{ARGIEF}

PUNTE VIR MYSELF

Laat elkeen punte vir haarself neerskryf.  Stel vooraf ‘n lysie op sodat amal kan sien niemand word voorgetrek nie. 
Elkeen wat oorkrabbetjies aan het, kry 3 punte.
Elkeen wat wit skoene aan het, kry 3 punte.
Elkeen wat Sondagaand in die kerk was, kry 5 punte.
As jy vanoggend ‘n deurmekaar kombuis gelaat het, trek 5 punte af.
As jy ‘n handsak by jou het, trek 2 punte af.
As jy ‘n eie skryfding na die byeenkoms toe gebring het, voeg 5 punte by.
Brei uit op die lys en pas dit by die omstandighede aan.
Die vrou wat uiteindelik die meeste punte het, wen ‘n prys.

OUDERDOMME VAN KLEINKINDERS

Laat elkeen sy kleinkinders of kinders se ouderdomme bymekaar tel.
Gewoonlik dink hulle dat die een wat die meeste het, gaan wen.  Maar kies vooraf ‘n geskikte getal en laat die een wat ooreenstem of naaste daaraan is wen, bv.
Die datum van die wyksbyeenkoms
Dieselfde getal as die ouderdom, van die  kerk, ens.
Gee ‘n klein prysie vir die wenner.

WOL

Stuur  ‘n bol wol en skêr in die ry af en verduidelik dat daar iets gemeet gaan word.  Elkeen knip ‘n stuk af so lank as sy wil, sommige sal dink hul middels word gemeen, ander weer hul nekke.  Vra enkeles wat hul dink dit gaan wees en laat hul dan die persoon langs haar se pols meet.

KONTAKMAAK

‘n Mandjie met toffies  word aangestuur en elke vrou neem drie toffies .  Die vrouens loop dan in die groot groep rond en gesels met ander vrouens (verkieslik onbekendes).  Vrae word aan mekaar gestel.  Jy mag egter nie antwoord met “nee” of ”ja” nie.  Indien dit wel gebeur moet jy ‘n toffie vir die vraesteller gee.  Aan die einde word gekyk wie die meeste toffies het.

BOONTJIESPEL

By die deur ontvang elkeen ‘n gelyke aantal boontjies.  Die opdrag is dan om soveel moontlik boontjies bymekaar te kry deur met soveel persone as moontlik te praat en vrae te stel.  Elke keer wanneer  ‘n persoon “ja”  of “nee” antwoord, moet hy ‘n boontjie afgee.  Na ‘n sekere tyd kom almal bymekaar om vas te stel hoeveel boontjie elkeen het.

OMRUILING VAN NAME

Almal se name word op kleefstrokies geskryf.  Die regte name word op kleefstrokies aan verkeerde persone geplak.  Soek die persoon wie se naam sy het.  Dit is baie effektief, want mense vergeet nie sommer die naam wat so herhaaldelik gesoek is nie.

IDIOME

Laat elkeen vooraf ‘n idioom uit die Bybel soek .  Sy sê dan een woord en kyk wie kan dit voltooi.  Kan ook in spanne verdeel.

MAATSOEK

Stel ‘n lys name wat twee-twee bymekaar pas of egpare uit die Bybel saam,  Gebruik kleefstrokies en skryf ‘n naam op elkeen.  Plak ‘n naam op elkeen soos hulle inkom.  Maats word dan gesoek , sit die res van die byeenkoms bymekaar en probeer mekaar beter leer ken.

Bybelse egpare:

Twee-twee name:

 

Josef                     Maria
Adam                    Eva
Isak                        Rebekka
Akwilla                  Priscilla
Ahasveros           Vasti
Sagaria                 Elisabet

Amram                 Jogebet
Abraham             Sara
Jakob                    Ragel

Eli en Sameul

Moses en Aaron

Jakobus en Johannes

Ananias en Saffira

Dawid en Jonathan

Simson en Delila

 

KENMEKAAR : Kennismaak in die groot groep

ONGELUKSVERSLAG

Elke persoon kry ‘n pen en papier en op ‘n gegewe teken moet , hy met iemand ‘n ongeluk maak. Indien hy in enige iemand vasloop van voor, van agter of van die kant, moet daar ‘n ongeluksverslag met daardie persoon opgestel word.

Die volgende gegewens kan ingewin word deur albei partye betrokke in die ongeluk.

