{ARGIEF}

Voordrag gelewer by Verantwoordelike Vernuwing 2009

Jy hoef nie perfek te wees of ‘n graad te hê om ‘n batebouer te wees nie. Elkeen van ons het gawes. Elkeen is of kan daarom ‘n batebouer wees. Dit is vir my lekker om vandag voor so ‘n groot klomp (potensiële) batebouers te staan. 

Die hele VV-konferensie word vanjaar geraam in die 40 bates van die Search-Institute: VSA. Ons het elke spreker gevra om daarna te kyk en dit, indien enigsins moontlik, op ‘n manier te betrek by sy/haar praatjie.    

My doel is om kortliks iets oor die legitimiteit van die 40 bates te sê. Ek doen dit, omdat daar waarskynlik ook ‘n klomp van julle hier is, wat soos ek, soms/dikwels skepties staan teenoor stof wat uit Amerika kom. Daarom iets vinnig oor die Search-Institute. Dis ‘n onafhanklike navorsingsinstituut. Hulle het oor meer as 50 jr onder ongeveer 3 miljoen jongmense in ‘n 1000 Noord-Amerikaanse gemeenskappe navorsing gedoen oor kinders se optrede, en wat die invloed van individue, die familie en gemeenskapslewe op hul ontwikkeling is – en hulle resultate gekondenseer tot hierdie 40 bates vir die gesonde ontwikkeling van jong mense/gemeenskappe. Dis die een benadering in Amerika wat die heel meeste gebruik word vir die vestiging en uitbou van bates. Alhoewel dit primêr op die jong mens fokus, het almal bates nodig.

In julle sak is daar ‘n werksboekie. Dit handel oor die 40 bates. 2 hoofkategorieë: 20 eksterne en 20 interne bates. Verder is daar 8 kleiner kategorieë waartussen die 40 bates verdeel word. Die bedoeling van hierdie werksboekie is om enkele praktiese gedagtes oor elke bate deur te gee. Om prikkels te gee oor wat prakties – en daar is baie meer – daaromtrent gedoen kan word. Ek het dit oor tyd in die gesinstydskrif Lig geskryf.

Agter in die werksboekie (pp 12-13) is daar 3 kolomme. 1. Watter bates is in jou gemeenskap teenwoordig? 2. Bates wat jy tydens die konferensie hoor. 3. Wat is die bates wat jy dink jou gemeenskap die nodigste het. Merk dit tydens die konferensie, of as dit beter is, later (indien julle boekies nodig het, kontak my gerus).

En dan op p 14 is daar grafieke oor die krag/impak van die bates. Hoe negatiewe gedrag verminder en positiewe gedrag vermeerder namate die bates uitgebou word. Dit alles dui daarop dat hierdie ‘n deurwinterde benadering is waarna ons gerus kan kyk.

Aan die hand vd 40 bates wil ons tydens hierdie konferensie nie eintlik op probleme fokus nie, maar eerder ‘n “waarderende”/appreciative benadering volg. Ons wil kyk oor watter bates beskik ons – al is dit hoe gering. Bates wat latent teenwoordig is. Of dan in geloofstaal: wat is die gawes wat God vir ons gee om hoop in ons gemeenskappe te herwin?

Ek wil ten slotte die bates op ‘n eenvoudige wyse verduidelik. Ek dink baie gemeentes/gemeenskappe bevind hul huidig wat vele sake rakende gesonde ontwikkeling betref, op ‘n gruispad. Die infrastruktuur is daar, ook die potensiaal, en alles is aan die “hardloop”, maar ons weet dat hierdie pad op plekke baie stamperig kan wees, en natuurlik stowwerig. Ek glo die bates kan ons neem na die spreekwoordelike teerpad waar dinge gladder kan hardloop. Ek is daarvan oortuig dat die bates één van talle instrumente is wat God kan gebruik om ons op die Kruispad te kry. God se pad. Sy weg van nuwe hoop!