{ARGIEF}

met die sleuteltekste van die Leesrooster vir Lidmate as basis
Sewentiende week in Koninkrykstyd
1 Oktober
Fil.2:1-13
Jesus, ons enigste Voorbeeld
Ysbreker
Hoe maak mense jou gewoonlik bly? M.a.w. hoe maak hulle jou dag?
 
Lof en Aanbidding
Raak nou weer bewus van die Here wat tussen julle is. Geniet eers in stilte Sy nabyheid. Herhaal die woorde in jou hart: “Here, gee my u gesindheid”, en gaan dan spontaan oor daartoe om Hom te loof en aanbid met sang, Skrifgedeeltes en gebede.
 
Woord
Fil.2:1-13

  1. Lees eers die gedeelte in stilte. Watter woorde staan vir jou uit? Herhaal die woorde in jou hart. Sien hoe die woorde jou lewe verander.
  2. Paulus is in die tronk wanneer hy hierdie brief skryf. Nou vra ‘n mens jouself: “Maar wat kan ‘n mens bly maak as jy in die tronk sit?” Wat sal hom bly maak?
  3. Watter geskenke het die Gemeente alles ontvang om dit moontlik te maak? (vers 1)
  4. Wat veroorsaak gewoonlik verdeeldheid? (vers 3a). Hoe word dit in ‘n Gemeente geopenbaar?
  5. Wat sê vers 3b en 4 vir ons? En Wie is ons voorbeeld? (vers 3-11)
  6. Ons moet word soos Jesus as ons waarlik eensgesind wil wees en mekaar se belange eerste wil stel. Hoe gaan ons dit regkry? (vers 13)

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Neem vanaand mekaar se hande. Sê vir die twee wie se hande jy vashou: “Jy is belangriker as ek”. Deel dan julle behoeftes met mekaar en dra in alle erns mekaar in gebed op aan die Here. Vra Hom ook om Sy gesindheid in julle sigbaar te maak.
 
Uitsending
Na wie toe reik die groep hierdie week uit? Kry net een persoon wat julle graag deel sou wou maak van julle groep. Onderneem om vir hom/haar te bid en spreek met mekaar af wanneer die groep hom/haar gaan besoek.
 
Agtiende Week in Koninkrykstyd
8 Oktober
Fil.3:4b-14
My grootste wens
Ysbreker
Op watter prestasie in jou lewe is jy die trotsste?
 
Lof en Aanbidding
Fokus nou eers op die Here deur in stilte aan Hom wat by julle is, te dink. Dink saam met Hom na oor die afgelope week in jou lewe. Dink aan die geestelike ideale wat jy vir jouself gestel het en of jy vanaand gelukkig is daaroor of teleurgesteld. Praat met Hom daaroor. Sing dan vir Hom liedere en loof Hom met gebede en Skrifgedeeltes.
 
Woord
Fil.3:4b-14

  1. Lees weer die gedeelte biddend. Let op woorde wat vir jou uitstaan en sien hoe jou lewe verander as die woorde deel word van jou hart.
  2. Wat wil Paulus vir ons sê in verse 4b-6? Is daar ‘n oupa of ander familielid in jou lewe wie se geloof jy gebruik om jou “godsdienstige beeld” by mense te versterk (of dalk sommer een van jou “geestelike prestasies”?
  3. Wat dink Paulus van dit waarmee hy eintlik kan spog? (vers 7,8)
  4. Wat is Paulus se grootste wens (vers 8, 10,11) En joune?
  5. Hoekom span Paulus hom in vir iets wat reeds syne is? Hoe en waarvoor span jy jou in? (vers 12-14)
  6. Raak weer stil by die Here. Deel jou geestelike ideale met Hom. Sien hoe jou lewe verander wanneer jy SY ideale vir jou begin uitleef. Dank Hom nou reeds daarvoor.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel ‘n bietjie julle geestelike ideale en behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Na watter persoon gaan julle as groep hierdie week? Hoe gaan die groep hom/haar bemoedig?
 
Negentiende Week in Koninkrykstyd
15 Oktober
Fil.4:1-9
Altyd bly!
Ysbreker
Voltooi gou: “Ek is dankbaar dat ek…
 
Lof en Aanbidding
Kom tot rus by die Here. Dink aan Hom wat met liefde na jou kyk. Sien jou God in jou dag en dink na oor iets wat Hy jou vandag gegee het. Sien ook oomblikke waar jy bewus was daarvan dat Hy Homself aan jou gegee het. Sê vir Hom dankie. Na die oomblikke van stilte sing die groep lofliedere tot eer van die Here.
 