I. Naam

2. Adres

3. Ouderdom

4. Telefoonnommer

5. Kosbaarste besitting wat gegee kan word as skadevergoeding.

6. Iemand in die vertrek wat soveel vir jou omgee dat hy/sy vir jou sal bystaan in die saak. .

Elke persoon moet binne 20 minute vyf sulke verslae voltooi het.

DRAAI-JOU-RUG .

Elke persoon skryf sy naam op ‘n plakker (in groepe waar mense mekaar swak ken). Die plakker word op sy rug geplak.  Elkeen word verder van pen en papier voorsien en wanneer die speletjie begin, moet elke persoon twee dinge doen.  Eerstens moet hy probeer om soveel moontlik name agter op ander se rue te lees en af te skryf.  Tweedens moet hy probeer verhoed dat ander sy naam op sy , rug gelees kry.   Na ‘n vasgestelde tyd word gekyk wie die volledigste lys van almal teenwoordig het.

Indien die groep mekaar goed ken, kan skuiIname, of dierename, of spreuke of enigiets anders in plaas van gewone name gebruik word.   Die wenner moet dan die mense op sy lys kan identifiseer.

AGTER SY RUG PRAAT

Almal word versoek om hulle oë toe te maak, hulle arms te vou en agteruit te loop.  Sodra hulle met iemand anders bots, moet hulle probeer vasstel met wie hulle gebots het. Hulle mag toe oë met mekaar praat en mekaar uitvra, maar mag nie direk mekaar se name vra nie. Die persone mag hulle stemme verander, maar moet die vrae korrek beantwoord.   Daar word gekyk wie die eerste agterkom wie die ander is. Indien hulle mekaar nie kan identifiseer nie, gee hulle oor en kyk dan met wie hulle gepraat het.

DRIE WENKE

Elke persoon in die groep ontvang drie stukkies papier. Op elke stukkie papier word ‘n sin wat met die volgende begin voltooi:

I. Die grootste verleentheid waarin ek was…

2. Die persoon wat ek die meeste bewonder…

3. As ek ‘n miljoen rand gehad het…

Die papiertjies word op ‘n hoop gegooi, en elkeen trek weer drie papiertjies. (Sorg dat niemand sy eie terugkry nie).  Die persone probeer nou vasstel wie se papiertjie hulle het,  deur rond te beweeg en ander te konfronteer. Die persoon wat eerste sy mense opgespoor het, wen. Die bevindinge word dan aan die einde met mekaar gedeel.

WIE IS DIE BELANGRIKE PERSOON?

‘n Aantal belangrike persone se name word op plakkertjies geskrywe, genoeg vir elke persoon wat saamspeel. Op elke deeInemer se rug word nou ‘n plakkertjie geplak.  Die groeplede mag nou enige vrae aan mekaar vra in ‘n poging om vas te stel watter naam op sy rug staan. Die persone wat antwoord mag egter net “ja” of “nee” sê. Die persoon wat eerste reg raai, is die wenner, en die persoon wat laaste reg raai, die verloorder.

SOEK DIE EIENAAR

Wanneer al die persone se name vooraf aan die aanbieder bekend is, maak hy vir elkeen ‘n naambord waarop sy naam geskrywe is. (Dit sal goed wees as u vooraf al die name kan kry).

Terwyl die persone die vertrek inkom, word enige naambord behalwe hulle eie, om hulle nekke gehang. Elke persoon se taak is om al fluisterende navraag te doen tot hy die eienaar van die naambord om sy eie nek opgespoor het.  Let wet, ‘n persoon mag nie na sy eie naambord soek nie, en al sien hy sy naambord raak, mag hy geen aanduiding aan die soeker gee, totdat die persoon hom konfronteer nie.

Nadat die eienaar van die naambord opgespoor is, moet die soeker eers ‘n paar woorde wissel met die eienaar en dan onder die persoon se naam sy eerste indrukke van die persoon neerskrywe, voordat die persoon se naambord aan hom oorhandig word.  Die naambord word vir die hele aand gedra (elkeen sy eie.)

BLOKSPEL

Deel die volgende stuk aan almal teenwoordig uit en werk deur:

Aanwysings:

  • Jou taak is om vyf van die blokkies hier onder in ‘n ry ingevul te kry. Die ry blokkies kan horisontaal, vertikaal of diagonaal wees.
  • Jy mag slegs besonderhede invul wat jy persoonlik verkry het van (en van toepassing is op) persone wat tans in hierdie lokaal is.
  • Die besonderhede moet volledig en korrek wees.
  • Sodra jy daarin slaag om 5 blokkies in ‘n ry te voltooi meld jou aan by die leier. Die een wat eerste daarin slaag kry ‘n besondere prys.
  • Sodra die leier aankondig dat die wedstryd verby is, tel die aantal blokkies wat jy voltooi het. Die een wat die meeste blokkies voltooi het, kwalifiseer ook vir ‘n prys.

