{ARGIEF}

Boekbekendstelling tydens Missionale Konferensie

Cultivating missional change: The future of missional churches and missional theology
Coenie Burger, Frederick Marais en Danie Mouton (redakteurs)
Uitgegee deur Bybelkor, Wellington 2017
438 bladsye

Hierdie boek word bekendgestel tydens die etensuur op Maandag 16 Mei by die Missionale Konferensie wat plaasvind by die Fakulteit Teologie, Universiteit van Stellenbosch, aangebied deur Communitas en Ekklesia.
(Lees meer hier: http://communitas.co.za/taakspanne/vbo/konferensies/missionale-konferensie-2/)

Dié knewel van ’n boek is die resultaat van die internasionale missionale konferensie wat op 19-21 Januarie 2015 in Stellenbosch gehou is. Die konferensie het saamgeval met die jaarlikse byeenkoms van die International Consortium for Congregational Studies (ICCS), wat reeds sedert 2003 bestaan.

As jy net die werk van plaaslike kenners wil lees, bevat die boek al genoeg vir jou, want al die voorste stemme op die gebied van missionale kerkwees in Suid-Afrika kom hier aan die woord. Daar is hoofstukke deur Coenie Burger, Nelus Niemandt, Frederick Marais, Jerry Pillay, Danie Mouton en Marius Nel, met gereelde verwysings na die werk van Malan Nel, Jurgens Hendriks, Ian Nell, Stephan Joubert en Jan Nieder-Heitmann.
As jy egter wel wil kyk hoe lyk die sogenaamde “beste praktyke” in kerke van regoor die wêreld is al die groot name hier. Die groot indoena, Patrick Keifert, ander bekendes uit die VSA soos Darrell Guder en Stanley Green van die Mennoniete, kerkleiers uit die Verenigde Koninkryk soos Graham Cray, Nigel Rooms, Mike Harrison en Stuart Burns, uit Duitsland (Michael Herbst), Denemarke (Mogens Mogensen en Hans Raun Iversen) en Nederland (Stefan Paas). En dan is dit nie stowwerige teologie wat hier uitgepak word nie. ’n Mens word bekendgestel aan ware kerkplanters in ’n uiters sekulêre omgewing soos Stefan Paas uit Amsterdam, en die mense wat voorgevat het met die Fresh Expressions-beweging in Engeland. Daar is verwysings na die ondersteuning wat al drie die onlangse aartsbiskoppe van die Church of England, George Carey, Rowan Williams en Justin Welby, aan die nuwe vorme van kerkwees gegee het.
Daar is ’n paar boublokke in die onlangse soeke na ’n missionale kerkwees wat ook in hierdie boek sterk figureer. Een is die werk van Lesslie Newbegin, dan die magistrale werk van ons eie David Bosch onder die veelseggende titel Transforming mission, die talle rigtinggewende publikasies van Patrick Keifert en die keerpuntwerk getiteld Missional church met Darrell Guder as redakteur, wat vanuit die werk van die Gospel and Our Culture Network (GOCN) voortgekom het.
In hierdie boek word al die raakvlakke aangespreek waaroor mense nog onseker was, soos die rol van die Bybelwetenskappe, ekklesiologie, antropologie, die rol van kerkleiding in geloofsonderskeiding, hoe ’n missionale liturgie sou lyk, hoe die teologiese opleiding daar sou moet uitsien om missionale leiers te vorm, en nog vele meer. Jou gemeente hoef nie te sukkel vir jou om hierdie boek op te neem nie. Neem, lees!
(Resensie deur Lambert Jacobs)