{ARGIEF}

met die sleuteltekste van die Leesrooster as basis
Pinksterfees en die week daarna
4 Junie
1Korintiërs 12:3b-13
Die Gemeente… God se geskenk aan ons en ons wêreld
Ysbreker
Kan jy onthou van ‘n keer toe iemand jou ‘n opdrag of taak gegee het wat jy geweet het jy nie kan doen nie? Vertel ons daarvan.
 
Lof en aanbidding
Ons fokus op die Here in ons midde terwyl ons vir Hom lof- en aanbiddingsliedere sing. Daarna kom ons tot rus by Hom en dink aan Hom in ons lewe. Dink eers daaraan dat Hy in liefde by jou is en jou waardeer. Daarna dink jy aan oomblikke die afgelope tyd toe Hy deur jou in iemand anders se lewe iets beteken het. Dank Hom daarvoor. Stel jou nou oop om ook by hierdie byeenkoms deur Hom gebruik te word in jou broers/susters se lewe. Die oomblikke van wees in sy teenwoordigheid kan dan afgesluit word met die gebed: “Hier is U, Here… (stilte waarin jy aan Hom dink), hier is ek, Here… (stilte waarin jy jouself aan Hom gee), hier is ons, Here” (en dan bid jy vir die mense nou saam met jou).
 
Woord
1Kor.12:3b-13

  1. Lees weer die gedeelte in stilte deur. Sien die woorde en sinsnedes wat vir jou uitstaan en herhaal hulle in jou hart. Kyk of jy die drie-enige God se werk in die Gemeente kan raaksien en hoe jy in die prentjie inpas.
  2. Wat is die eerste werk van die Heilige Gees in ons? (Vers 3b) Wat beteken dit?
  3. In verse 4-7 word gepraat van genadegawes, bedieninge en kragtige werkinge. Wie is hier aan die werk?
  4. Wie ontvang hierdie gawes, bedieninge en werkinge? (Verse 8-11) Hoe deel Hy dit uit? (Vers 11)
  5. Met watter beeld word die Gemeente vergelyk? (Verse 12-13)
  6. Kom nou tot rus. Lees die dele wat vir jou uitgestaan het weer oor. Dink aan jou eie plek in die Gemeente. Watter gawes, bedieninge en werkinge lê die Here op jou hart? Hoe verander dit jou lewe?

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Wat kan ons as groep doen om die wêreld bewus te gaan maak dat die Here in sy liggaam (die Gemeente) lewe om ons ou stukkie aarde nuut te maak?
 
Triniteitsondag en die week daarna
11 Junie
Psalm 8
Hoe wonderbaar is U Naam oor die hele aarde
 
Ysbreker
Word jy ooit deur die natuur (skepping) aangespreek? Hoe?
 
Lof en aanbidding
Loof die Here met julle liedere en aanbid Hom. Daarna kom julle tot rus by die Here ons Here. Dink aan Hom. Dink aan oomblikke waarvan jy bewus is dat jy Hom die afgelope week op besondere wyse ontmoet het, dalk in die skepping. Wat het dit aan jou gedoen? Hoor diep in jou hart sy woorde: “Ek dink aan jou”. Dink nou aan die wonder van die skepping, die uitspansel, en tussen al hierdie wonderlike dinge sien Hy jou raak en “dink aan jou”. Praat met Hom daaroor.
 
Woord
Psalm 8

  1. Lees die Psalm as gebed. Sien alles wat beskryf word, en sien jouself in die Psalm. Herhaal woorde wat vir jou uitstaan, deur dit saggies herhalend te fluister.
  2. Hoe begin en eindig hierdie Psalm? (Verse 2, 3a, 10) Waarom is ons op hierdie aarde? [Dink aan Augustinus se woorde: “ Om aan U te dink, roer ons so intens dat ons nie rus voordat ons U loof nie, want U het ons vir U geskep. Ons hart is onrustig in ons totdat dit rus vind in U”]
  3. Waaraan dink Dawid wanneer hy in die aand opkyk na die hemel? (Verse 4-9)
  4. Wat beteken die woorde “wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien” vir julle?
  5. Kom tot rus by die Here. Lees weer die Psalm en beleef hoe die woorde jou eie lewe verander. Praat met die Here daaroor.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar. Vertel mekaar van iets van die grote God wat julle in mekaar raaksien, deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan hierdie groep iets gaan beteken in die skepping?
 
