{ARGIEF}

JANUARIE 2012 RIGLYNE VIR HUISKERKE EN SELGROEPE MET DIE LEESROOSTERTEKSTE AS FOKUS

DERDE WEEK NA EPIFANIE

22 Januarie

1Kor.7:29-31

Met my oog op die wolke

Ysbreker

Watter drome het jy vir jouself en jou gesin vir die toekoms?

 

Lof en Aanbidding

Raak nou eers weer stil. Fokus op die Here in julle midde. Dink aan die afgelope week in jou lewe. Waar was die Here in alles? Dink ook aan die feit dat alles wat jy elke dag beleef “aan die verbygaan” is. Praat met die Here in stilte daaroor. Begin dan om Hom met julle alles te loof en aanbid. Iemand kan die gebed bid, terwyl die res luister en dit saggies saambid: “Here, U is eer en mag waardig. U is lig – daarom sal ek die Lig sien. U is mag – daarom sal ek krag hê vir my werk. U is trou – daarom sal ek bestaan en nie vergaan nie. U is liefde – daarom kan ek liefde gee. U is ewigheid voor my, daarom sal ek nie dwaal nie, maar my pad vind. Ek het U lief, Here God, ek buig voor U, God van liefde” (J.Zink)

 

Woord

1Kor.7:29-31(Lees dit ook in Die Boodskap)

  1. 1.Lees nou weer die 3 verse met jou hart. Kyk na woorde wat vir jou uitstaan. Sien hoe die woorde alreeds ‘n verandering in jou hart en lewe bring. Hoor wat die Here vir jou wil sê en praat in stilte met Hom daaroor.
  2. 2.Wat moet nie ons hele lewe oorheers nie? Hoekom nie?
  3. 3.Waarop moet ons as kinders van God dan fokus? (29a, 31b)
  4. 4.Hoe kan ons mekaar help om nie so vas te groei aan hierdie wêreld dat ons nie meer met ons oog op Jesus se koms lewe nie?
  5. 5.Dink nou in stilte oor die volgende: “Selfs ons as gelowiges lewe asof hierdie wêreld soos ons hom ken nooit verby sal gaan nie”

 

Bedien mekaar

Draai 3-3 na mekaar toe. Neem mekaar se hande. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.

 

Uitreiking

Hoe kan ons as groep hierdie dringende boodskap by ons mense in ons omgewing uitkry, sonder om te klink soos “doemprofete”?

VIERDE WEEK NA EPIFANIE

29 Januarie

1Kor.8:1-13

Hoe jy voel is vir my belangrik!

Ysbreker

Het jy ooit as kind gehoor jy mag sekere goed nie doen nie, want jy moet ‘n voorbeeld stel vir jou jonger boetie of sussie. Hoe het dit jou laat voel?

 

Lof en Aanbidding

Kom tot rus by die Here jou God. Geniet Sy teenwoordigheid in jou en om jou. Dink oor jou liefdesverhouding met God en wat dit vir jou beteken het die afgelope week. Praat met Hom daaroor. Maak vanaand ruimte om so ‘n ekstra lofliedjie wat die kinders graag sing, saam met hulle te sing en aanbid dan die Here saam. Iemand lees die volgende en die ander dink in stilte daaroor: “Ek het besluit dat ek hierdie jaar meer gaan werk daaraan om elke minuut vol te maak met gedagtes aan God, as verlede jaar. Ek het ook besluit om net so oop te wees vir mense en hulle nood as wat ek oop is vir God. Vensters wat na buite en na bo oopstaan. Vensters wat veral oop is na onder waar mense die meeste in nood verkeer” (Frank Laubach)

 

Woord

1Kor.8:1-13

  1. 1.Lees die gedeelte nou in stilte op jou eie met jou hart. Watter woord(e) of sinsnedes raak jou hart aan? Sien reeds hoe die Here deur hierdie woorde jou hele lewe verander en nuutmaak. Praat met Hom
  2. 2.Kan ons regtig sê: “Ek maak soos ek wil en voel vere vir wat ander dink”?
  3. 3.Waarom draai ons as gelowiges se lewe? (vers 3). Wat beteken dit?
  4. 4.Wanneer ons dink: “Mag ek dit … of dat … voor mense wat swak is in die geloof, of voor kinders”, wat leer vers 7 en 9 vir ons? Sou jy graag wou hê iemand moet sondig nadat hy jou as voorbeeld gebruik het?
  5. 5.Wat sê julle van verse 12 en 13? As julle nou ‘n standpunt moet formuleer, hoe sou dit klink?
  6. 6.Praat nou weer in stilte met jou God oor hierdie gedeelte. Dink daaroor dat die Here wat deur Sy Gees in jou lewe, ander se lewe verander.

 

Bedien mekaar

Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle bekommernisse met mekaar en bid vir mekaar.

 

Uitreiking

Dalk ken die groep iemand wat tot ‘n val gekom het a.g.v. die swak voorbeeld van mede-broers of –susters. Hoe gaan die groep die saak regstel?