Woord
Fil.4:1-9
(Ons fokus by hierdie byeenkoms op verse 4-7. Die groep is welkom om oor die res te gesels)

  1. Lees eers die gedeelte in stilte. Sien die woorde raak wat vir jou uitstaan en fluister hulle saggies tot hulle afsak in jou hart. Sien hoe hierdie woorde jou lewe verander.
  2. Kan ‘n mens in moeilike omstandighede bly wees? Hoe? (vers 4) Is jy ‘n blye mens?
  3. Wat beteken dit om “inskiklik” te wees? [Kyk na ander vertalings]. Moet jy dit net wees teenoor jou broers en susters? Hoekom moet jy dit wees? (vers 5)
  4. Wat moet jy maak met al jou bekommernisse? (vers 6) Help dit jou om jou te bekommer?
  5. Wat sal dan gebeur? (vers 7). Vertel ons van geleenthede toe jy rus en vrede gekry het nadat jy gebid het.
  6. Raak nou weer stil met die Bybel in jou hand en lees weer die verse biddend. Sien reeds hoe anders jou dag môre gaan lyk wanneer die woorde wat jy lees, werklikheid word in jou lewe. Dank die Here daarvoor.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar wat die uitstaande mooi kenmerk is wat julle in mekaar sien. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Iemand wat julle ken het op hierdie oomblik julle blydskap, inskiklikheid en gebed nodig. Na wie reik die groep hierdie week uit?
 
Twintigste Week in Koninkrykstyd
22 Oktober
Matt.22:15-22
Gee aan God wat aan God behoort…
Ysbreker
Wat val die maklikste op jou oor: Wees eerlik met jou belasting, of gee die volle tiende vir die Here?
 
Lof en Aanbidding
Kom nou weer by die Here tot rus. Fokus net op Hom. Ontspan. Haal diep asem en sien jouself in die Here se geselskap. Deel die eerste ding wat nou in jou gedagtes opkom met Hom. Sê in stilte drie maal na mekaar “Dankie, dankie, dankie”. Gee julleself aan die Here in julle lof en aanbidding.
 
Woord
Matt.22:15-22

  1. Lees weer die gedeelte in stilte. Beleef Jesus en die Fariseërs se volgelinge se gesprek asof jy dit self hoor. Dink na oor hoe jy voel oor “belasting” en oor jou offer aan die Here jou God. Praat in stilte met Hom daaroor.
  2. Wat gebeur in verse 15-18. Wat is die mense se motief met die vraag? Ken julle sulke “strikvrae”?
  3. Hoe antwoord Jesus hulle op die vraag? (Verse 18-21) Van watter deel van die antwoord hou julle en watter deel nie, of hou hulle dalk geheel en al nie van die antwoord nie?
  4. As jy aan God gee wat aan God behoort, wat behoort jy te gee? (Vgl.Rom.12:1)
  5. Raak nou weer stil voor die Here. Dink na oor alles wat Hy van jou vra. Sê vir Hom of dit vir jou maklik of moeilik is. Dink na oor alles (insluitend sy enigste Seun) wat Hy vir jou gee.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan ons hierdie “ongewilde” boodskap in liefde by ons Gemeente uitbring, sonder om te argumenteer?
 
Een-en-twintigste Week in Koninkrykstyd
29 Oktober
Matt.22:34-46
Waarop alles neerkom
Ysbreker
Watter dinge is vir jou die belangrikste in die lewe?
 
Lof en aanbidding
Kom tot rus by die Here. Dink aan Hom. Bid in stilte die woorde “Hier is ek, Here” en gee aan Hom alles wat in jou gedagtes maal – jouself. Bid dan die woorde “Hier is U, Here” en dink aan Hom wat in liefde na jou kyk en by jou is – dit gaan nou oor Hom. En dan bid jy die woorde “Hier is ons, Here” en dan dra jy een van die groeplede aan die Here op. Sing daarna vir die Here lof- en aanbiddingsliedere.
 
Woord
Matt.22:34-46

  1. Lees die gedeelte eers in stilte. Hoor Jesus se stem. Dink na oor wat liefde vir God, jou naaste en vir jouself beteken.
  2. Wat dink julle sit agter die Fariseër se vraag aan Jesus? (Verse 34-36)
  3. Hoe anders lyk die lewe in die Koninkryk? (Verse 37-40) Het jy jouself so lief soos God jou het?
  4. Jesus het so graag met sy “vyande” gesels. Hy het ook gekom vir hulle redding. Waarvoor wil Hy hulle oë oopmaak? (Verse 41-46) Wat leer dit vir ons?
  5. Raak nou stil by die Here. Dink weer na oor Jesus se woorde. Hoor sy stem: Het jy my waarlik lief? Hoe lief het jy jouself? Gaan jou naaste baat by die liefde wat jy vir hulle bewys as jy dink daaraan hoe lief jy jouself het?

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel eers mekaar hoe julle mekaar waardeer en wat julle vir mekaar op die geloofsreis beteken. Dra mekaar dan met dankbaarheid aan die Here op. Sê dit wat julle vir mekaar gesê het nou vir die Here.
 
Uitsending
Hoe kan ons die komende week liefde met ons hele wese vir God, ons naaste en onsself gaan leef?