Eerste Adventsondag – 29 November 2009

Die Preekstudie van hierdie eerste Sondag van Advent is voorwaar deeglik gedoen. Dit help ons werklik om reg te laat geskied aan hierdie uitdagende en belangrike teks vir ons tyd. Die volgende het my opgeval toe ek die teks asook preekstudie gelees het terwyl ek nagedink het oor die wêreld waarin ons woon.

Ons wêreld smag voorwaar na mense wat met integriteit, reg kan laat geskied. Dikwels hoor ons dan ook die versugting by baie na ‘n leier wat kan kom om vir ons ‘n regverdige wêreld te bewerk. Of die versugting nou is na ‘n figuur uit die verlede – Generaal, generaal… sal jy kom om die boerevolk te kom lei – en of dit Vavi van Cosatu is wat president Zuma oproep om die ekonomie te omvorm sodat daar geregtigheid aan armes kan geskied – die behoefte aan leiers wat reg sal laat geskied en self reg sal doen, maal in baie mense se gedagtes.

Opvallend is die feit dat die Here sy beloftes nakom … op sy tyd. Die belofte in Jeremia 33:14-16 gryp terug op 2 Samuel 7:8-16 en Jeremia 23:5-6. Dit is ‘n belofte wat nie gister of eergister gemaak is nie, maar lank gelede. Hoeveel geduld moes Israel nie gehad het om te wag op die vervulling van hierdie belofte nie? Ons post-moderne samelewing met sy klem op onmiddellike verwesenliking van ideale, sou lankal die Een van die belofte afgeskryf het, sou ons só lank moes wag!

read more