{ARGIEF}

leesroostermet die sleuteltekste van die Leesrooster as basis

Sestiende week in Koninkrykstyd
4 September
Lukas 14:25-33
Bereken eers wat dit jou gaan kos…
Ysbreker
Kyk jy gewoonlik of jy iets kan bekostig of koop jy net omdat jy graag dit wil hê?
 
Lof en Aanbidding
Ons sing vir die Here liedere waarmee ons Hom loof en aanbid. Daarna raak ons stil in die Here se teenwoordigheid. Dink aan Hom, aan sy pad met jou die afgelope week. Sien die oomblikke toe dit vir jou gevoel het Hy is werklik naby. Praat in stilte met Hom. Iemand kan Psalm 139:1-6 lees terwyl die ander met biddende harte luister. Herhaal die woorde: “U omsluit my van alle kante, U neem my in besit” saggies in jou hart tot jy dit beleef.
 
Woord
Luk.14:25-33

  1. Lees nou weer die gedeelte in stilte. Beleef die gedeelte asof jy een van die groot menigte is wat saam met Jesus reis en nou na Hom luister. Dink daaraan of jy enigiets moes opoffer ter wille daarvan om Jesus te volg. Praat in stilte met die Here daaroor.
  2. Hoe vergelyk jou dissipelskap daarmee wat jy lees in verse 25-27?
  3. Wat leer Jesus ons oor die berekening van die koste om Hom te volg? (Verse 28-32)
  4. Wat dink julle bedoel Jesus wanneer Hy sê dat jy Hom nie kan volg as jy nie van al jou besittings afstand doen nie? (Vers 33)
  5. Dink nou oor die vraag: Hoekom is jy Jesus se dissipel? (Vgl.Joh.6:66-67) Dink na oor alles wat jy by hierdie byeenkoms gehoor het en sien hoe anders jou lewe hierna gaan lyk.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Gesels saam oor wat dit vir julle beteken om Jesus te volg. Bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Wat kan julle as groep doen om weer die dissipels rondom julle te lei tot volgelingskap wat alles prysgee ter wille van Jesus?
 
Sewentiende week in Koninkrykstyd
11 September
1Tim.1:12-17
Teenoor Christus Jesus, ons Here, is ek dankbaar…
Ysbreker
As jy “wie jy is” aan iemand moet beskryf in een sinnetjie, hoe sal dit klink?
 
Lof en Aanbidding
Gee die groep nou geleentheid om eers in stilte net aan God te dink. Terwyl hulle aan Hom dink, sê hulle in een woord wat hulle dink, bv. liefde, deernis, vergifnis, ens. Herhaal die woord saggies in jou hart, fluister dit. Daarna sing hulle lof en aanbiddingsliedere terwyl hulle gefokus bly op die Here, nie net in hulle gedagtes nie, maar ook in hulle midde!
 
Woord
1Tim.1:12-17

  1. Lees eers die verse in stilte. As daar woorde vir jou uitstaan, fokus op die woorde en herhaal hulle saggies in jou hart.
  2. In hierdie gedeelte word iets gesê van Paulus se verlede en sy hede. Kyk of julle vir mekaar julle eie storie kan vertel met Paulus se verhaal as riglyn. [konsentreer op wat Jesus van ons gemaak het]
  3. Wat dink julle is die grondslag vir Paulus se redding? (vers 14). Wat is die basis vir elkeen van ons se nuwe lewe?
  4. Die grootste sondaar van almal word die voorbeeld vir almal (vers 16). Gebeur dit as ek ‘n nuwe blaadjie omslaan (self iets doen) of glo en aanvaar dat Jesus in die wêreld gekom het om ook my te verlos?
  5. As jy kyk na jou nuwe lewe, aan wie gee jy dan die eer? (vers 17)
  6. Kom ons pas nou Paulus se woorde op onsself toe. In ons stilte in die Here se teenwoordigheid, sê jy saggies: “Ek is… in Christus Jesus”(voltooi die sin).

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vanaand deel ons ons behoeftes met mekaar. Maar wanneer ons bid gaan ons eers die Here dank vir iets mooi wat ons in mekaar raaksien – dit wat vir ons ‘n voorbeeld is van iemand wat in Jesus glo. Daarna bid ons vir mekaar se behoeftes.
 
Uitsending
Aan wie gaan jy hierdie week die Here wat ons oorlaai met geloof, liefde en genade bekendstel?
 
