nou weer stil, lees die gedeelte weer deur en dink na oor Jesus se roeping en aantrekkingskrag in jou lewe. Hoe antwoord jy op sy roeping? Hoe verander die Here jou lewe deur hierdie Skrifgedeelte?

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Gesels saam oor wat julle sien as julle roeping. Help mekaar daarmee. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
Uitsending
Gesels nou prakties oor hoe en waar Jesus hierdie groep vanjaar wil gebruik om die nabye Koninkryk meer sigbaar te maak in julle direkte omgewing. Iemand kan dan sluit met die woorde van Psalm 62:6-9.

Vierde Week na Epifanie

1 Februarie
Markus 1:21-28
Wat gaan hier aan?
Ysbreker
Dink ’n bietjie mooi: Wanneer gebruik jy gewoonlik die woorde: “Wat gaan hier aan? 
Lof en aanbidding
Terwyl ons fokus op die Here in ons midde sing ons vir Hom liedere waarmee ons Hom loof en aanbid. Daarna kan die groep tot rus kom en net die Here se teenwoordigheid en rus in stilte geniet. Iemand kan dan die volgende gebed bid, terwyl die res dit in hulle harte saambid: Ek het U lief, my God, en my enigste begeerte is om U lief te hê tot my laaste lewensasem. Ek het U lief, my oneindig lieflike God, en ek sal eerder sterf terwyl ek U liefhet as om te lewe sonder om U lief te hê. Ek het U lief, Here, en die enigste gawe wat ek van U vra is om U ewig lief te hê… My God, as my tong nie meer elke oomblik kan sê dat ek U lief het nie, wil ek hê dat my hart dit so veel keer vir U sê as wat ek asemhaal. (John Vianney)
Woord
Mark.1:21-28

  1. Lees die gedeelte eers in stilte biddend deur. Sien hoe jy saam met Jesus sinagoge toe gaan en hoor hoe Hy die mense leer, die mense se reaksie. Beleef die onderbreking van die man wat Jesus in die rede val. Sien hoe Jesus hom tot rus bring. Wat dink jy oor hierdie gebeurtenis?
  2. Wat doen Jesus op die sabbatdag in Kapernaum? (Verse 21-22)
  3. Wat gebeur “op daardie oomblik” en hoe raak dit die verskillende mense in die sinagoge? (Verse 23-27)
  4. Ons keer terug na die man wat besete was se woorde in vers 24? Wat dink julle het hy in die sinagoge gemaak? Klink sy woorde nie bekend nie?
  5. Raak nou weer stil en lees weer die gedeelte deur. Beleef nou hoe die Here jou deur hierdie gedeelte verander en praat met Hom daaroor.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel mekaar eers van die dinge wat julle in mekaar sien wat vir julle baie beteken, deel julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
Uitsending
Na wie stuur die Here hierdie groep in die week wat voorlê?

Vyfde Week na Epifanie

8 Februarie
Markus 1:29-39
Almal soek U!
Ysbreker
Hoe voel jy daaroor as mense inbreuk maak op jou “me-time”?
Lof en aanbidding
Ons draai nou ’n oomblik “ons gesigte na die hemel”, sien ons Here en sing vir Hom liedere van lof, aanbidding en liefde. Daarna raak die groep stil en iemand lees Psalm 147:1-11 voor terwyl die res biddend luister. In stilte herhaal elkeen drie maal in sy hart die woorde: Die Here genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde…
Woord
Mark.1:29-39

  1. Lees weer die gedeelte met jou hart en beleef die pad wat jy saam met Jesus stap. Sien hoe julle by Simon en Andreas se huis kom, hoe die mense fluister dat Simon se skoonmoeder siek is, hoe Jesus verdwyn en sy uitkom saam met Hom om julle te bedien. Beleef die gevoel wanneer julle dink dis nou julle blaaskans en die mense drom met met al hulle siekes buite saam. Hoe julle Hom die volgende oggend soek en Hom vind waar Hy besig is om te bid. Hoor die woorde: “Almal soek U”.
  2. Hoe lyk Jesus se dag tot laataand? (Verse 29-34) Leer ons iets uit sy dag?
  3. Wat is besonder van sy vroegoggend? (Vers 35) Hoekom dink julle is dit vir Jesus belangrik? Wees nou eerlik: As daar SO baie werk is en iemand sit en bid, is dit nie tydmors nie?
  4. Wanneer Simon en die ander Hom vind waar Hy bid, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.” Wat dink julle hiervan?
  5. Waarvoor het Jesus eintlik gekom? (Vers 38)
  6. Raak nou rustig en lees weer die gedeelte deur. Wat tref jou? Wat verander jou? Praat nou in stilte met die Here daaroor.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar asof julle met Jesus self praat. Bid dan vir mekaar.
Uitsending
Beplan biddend en prakties hoe die Here hierdie groep in die komende week wil gebruik.