 

VYFDE WEEK NA EPIFANIE

5 Februarie

1Kor.9:16-23

My medemens se redding is my opoffering werd!

Ysbreker

Watter een persoon wat jy goed ken, sou jy sê, verstaan jou? Hoekom sê jy so?

 

Lof en Aanbidding

Geniet nou weer die Here se teenwoordigheid. Ontspan en dink aan Hom. Sien Hom in jou afgelope week. Praat in stilte met Hom. Sing vir Hom en geniet Sy aanraking. Iemand lees dan Psalm 147:1-11 terwyl die ander dit in hulle harte saambid.

 

Woord

1Kor.9:16-23 (Lees dit ook in Die Boodskap)

  1. 1.Lees die gedeelte met jou hart. Let op spesifieke gedeeltes wat die Here vir jou uitwys. Sien hoe jy verander om vir Hom en ander om jou te lewe. Praat met Hom daaroor
  2. 2.Hoekom verkondig Paulus die evangelie? (Verse 16-17) Hoekom vertel ons vir mense van die Here?
  3. 3.Hoe doen hy dit? (Verse 19, 20a, 22). Wat leer ons hieruit?
  4. 4.Doen Paulus dit ter wille van homself? (Vers 23).
  5. 5.Hoeveel is jy bereid om op te offer ter wille van die redding van mense rondom jou?
  6. 6.Dink nou in stilte na oor hoe anders jou lewe sal lyk as jy nie meer vir jouself lewe nie, maar vir Hom aan Wie jy behoort en vir hulle wat Hom nog moet vind.

 

Bedien mekaar

Bid vanaand eers saam vir julle dorp of omgewing. Vra die Here om ook vir julle deernis te gee vir mense wat “anders is” as julle, sodat julle elkeen met die liefde van die Here self kan benader. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.

 

Uitreiking

Watter mense in julle omgewing het maar nog altyd min aandag van die Kerk gekry? Wat gaan julle daaraan doen. Beplan saam.

 

SESDE WEEK NA EPIFANIE

12 Februarie

2Konings 5:1-14

Die naamlose dogtertjie

Ysbreker

Wat is die ding wat ‘n klein kindjie vir jou gesê of gedoen het, wat jy tot vandag onthou? Vir die kinders: Is daar iets waarvan jy baie hou om vir jou ouers of ander grootmense te doen? Wat is dit?

 

Lof en Aanbidding

Kom tot rus by die Here en geniet net Sy teenwoordigheid. Gee Hom die geleentheid om in en aan jou te doen wat Hy nou graag wil. Beleef die omhelsing van God in hierdie oomblikke. Loof en aanbid nou die Here wat by julle is. Geniet mekaar! Iemand lees Psalm 30 as gebed terwyl die ander dit in hulle harte saambid.

 

Woord

2Kon.5:1-14

  1. 1.Laat iemand wat baie mooi kan lees die verskillende rolle lees. Een lees die verhaal, iemand anders lees die dogtertjie, een die koning, een Naäman, een Elisa, ens. [die leier moet vooraf besluit wie in die groep watter rol kry – probeer soveel as moontlik betrek]
  2. 2.Wat lees ons van Naäman in vers 1? Hoe belangrik was hy en wat was sy probleem?
  3. 3.In die baie belangrike man se lewe speel ‘n Aramese meisietjie (sonder naam en van ‘n ander volk as Naäman!) ‘n rol wat sy hele lewe sou verander. Wat is die rol? (vers 2,3) Sou jy na haar geluister het?
  4. 4.Hoe hanteer die profeet hierdie vername man en hoe reageer Naäman op die behandeling wat hy kry? (verse11-12)
  5. 5.Watter waarheid leer ons in vers 13 vir ons eie lewe?
  6. 6.Die begin van Naäman se nuwe lewe was by die raad van ‘n klein dogtertjie. Watter rol kan jy speel in die lewe van mense rondom jou? Sal dit nie vir jou wonderlik wees as mense jou Here aanvaar as hulle Here, omdat jy die rol gespeel het in hulle lewe nie? Dink na oor hoe die Here jou lewe deur hierdie verhaal verander. Raak nou stil voor die Here en praat met Hom daaroor.

 

Bedien mekaar

Draai nou 3-3 na mekaar toe. Begin nou deur eers julle rolle in mekaar se lewens te speel. Stort julle harte teenoor mekaar uit. Nadat julle mekaar bemoedig het, bedien julle mekaar in gebed.

 

Uitreiking

Hierdie week reik ons uit na iemand na aan ons. Na wie gaan jy hierdie week en wat wil jy graag in sy/haar lewe gaan beteken?

 

SONDAG VAN VERHEERLIKING EN DIE WEEK DAARNA

19 Februarie

2Konings 2:1-12

In die hemel opgeneem!?

Ysbreker

Deel met mekaar ‘n oomblik in jou lewe wat nou nog by jou bly wat so ongelooflik was dat jy self nog sukkel om dit te glo!