(Blaai om vir blokkies.) .

 Ysbreker blokkies

SOEK JOU TWEELING  Elke persoon ontvang ‘n getikte bladsy met die volgende:

 

MYNE

HANDTEKENING VAN TWEELING

1.       Kleur van oë

2.       Stokperdjie

3.       Kleur van hare

4.       Grootte van skoen

5.       Geliefkoosde kleur

6.       Geliefkoosde kossoort

7.       Geliefkoosde sportsoort

8.       Introvert/Ekstrovert

9.       Lief vir lees?

10.   Lief vir gesels?

 

 

 

Elke persoon kry eers geleentheid om die kolom waar sy eie gegewens ter sake is, in te vul.  Daarna word 10 minute gegee sodat iemand gesoek kan word waarin daar iets ooreenstem.  Indien ‘n persoon bv. dieselfde kleur hare het, moet die persoon regoor 3 teken.  Daar moet aan die einde tien verskillende handtekeninge wees.

SPOOK-SPOOK

Persone word gevra om ‘n slaapsak of ‘n kombers saam te bring.  Wanneer hulle die vertrek binnekom, ontvang elke persoon ‘n groot papiersak, ‘n papier, pen en ‘n nommer op ‘n plakker.  Die papiersak word onmiddellik in ‘n masker verander deur gate vir oë, ‘n neus en ‘n mond (dalk ore ook!) te maak.

Die masker word nou oor die gesig getrek en die kombers om die lyf gedraai.  Die plakker word iewers (darem maklik sigbaar en bereikbaar) geplak.  Daar word nou na ander spoke geloop en gevra: Spook-spook, wie is jy?  Die spook mag niks sê nie, maar moet vir die spook wat vra, geleentheid gee om sy nommer te soek en neer te skryf.  Daarna sê die eerste spook – spook-spook, praat met my! Hulle mag hulle stemme kamoefleer en dan kyk of hulle mekaar kan identifiseer.  Indien wel, mag die naam langs die nommer neergeskryf word.

In twintig minute moet elke persoon tien nommers (en as hy kan tien name ook) kry.  Daarna word die maskers en komberse verwyder en gekyk met wie daar gepraat is.

(Erkenning aan Vrystaatse Vrouebediening vir bogenoemde inligting)

Byvoeglike naamwoorde

Vorm groepe van 6 -8. Elke persoon kies ‘n byvoeglike naamwoord wat met dieselfde letter as haar naam begin bv pragtige Patricia, merkwaardige Moira, ens.  Die eerste persoon begin deur haar naam met die byvoeglike naamwoord vooraan te sê.  Tweede persoon sê eerste persoon se naam  en dan haar naam, eerlike Esther, dankbare Doris.  Derde persoon sê 1,2 en dan haar naam bv. Eerlike Esther, dankbare Doris, mooie Maryna – totdat klaarmaak met die eerste persoon wat almal se name herhaal.  Die groep kan mekaar help indien een persoon bietjie sukkel!

Balllontrap

Elkeen neem ballon, blaas op nie groter as twee vuiste. Knoop om jou enkel. Kry vir jou span ‘n opponent(span). Trap nou mekaar se balonne stukkend.  Mag nie jou ballon met jou hande beskerm nie. Kyk wie se ballon nie stukkend getrap is nie.

Peppermentspoeg

Spanne vorm elk ‘n ry agter ‘n  lyn op die vloer. Elke spanlid kry ‘n pepperment.  Span moet kyk wie van hulle span kan die pepperment die verste spoeg. Wenners van elke span kom te staan teen mekaar.  Kyk wie is die spoeg ”queen “.  PRYS

Spinnekopweb

Vorm groepe van 6-8. Gee nou vir elke groep ‘n bol wol.  Een persoon neem bol en gooi dit dan na iemand in die sirkel wat dit vang. Roep haar naam uit as jy die wol vir haar gooi.  Die persoon n awie die wol gegooi word, vang dit, hou die punt vas, antwoord en gooi die bol na iemand anders sodat dit ‘n web vorm.  Elkeen wat die wol vang deel dan een van die volgende met die groep.  Naam, woonplek, werk jy doen, iets wat jou opgewonde maak.   Hou vas die wol en gooi nou die wol vir iemand terwyl jy haar naam uitroep.