Sondag van Verheerliking en die week daarna

15 Februarie
Markus 9:2-9
Dit is my geliefde Seun (Bergtop-ervaring)
Ysbreker
Oor watter groot oomblik in jou lewe kon jy nog nooit uitgepraat raak nie?
Lof en aanbidding
Fokus nou op die Here en sing liedere waarmee julle Hom verheerlik. Beleef die heerlikheid in julle eie harte terwyl julle dit doen. Daarna raak julle stil. In julle harte kan julle die volgende vir die Here sê: “Jesus, U is die geliefde…” (dink nou aan Jesus, aan Wie Hy vir jou is, hoeveel Hy beteken), “Jesus, ek is die geliefde…” (dink nou aan jouself in verhouding met Jesus, ontvang alles wat Hy vir jou wil gee, veral Homself), “Jesus, ons is die geliefdes…” (laat die mense saam met jou in die groep nou in jou hart inkom en dra hulle aan Hom op).
Woord
Mark.9:2-9

  1. Lees nou eers die gedeelte biddend met jou hart deur en beleef die heerlike oomblikke op die berg saam met Jesus. Gee genoeg tyd dat jy dit kan beleef. Dink aan oomblikke in jou lewe toe jy so ’n bergtop-ervaring gehad het.
  2. Wat gebeur hier voor Petrus, Jakobus en Johannes se oë? (Verse 2-4)
  3. Hoe reageer Petrus daarop? (Verse 5,6) Hoe sou jy reageer het?
  4. Die volgende gedeelte begin met die opskrif “Jesus se dood is naby”. Van hierdie oomblik af sou die vraag wie Jesus is, gereeld aan die orde kom. Sy identiteit sal deur mense bevraagteken word en selfs oor gespot word. Hoe word sy ware identiteit bevestig? (Verse 7-9)
  5. Raak nou weer stil by die Here. Lees weer die gedeelte deur. Dink daaroor na dat jy in Christus God se geliefde kind is. Hy het dit reeds by jou doop vir jou gesê. Hy sê dit keer op keer vir jou, by die Nagmaal, in elke erediens, elke keer as jy die Woord oopmaak om dit te lees en as jy stil word om te bid. Wie is jy (jou ware identiteit)?

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel eers met mekaar die dinge wat jy weet van Jesus wat julle in mekaar sien. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
Uitsending
Beplan saam hoe die groep hulle identiteit as geliefdes van God kan leef in hulle omgewing.

Eerste Week in Lydenstyd

22 Februarie
Markus 1:9-15
Die stem uit die hemel
Ysbreker
Wat is die heel mooiste ding wat jy onthou wat iemand al ooit vir jou gesê het?
Lof en aanbidding
Met Lydenstyd sing die kerk gewoonlik meer aanbiddingsliedere waarin Jesus se lyding besing word met groot dankbaarheid en diepte. Die Taizé-liedere is ideaal vir hierdie tyd. Fokus op die Here, sy pad van lyding en loof en aanbid Hom dan met liedere. Raak dan stil en dink aan Jesus. Iemand lees dan die volgende woorde en die res luister biddend: Baie stemme eis ons aandag op. Daar is ’n stem wat sê: “Bewys dat jy ‘n goeie mens is”. ‘n Ander stem sê: “Jy behoort jou te skaam”. Daar is ook ‘n stem wat sê: “Niemand gee eintlik vir jou om nie”, terwyl ‘n ander een laat hoor: “Werk hard om ryk, suksesvol en invloedryk te word”. Maar agter al hierdie lawaaierige stemme is daar ‘n sagte stem wat sê: “Jy is my geliefde, oor jou verheug ek My”. Dit is die een Stem waaraan ons die meeste behoefte het. Dit verg egter ‘n spesiale poging om daardie stem te hoor; dit vra alleen-wees, stilte en vasberadenheid om te hóór.
Dit is wat gebed is: om te luister na die stil stem van die Een wat ons elkeen “My geliefde kind” noem. (Henri Nouwen, 13 Januarie)
Woord
Mark.1:9-15

  1. Lees weer die gedeelte met jou hart in stilte deur en beleef die drie gebeurtenisse. Watter oomblik staan vir jou uit? Praat in stilte met die Here daaroor.
  2. Ons gaan staan eers stil by Jesus se doop. Wat gebeur hierdie oomblik in Jesus se lewe en hoekom is die stem uit die hemel juis nou nodig? (Verse 9-11)
  3. Dan beweeg ons saam met Jesus en die Gees die woestyn in vir 40 dae. Die Matteus-evangelie gee ’n breedvoerige beskrywing van die gebeurtenis. Nou net by Jesus se doop het Hy die stem uit die hemel helder en duidelik gehoor: “Jy is my geliefde Seun”. Nou hoor Hy by die Satan: “As U die Seun van God is…” (bewys dit). Het Jesus enigsins nodig om te bewys dat Hy die Seun van God is? (Verse 12-13)
  4. Hierna beweeg ons saam met Jesus na Galilea, waar Hy sy bediening begin. Hy verkondig die evangelie in twee enkele sinne (verse 14-16). Hoe sou ons die evangelie in ’n neutedop vir mense oordra?
  5. Raak nou weer stil. Dink nou na oor die maniere waarop jy gelei word om te twyfel in jou identiteit as God se geliefde kind. Hoe oorwin jy hierdie twyfel? Herhaal die woorde van die stem uit die hemel: “Ek is God se geliefde kind. Hy verheug Hom oor My”. Dank Hom vir jou doop.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
Uitsending
Hoe gaan ons mekaar in Lydenstyd help om ons identiteit in Christus opnuut te bevestig?

Materiaal opgestel deur Adriaan Haasbroek, NG Gemeente Lambertsbaai a3aanh@telkomsa.net