 

Lof en Aanbidding

Kom tot rus by die Here. Dink aan Hom wat op hierdie oomblik by jou is en aan Sy betrokkenheid die afgelope week. In jou stilte praat jy met Hom oor die stukkies hemel wat Hy vir jou na jou stukkie aarde toe gebring het. Geniet die rus by Hom. Daarna sing die groep vir die Here liedere om Hom groot te maak. Iemand kan die kort gebed van Thomas A Kempis 2 maal voorlees en die res beaam dit in hulle harte en dink daaroor na: “Ek is u kneg. Ek is tot alles bereid. Ek wil nie vir my lewe nie, maar vir U, sonder voorbehoud, soos dit U waardig is”

 

Woord

2Kon.2:1-12

  1. 1.Lees die gedeelte weer in stilte, asof jy self in die verhaal teenwoordig is. Beleef, terwyl jy lees God se teenwoordigheid en werk in Elia en Elisa se lewe asof dit jou lewe is. Let op een of meer verse wat vir jou uitstaan en “herkou” dit met jou hart. Praat met die Here in stilte daaroor.
  2. 2.Elia se tyd en bediening op aarde is verby, maar sy einde kom nie op gewone wyse soos ander mense s’n nie. Hoe beleef julle dit?
  3. 3.Elisa is op die punt om by Elia oor te neem. Wat lees ons oor die twee profete? (Verse 2-6) Hoe spreek dit jou aan?
  4. 4.Wat wil Elisa graag van Elia “erf” wanneer hy weggaan? En wat is die voorwaardes wat Elia stel? (Verse 7-12)
  5. 5.Wanneer sien ons weer vir Elia? (Mark.9:2-8) En wanneer sien mense weer die Here? (2Kor.3:18)
  6. 6.Dink nou weer in stilte aan jou ontmoeting met die Here en hoe Hy jou deur hierdie een verander (het).

 

Bedien mekaar

Draai 3-3 na mekaar toe. Deel met mekaar julle vreugdes en teleurstellings die afgelope week. Bid dan vir mekaar.

 

Uitreiking

Hoe kan die groep die heerlikheid van ons Here in die omgewing gaan weerspieël?

 

EERSTE WEEK IN LYDENSTYD

26 Februarie

Gen.9:8-17

‘n Verbond met al wat lewe

Ysbreker

Watter voorbereidings sal jy tref as weet daar kom ‘n groot vloed of tsunami in ons rigting?

 

Lof en Aanbidding

Raak nou weer rustig in die Here se teenwoordigheid. Ontspan en haal diep asem, voel die asem in jou as geskenk van God. Dink aan Hom as die God wat oral sigbaar is en dink so ‘n bietjie waar het jy Hom die afgelope tyd gesien of misgekyk. Praat in stilte met Hom. Loof en aanbid dan die Here met liedere. Iemand kan die volgende gebed voorlees en die ander bid dit in die harte saam: “O Wêreldheer, ek sing van U, vir U. Om my staan alles in die bloei, die wêreld is geseënd en vol vreugde. Ek sing vir U! Hoe skitter die dou, hoe jubel die veelkleurige voëls, die kwettersang klink oral op. Almal sing tot eer van U, Skepper-God.” (Ou Meksikaanse gebed)

 

Woord

Gen.9:8-17

  1. 1.Lees weer hierdie aangrypende verhaal in ‘n stil oomblik deur. Lees dit biddend en vra die Here om jou oë oop te maak vir Hom. Hoor as’t ware Sy stem. Dink aan die verbond wat Hy met jou persoonlik en met julle groep gesluit het. Praat met Hom daaroor.
  2. 2.Die Here sluit ‘n verbond met mens en dier. (Verse 8-11). Is dit nie vir jou vreemd nie? Watter verantwoordelikheid plaas hierdie verbond op ons?
  3. 3.Wanneer Hy ‘n verbond sluit, gee Hy ook ‘n teken. Waaraan sal die teken in die toekoms mens en dier laat dink? (Verse 12-17) Kan jy dink aan enige teken wat die Here gee as herinnering aan Sy verbond met jou? Wat gebeur elke keer as jy net die teken sien?
  4. 4.Kyk nou na 1Pet.3:20-21. Gesels oor die God wat end-uit getrou bly aan sy verbond met mens en dier. Hoe verander die wete jou lewe?
  5. 5.Raak nou weer stil voor die Here en dink net aan Hom wat in liefde na jou uitreik en jou hele lewe verander, sodat jy ook Sy verbond op aarde kan leef.

 

Bedien mekaar

Draai 3-3 na mekaar toe en dank eers die Here vir die mooi dinge wat Hy jou mede-bidders gegee het en bid dan vir mekaar se behoeftes.

 

Uitreiking

Hoe kan hierdie groep ‘n verskil maak in die lewe van mens en dier in eie omgewing (op die stukkie aarde waar jy woon)?