{ARGIEF}

In Augustusmaand het was daar die geleentheid om twee VBO-kursusse by te woon.

In die woorde van een van die kursusgangers:
“Ons tyd saam was sielsverrykend, leersaam en inspirerend!”

Lees hier onder hoe die kursusgangers hierdie kursusse ervaar het …

Tydens Sê ja vir jou Roeping in Hartenbos kon deelnemers hul roeping opnuut ontdek.
Kursusgangers het die kursus baie positief beleef:

  • “Dit was goed om weer te herroep waar alles begin het (God se begin met jou te waardeer); dit was goed om ander se verhale te hoor en daarmee te kon identifiseer. Die tyd vir saamgesels in die kleingroepies was kosbaar en daar is vele “hart”-stories gedeel. Ons is bemoedig deur mekaar se verhale. Dit het my gehelp om net weer die besondersheid van ons geroepe wees te waardeer.”
  • “Dit was goed om op verskeie manier redelik laat in my bediening weer bevestiging van ‘n hele klomp goed te kry. Die kursus was verrykend en sinvol om by te woon. Die ander se roepingstories het my ook weer laat dink oor my eie roepingsverhaal.”
  • “Die Roepingsgesprek het weer die ou vergete waarhede van my roeping afgestof en my laat ontspan in die wete dat ek presies is waar God my nou wil hê. Dit het my gehelp om my baie minder te laat manipuleer deur mense se verwagtinge en baie meer te rus in die wete dat God my gebruik soos Hy wil. Dit het my ook ge-energeer om met die regte dinge besig te wees en aan my bevestig dat die koestering van my persoonlike verhouding met Jesus van primêre belang is.”
  • Die herleef en deel van jou eie roepingsverhaal, asook die luister na ander ouens s’n in die kleingroep,was vir my ‘n hoogtepunt. En natuurlik om na Coenie te luister! Baie dankie, vir my was dit ‘n goeie kursus.
  • Ek reageer graag. Die afgelope Roepingskursus het vir my persoonlik geweldig baie beteken. Na meer as 26 jaar in dieselfde gemeente was dit nodig om weer ‘n slag my persoonlike roepingsverhaal te besoek, asook my roeping vir dit waarmee ek besig is en spesifiek na die gemeente waar ek op die oomblik is, te herevalueer en te bevestig. Dit was vir my ‘n groeiervaring. Baie dankie aan Coenie vir sy ervaring en insigte wat hy met ons gedeel het en Communitas wat sulke geleenthede hier in die Suidkaap vir ons moontlik maak.
  • Ek het die kursus as verrykend ervaar.  Aanvanklik was dit moeilik om my roepingsverhaal neer te skryf en oor te vertel, maar omdat die proses op verskillende maniere herhaal het, was dit later nie net makliker nie, maar eintlik ook nogal aangenaam.  Stil-stil het ‘n skuif in my denke gekom: skielik was my destydse roepingsverhaal vir my huidige bediening weer van toepassing en belangrik.  Ek het met my terugkoms in die gemeente daardie verhaal (of grepe daaruit) met verskeie mense en groepe gedeel (ek weet, wow!)  Dr Coenie Burger se insette en aanbiedinge was, soos altyd, uiters goed voorberei en waardevol.
  • Roeping? Ek het nie soos Noag, Abraham of Moses ‘n stem gehoor nie. Was dit, wat ek as roeping ervaar het, eg? Die Roepingskursus in Hartenbos het nie my roeping met ‘n klomp teologie of teorieë (her-)bevestig nie. Nee, dit was die kleingroep-gesprekke wat my roeping weer vars gemaak het. Die groep se stories en hulle interpretasie en evaluering van my storie het my nuwe energie gegee. Dankie vir die geleentheid.

Gedurende die week van 27 Augustus is deelnemers begelei om te kyk na Geloofsformasie.
Een kursusganger gee die volgende terugvoer:
“Ek het die kursus baie geniet, omdat:
• Dit prikkelend was.
• Die inhoud was baie relevant en het my gemotiveer om boeke te koop (as ek kon) en lees, asook om die inhoud nie net te preek nie, maar self te doen. (moet seker altyd self doen wat jy preek!)
• Dit my blootgestel het aan nuwe insigte.
• Die aanbieders was goed voorberei en jy was nooit onseker oor waarheen hulle mik nie.
• Die aanbiedingstyl het baie gehelp om my letterlik wakker te hou, nl. die feit van twee aanbieders wat mekaar afwissel (maar altwee gelyktydig teenwoordig – werk nie as hulle mekaar net aflos en een is altyd weg nie). Mens leer baie uit die “gesprek” tussen die aanbieders wat mekaar aanvul.
• Die groepsgesprekke was goed omdat die aanbieders nie toegelaat het dat die “ou wat alles weet” die gesprekke oorheers nie – gee die gevoel dat jy gehoor word.”
‘n Ander skryf:
Behalwe dat daar in die kursus bepaalde inligting en perspektiewe oorgedra is, was die belangrike vir my dat elke kursusganger opnuut met homself en uiteindelik jou eie gebrekkige perspektief en verstaan gekonfronteer was. Die kursus het my gehelp om weer iets van my eie geloofswerklikheid, vorming, verdieping  en wandel met God te verstaan. Derhalwe sou ek die kursus van harte kan aanbeveel – juis omdat dit ook iets van ‘n geloofsreis inhou. Die twee aanbieders – Coenie en Nico het mekaar ook baie goed aangevul. Terwyl die een die stof “oopgemaak” het, het die ander jou gehelp om te reflekteer en te internaliseer.
Die 2 prentjies wat Nico Simpson (mede-aanbieder) tydens die Geloofsformasie-kursus geteken het, vat eintlik beide kursusse se essensie vas: 

Pic 1:
Ons vergeet soms dat dit in die eerste plek nie gaan oor hoeveel ons doen nie, maar hoeveel Christus vir ons gedoen het. Daarom is ons dikwels so besig om vanuit onsself te probeer gee dat ons onsself afsluit van God se onuitputlike bron van liefde en goedheid. 
 Ontvang
 Pic 2:
Net dalk, is die pad na heiligmaking alleen om Jesus meer en meer lief te hê. Dan raak ons dalk soos Hy. 
 Truely love