Tweede week in Koninkrykstyd
18 Junie
Genesis 18:1-15; (21:1-7)
Is iets te buitengewoon vir die Here?
Ysbreker
Hoe voel jy gewoonlik wanneer daar onverwags en ongenooid gaste by jou opdaag en aandring op jou gasvryheid?
 
Lof en aanbidding
Ons raak nou stil by die Here ons God. Fokus op Hom. Sing vir Hom liedere uit julle harte. Kom dan tot rus en dink aan Hom by hierdie byeenkoms. Dink oor die verwagting wat jy het van die ontmoeting. Het jy verwag dat die Here gaan opdaag? Wat sou jy graag wou hê moet hy nou vir jou doen? Sê dit vir Hom. Herhaal die woorde: “Is iets te buitengewoon vir die Here?” 3 maal in jou hart. Sluit hierdie oomblik af met die voorlees van Psalm 116:1,2,12-19.
 
Woord
Gen.18:1-15

  1. Lees weer die gedeelte in stilte deur met jou hart, asof jy self in die verhaal is. Beleef die middag-hitte. Sien die prentjie rondom jou, die bome, die drie vreemdelinge, die gasvryheid, die belofte van die onmoontlike.
  2. Die verhaal begin met die woorde: “Die Here het aan Abraham verskyn…” (Vers 1). Wat gebeur met hierdie verskyning? (Verse 1-8)
  3. Wat vra en belowe die mans aan Abraham? (Verse 9-10a)
  4. Hoe reageer Sara, wat die hele gesprek afluister? (Verse 10b-12) Hoe sou julle reageer het?
  5. Wat antwoord die Here vir Abraham? (Verse 13-15). Sou julle in hierdie omstandighede die Here geglo het?
  6. Gesels nou saam oor buitengewone dinge wat Jesus gedoen het waarvan ons lees in die Nuwe Testament
  7. Raak stil by die Here. Dink aan Hom in jou lewe. Aan watter buitengewone dinge wat die drie-enige God in jou lewe gedoen het, kan jy dink? Hoe verander die Here deur hierdie gedeelte jou lewe?

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar asof julle dit vir die Here self sê. Bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Wie in julle omgewing het nodig om te hoor dat die Here ook buitengewone dinge in sy/haar lewe wil doen? Hoe gaan julle help?
 
Derde week in Koninkrykstyd
25 Junie
Genesis 21:8-21
Die Here… in die woestyn
Ysbreker
Vertel ons van ‘n tyd in jou lewe toe jy die ergste dinge denkbaar deurgemaak het en alles toe weer vir jou goed uitgewerk het.
 
Lof en aanbidding
Fokus op die Here in julle midde en sing vir Hom liedere waarmee julle Hom loof en aanbid. Kom dan tot rus by die Here. Dink aan Hom wat nou in liefde na jou kyk. Beweeg saam met Hom deur die afgelope week (tyd) in jou lewe. Wanneer het jy beleef dat Hy besonder naby aan jou was? Was daar ‘n oomblik toe jy gevoel het Hy is ver van jou? Waar was Hy toe? Dank Hom dat Hy ook in jou woestyn-oomblikke naby aan jou is. Iemand lees nou Psalm 86:1-13 terwyl die res dit biddend beaam. Herhaal die woorde: “U liefde vir my is groot” 3 maal in jou hart.
 
Woord
Gen.21:8-21

  1. Lees weer die gedeelte in stilte en beleef dit asof jy self in die verhaal is. Die konflik, die erge lyding in die woestyn, die stem van die Here, sy krag wanneer die mens nie meer krag het nie.
  2. Hoe beleef julle Sara se gesindheid? (Verse 8-10)
  3. Hoe tree God tussenbeide? (Vers 11-13)
  4. Hoe beleef Hagar en Ismael aanvanklik die woestyn? (Verse 14-16)
  5. Hoe gryp God in hierdie woestyn-ervaring in? (Verse 17-21) Hoor veral “God het die kind hoor huil… God het die kind daar waar hy lê, gehoor”
  6. Raak nou stil by die Here. Lees weer die gedeelte saggies deur. Sien die woorde raak wat vir jou uitstaan en herhaal dit deur dit saggies te fluister. Dink na oor jou eie woestyn-tye en hoe jy die Here daar beleef. Laat dit deel word van jou en dink na oor die verandering wat die Here in jou hart bring.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar van die dinge wat julle in mekaar raaksien en waardeer. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Na watter een persoon wat God-verlate voel, kan die groep in die week uitreik? Hoe gaan julle dit doen?
 
Adriaan Haasbroek, Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net