{ARGIEF}

Vir huiskerke en selgroepe met die fokustekste van die Leesrooster as basis

Sewentiende week in Koninkrykstyd
5 Oktober
Matt.21:33-46
Hy het sy seun na hulle toe gestuur
Ysbreker
Hou jy van ’n storie met ’n gelukkige einde of eerder ’n realistiese einde?
Lof en aanbidding
Kom tot rus by die Here en fokus op Hom. Sien in jou stilte hoe Hy met liefde na jou kyk. Dink nou aan iets spesifiek wat die Here jou die afgelope week gegee het en waar jy besonder bewus was van die feit dat Hy Homself aan jou gee. Dank Hom daarvoor. Sing dan lof- en aanbiddings-liedere vir Hom. Iemand lees Psalm 19 terwyl die ander biddend luister. Gee weer kans vir stilte na die lees van die Psalm. Elkeen herhaal die woorde “Mag wat ek sê en wat ek dink, tog vir U aanneemlik wees, Here.”
Woord
Matt.21:33-46

  1. Lees weer die gedeelte eers in stilte met jou hart. Word deel van die gelykenis wat Jesus vertel en beleef dit wat gebeur. Dink in stilte na oor dit wat jy beleef.
  2. Wat gebeur in hierdie gelykenis? (Verse33-39) Wat wil Jesus hiermee vir die mense in die tempel sê?
  3. Wat vra Jesus en hoe antwoord hulle Hom? (Verse 40-41)
  4. Jesus haal die Skrif aan om die gelykenis te verduidelik. Hoe moet ons dit verstaan? Verstaan die priesterhoofde en Fariseërs Hom reg?
  5. Raak nou weer stil en oordink die gedeelte. Hoe verander die Woord jou lewe? Praat in stilte met die Here daaroor.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel eers met mekaar die mooi dinge wat julle in mekaar raaksien, deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
Uitsending
Hoe gaan ons hierdie week in die Here se wingerd werk? Wat is die groep se aksieplan?
Agtiende week in Koninkrykstyd
12 Oktober
Matt.22:1-14
Kan ’n God van liefde?
Ysbreker
Hoe voel jy gewoonlik wanneer jy ’n uitnodiging na ’n troue kry?
Lof en aanbidding
Raak weer stil in jou binneste by die Here. Fokus op jou asemhaling en gebruik ’n gebedswoord om jou malende gedagtes tot rus te bring. Vra die Here nou om jou te lei deur die afgelope week in jou lewe saam met Hom. Wanneer het jy Hom naby aan jou beleef? Wanneer het dit vir jou gevoel jy beweeg weg van Hom af? Waar was Hy in alles wat die week met jou gebeur het? Na die stilte sing julle vir Hom lof- en aanbiddingsliedere. Daarna word die groep weer stil. Iemand lees Psalm 106:1-6 en die res bid dit in hulle harte saam.
Woord
Matt.22:1-14

  1. Lees eers weer die gedeelte in stilte deur en beleef die gelykenis asof jy een van die genooides is. Sien hoe die mense genooi word. Hoe hulle verskillend reageer. Sien hoe jy aansit by die bruilof en die man met die “verkeerde klere” in die deur sien staan.
  2. Hoe, sê Jesus, gaan dit met die koninkryk van die hemel? (Verse1-10)
  3. Hoe moet ons die voorval van die man wat nie bruilofsklere aan het nie verstaan? (Verse 11-14)
  4. Hoe verstaan ons die woorde “geroep” en “uitverkies”? Hoe rym die gedeelte daarmee wat julle weet van die God van liefde?
  5. Raak nou stil my die Here, oordink weer die gelykenis en die boodskap wat Jesus vir jou wil deurgee. Hoe verander dit jou lewe?

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle bekommernisse met mekaar en bid dan vir mekaar.
Uitsending
Hoe gaan ons as groep in die komende week hierdie Woord van die Here in ons omgewing leef?
Negentiende week in Koninkrykstyd
19 Oktober
Matt.22:15-22
Die ontvanger van inkomste
Ysbreker
Met watter hart betaal jy elke maand jou belasting?
Lof en aanbidding
Kom tot rus by die Here. Fokus op Hom in jou lewe die afgelope week. As dit voel jou gedagtes wil dwaal, gebruik jou gebedswoord om saggies terug te keer na jou fokus op Hom. Sien Hom in jou stilte in die week wat verby is. Daar het goeie en minder goeie dinge gebeur. Sien Hom in albei. Sien hoe Hy Homself aan jou gee, so veel as wat Hy kan. Sing dan vir Hom liedere waarmee julle Hom loof en aanbid. Sluit dan die oomblik af deur in stilte te luister terwyl iemand Psalm 99 lees.
Woord
Matt.22:15-22

  1. Lees die gedeelte eers in stilte deur. Let veral op die emosies in jou hart terwyl jy die gedeelte lees. Deel die emosies in stilte met die Here.
  2. Wat dink julle van die Fariseërs se benadering van Jesus. (Vers 15-17)
  3. Hoe antwoord Jesus hulle en wat dink julle van Jesus se antwoord? (Verse 18-22) [Vergelyk Psalm 90:1-5]
  4. Wat dink julle van die stelling: Hoe meer die keiser kry wat hom toekom, hoe minder kry God wat Hom toekom.
  5. Kom nou weer tot rus by die Here. Oordink die gedeelte en sien hoe Jesus se woorde reeds jou lewe verander. Praat met Hom daaroor.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
Uitsending
Hoe kan die groep hierdie week die feit dat ons God regeer, gaan lewe in die omgewing?
Twintigste week in Koninkrykstyd
26 Oktober
Matt.22:34-46
Waarop alles neerkom
Ysbreker
Watter dinge is vir jou die belangrikste in die lewe?
Lof en aanbidding
Kom tot rus by die Here. Dink aan Hom. Bid in stilte die woorde “Hier is ek, Here” en gee aan Hom alles wat in jou gedagtes maal – jouself. Bid dan die woorde “Hier is U, Here” en dink aan Hom wat in liefde na jou kyk en by jou is – dit gaan nou oor Hom. En dan bid jy die woorde “Hier is ons, Here” en dan dra jy een van die groeplede aan die Here op. Sing daarna vir die Here lof- en aanbiddingsliedere.
Woord
Matt.22:34-46

  1. Lees die gedeelte eers in stilte. Hoor Jesus se stem. Dink na oor wat liefde vir God, jou naaste en vir jouself beteken.
  2. Wat dink julle sit agter die Fariseër se vraag aan Jesus? (Verse 34-36)
  3. Hoe anders lyk die lewe in die Koninkryk? (Verse 37-40) Het jy jouself so lief soos God jou het?
  4. Jesus het so graag met sy “vyande” gesels. Hy het ook gekom vir hulle redding. Waarvoor wil Hy hulle oë oopmaak? (Verse 41-46) Wat leer dit vir ons?
  5. Raak nou stil by die Here. Dink weer na oor Jesus se woorde. Hoor sy stem: Het jy my waarlik lief? Hoe lief het jy jouself? Gaan jou naaste baat by die liefde wat jy vir hulle bewys as jy dink daaraan hoe lief jy jouself het?

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel eers mekaar hoe julle mekaar waardeer en wat julle vir mekaar op die geloofsreis beteken. Dra mekaar dan met dankbaarheid aan die Here op. Sê dit wat julle vir mekaar gesê het nou vir die Here.
Uitsending
Hoe kan ons die komende week liefde met ons hele wese vir God, ons naaste en onsself gaan leef?