{ARGIEF}

APRIL interaksiedeur Lizl Oosthuizen
Met die instap in die kerk het ons dadelik ‘n gevoel van vrolikheid en vakansie ervaar. Almal was vrolik en bont aangetrek met stringe blomme om die nek. Ons het die Bahamas besoek.
In die voorportaal was aanloklike vrugteruikers en elke lidmaat het ‘n papiersambreeltjie met ‘n teksvers aan die steeltjie vasgemaak, ontvang. Binne die kerk het ons gehoor van swaarkry en ellende agter die wit strande van die Bahamas. Ons gebedsonderwerpe was aan die steeltjie van die sambreeltjie vasgebind. Ons het gebid vir die ontsaglike armoede, baie jong moeders, HIV en Vigs, korrupsie en ander haglike omstandige soos ook in
ons eie land bekend.
In die kerk was ‘n waskom met ‘n beker. Dit is die simbool van ons besondere boodskap van dié aand. Dit was destyds die gebruik om gaste se voete te was voor die ete. Die slaaf het die laagsmoontlike pos beklee. Net voor die avondmaal het Jesus se dissipels nog baklei oor wie van hulle die belangrikste was. Jesus het egter voor hulle gekniel en elkeen se voete gewas. Hy het toe reeds geweet dat Petrus Hom sou verloën en Judas Hom
sou verraai. Ook hulle voete het Hy gewas. Kyk ons na hierdie grootse voorbeeld van nederigheid, kan ons ooit dink dat ons darem net so ‘n bietjie beter is as iemand anders?
Ons het die kerk in die gees van nederigheid en afhanklikheid van God verlaat. In die voorportaal het ons weer ‘n stokkie met heerlike vrugte daaraan ontvang. Ons kon die smaak van die Bahamas en die heerlike geur in ons monde kry en dit het ons herinner dat ons voortdurend moet bid vir die vrouens van die Bahamas. Ons bid mos tot die groot Verhoorder van gebede.