Agtiende week in Koninkrykstyd
18 September
1Tim.2:1-7
Ons bid
Ysbreker
As jy vanaand hoor jy is die nuwe president van jou land, wat sal jy onmiddellik verander en hoekom? [OF: die nuwe burgemeester van jou stad, dorp]
 
Lof en aanbidding
Die Here is hier. Fokus nou op Hom in stilte. Dink aan al die manier waarop Hy in jou lewe betrokke is. Dink na oor jou ontmoetings met Hom die afgelope week in gebed. Hoe het dit jou lewe verander? Loof en aanbid Hom uit bewonderende harte.
 
Woord
1Tim.2:1-7

  1. Lees nou weer die gedeelte in stilte met jou hart deur. Watter woord(e) tref jou terwyl jy dit weer lees. Herhaal die woorde in jou gedagtes en praat dan in stilte met die Here oor die woorde wat Hy op jou hart lê.
  2. Hoe moet ons bid en vir wie moet daar gebid word? (vers 1, 2)
  3. Ons bid vir ons en vir almal. Watter gevolge hou hierdie gebed in vir ons (vers 2) en almal (vers 4)
  4. Ons lees van die “waarheid” in vers 5 en 6. Kom ons sê vir mekaar in ons eie woorde wat hierdie waarheid is wat almal moet ken.
  5. Raak nou weer stil by die Here en lees weer die gedeelte deur sodat dit jou hele wese vul. Sien hoe die Here deur sy Woord jou verander, jou gebedslewe, jou lewe daar buite.
  6. Iemand kan nou die woorde van Andrew Murray lees in die oomblikke voor ons mekaar bedien in gebed: “Die eerste saak in my binnekamer-gebed is: Ek moet my Vader ontmoet. Die lig wat skyn in die binnekamer moet wees: die lig van die Vader se aangesig. Die vars briesie uit die hemel waarmee Jesus die atmosfeer waarin ek asemhaal en bid vul, is: God se Vader-liefde, God se oneindige Vaderskap”.

 
Bedien mekaar
Deel julle behoeftes met mekaar, bid vir mekaar en julle stad/dorp en vertrou die Here om  die res te doen.
 
Uitsending
Baiekeer is ons self die antwoord op ons gebed. Wat gaan ons as groep doen om ons omgewing ‘n rustige en stil plek te maak waar mense toegewyd en eerbaar lewe?
 
Neëntiende week in Koninkrykstyd
25 September
1Tim.6:6-19
Ryk en arm
Ysbreker
Dit moet darem lekker wees om genoeg geld te hê om enigiets wat jy wil hê te koop. Wat is die eerste wat jy sal koop as jy so baie geld het?
 
Lof en aanbidding
Kom nou eers tot rus by die Here. Dink in stilte aan Hom en aan alles wat Hy die afgelope week in jou lewe voorsien het, ook dit wat jy as vanselfsprekend aanvaar. Gee julleself nou aan die Here met julle lof en aanbidding. Probeer fokus op liedere en teksgedeeltes wat vertel van ons rykdom in Jesus. Iemand kan Psalm 91:14-16 voorlees terwyl die ander in die groep met biddende harte luister.
 
Woord
1Tim.6:6-19

  1. Lees nou weer die gedeelte in stilte met jou hart deur. Watter woord(e) tref jou terwyl jy dit weer lees. Herhaal die woorde in jou gedagtes en praat dan in stilte met die Here oor die woorde wat Hy op jou hart lê.
  2. Voel julle eerlik in julle harte dat dit waar is wat Paulus in verse 6-8 sê? Sê julle dit omdat julle dit glo, of ervaar?
  3. Wat maak geldgierigheid met die mens? (vers 9, 10). [Dit lyk of Paulus dit moes gesien gebeur het, of ten minste gehoor het van mense met wie dit gebeur het – vers 10b]
  4. ‘n Ryk Christen is anders. Hoe? (vers 17,18)
  5. Waarop moet ons fokus? (vers 11,12,19)
  6. Kom nou weer tot rus by die Here en lees weer die gedeelte deur. Dink na hoe die woorde jou lewe en jou gemeente s’n verander. Praat met Hom daaroor.

 
Bedien mekaar
Bid 3-3 vir mekaar dat die Here so in al julle behoeftes sal voorsien dat julle weer kan uitdeel aan hulle wat niks het nie.
 
Uitsending
Die groep ken ten minste een gesin wat byna nooit iets lekkers het om te eet nie. Beplan nou hoe julle bymekaar gaan maak om daardie gesin te gaan voorsien en bedien met liefde.
 
 
Hierdie materiaal is opgestel deur Adriaan Haasbroek by a3aanh@telkomsa.net