Posts Tagged ‘Gemeentes’

Behoort, Beleef en Bely

Written by Frederick on . Posted in Artikels

Behoort, Beleef en Bely

(Atrikel is onlangs in Beeld gepubliseer)

Ek het grootgeword in ‘n kerk waar die skema oor lidmaatskap werk met drie B’s: Bely, Beleef en Behoort.

Jou geloofsreis begin met Bely.

’n Mens moet die waarhede van die Bybel in stellings of belydenisse kan omsit en dan verstandelik saamstem met die spesifieke manier van bely.  So het Martin Luther se nuwe geloofsreis met 95 stellings op die kerkdeur van Wittenberg weggespring.  Baie lidmate onthou nog hulle “aanneming”, waar hulle voor die hele gemeente belydenis van hulle geloof afgelê het.   Mens verstaan dus hoekom belydenisse vir baie kerke belangrik is.  Ek dink dit is ook hoekom die NG Kerk en die VG Kerk se eenheidsproses vasval oor die kwessie van die Belydenis van Belhar.  Dit is hoekom daar so baie kerke gegroei het uit die protestantse Reformasie.  As ’n kerk die spesifieke manier hoe geloof in stellings geformuleer word kosbaar ag, moet mens verwag dat daar baie verskillende stellings oor geloof gemaak kan word.   En dat daar baie kerke hieruit sal groei.

Die volgende belangrike saak op die geloofsreis is dat lidmate wat hulle geloof bely, hulle geloof sal Beleef.

Die boodskap van kerke is iets soos: “Noudat jy glo soos ons glo, sal ons jou leer om te leef soos ons leef.”  Die fokus is om mense te kry om volgens die verwagtings van ’n spesifieke kerk te leef.  Dit is meestal sulke swart-wit reëls wat duidelik praat oor die verwagtings wat kerkmense met mekaar deel.

Wanneer die bely en beleef in plek is, kom die Behoort agterna.

Noudat jy glo soos ons glo en doen soos ons doen, kan jy lid word en behoort aan ons kerk.   Nou sal ons moeite doen om ook ’n positiewe ervaring te skep van ons kerkwees… met sterk klem op lojaliteit.

Hierdie skema van bely en beleef en behoort is netjies voorspelbaar en het vir lank goed gewerk.  Natuurlik kan mens dit nie heeltemal presies uit die Bybel aflees nie en is daar nie bewyse dat dit in die oorspronklike grondwet van die kerk ingeskryf is nie.

Maar is dit regtig die beste manier van werk?

My indruk is dat daar al meer en meer mense is wat ontuis voel in hierdie skema.    In ’n gesprek met Ron Martoia in Wittenberg het hy my help insien dat die kerk sukkel  om hierdie skema “verkoop” te kry aan hedendaagse mense wat op een of ander manier nie lede van ’n kerk is nie, maar wat tog baie in Jesus van Nasaret of in  geloof belangstel.   Juis die soort mense na wie die einste Jesus van Nasaret sy volgelinge uitgestuur het.

Al meer en meer mense stel heel eerste belang in behoort.

Mense wil aanvaar word net soos hulle is.  Hulle stel belang in wat die kerk die “gemeenskap” van gelowiges noem.  Mense stel belang om die liefde van Jesus van Nasaret in aksie te sien.  Baie predikante en pastore vertel my hulle sien hierdie tendens raak – mense kom na hulle kerke toe en kyk dinge eers uit.  Hulle wil eers sien of hulle aanvaar word.  Hulle grootste behoefte is gemeenskap.  Jesus sou nie te ongemaklik gewees het met hulle benadering nie!  Het het beslis nie bely – en beleef- voorvereistes gestel of ’n klomp stellings wat eers verstaan moes word voorgehou nie.

Ons leef doodgewoon in tye waar mense nie meer die lus of stamina het om die lang bely, beleef en behoort pad te loop nie.  Hulle kla dat hulle met hope inligting oor bely en beleef oorval word – en dat alles bitter min te doen het met die eise van die alledaagse lewe.  Hedendaagse mense stel meer in geestelike vorming as inligting belang.

Vandag se mense wil tuiskom en behoort.

Hulle is op soek na innige verhoudings en ware gemeenskap.  Wanneer hulle dit ontdek, is hulle nogal baie gemaklik om nuut te leer leef saam met daardie gemeenskap.  Hulle hoor ander se stories in egte verhoudings en ontdek dat hulle maar net sulke doodgewone, gebroke mense vol foute is.  Maar hulle ontdek ook dat daar iets anders in die ander se stories is – almal het iets te vertel oor God wat hulle stories begin herskryf het.  Daar is ’n soomlose oorgang van behoort na beleef.

Op hierdie soort geloofsreis breek die punt aan waar mense vrae begin vra oor geloof en God en die sin van alles.  Dan word bely ’n manier waarop hulle hulle reis verstaan en die verandering wat Jesus gebring het, verwoord.  Dit klink vir my na ’n reis van egte geloofsvorming.  
Die uitdaging wat aan ons gestel word, is om die volgorde te verander en te werk met ’n reis van behoort en beleef en bely.  Wanneer ons veilige ruimtes waar mense werklik kan “behoort” skep, is ’n lewe wat meer en meer in die voetspore van Jesus is en ’n vars belydenis van geloof, nie ver agter nie.

Gemeentelike Geloofsvorming: Om te Weet of Om te Leer?

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Sou Green se opvoedkundige filosofie dalk vrugvolle insigte kon lewer vir ‘n teologiese gesprek oor gemeentelike geloofsvorming?  Ek het wel so gedink, en veral aan ‘n paar moontlike stellings vir so ‘n gesprek gedink:

 

  • Die christelike geloof se belydenis dat waarheid ‘n Lewende Persoon is eerder as abstrakte dogma of beginsels sou dalk in die taak van geloofsvorming iets kon leer by Greene van die versoeking om die waarheid te wil beheer d.m.v. abstrakte sekerhede of gerusstellende bekendhede.  En indien dit die geval is, wat is die funksie van dogma en minimum kennis binne die groter prentjie van geloofsvorming as ‘n proses van lering in die ondefinieerbare ruimtes van geloofsonderskeiding?
  • Die christelike geloof se eskatologiese belydenis (wat veral in Adventstyd beklemtoon word) dat ons die weder-koms van die Waarheid verwag, en daarom moet leer wat dit beteken om geduldig in afwagting te leef (wat my laat dink aan Greene se “wide-awakeness”), vra dalk gewoontes en praktyke van gemeentelike geloofsvorming wat juis doelbewus alle gerusstellende gemaksones van sekerhede en bekendhede oorskry (dink maar aan die gelykenis van die tien meisies in Mat 25).  En indien dit die geval is, hoe fokus ons in ons praktyke van gemeentelike geloofsvorming op die veel moeiliker en minder resepmatige taak van geloofsonderskeiding wat nie alleen maklike antwoorde uit die verlede vind nie, maar juis bereid is om die ondefinieerbare ruimtes te ontgin waar verlede, hede en toekoms bymekaar kom in die beweging van die Gees?
  • En wat vra dit alles van gemeentelike leierskap se taak tot geloofsvorming as ons weet die algemene en populere verwagting is juis dat ons sekerhede moet kan verskaf en genoeg moet kan inspeel op mense se behoefte tot bekendhede?  Hoe leer ons die moeiliker weg van geloofsonderskeiding (om te leer) eerder as die makliker resep van geloofsbeginsels (om te weet).  En hoe hou hierdie twee benaderings met mekaar verband sodat die een nie opgeoffer word ter wille van die ander in ‘n valse of-of keuse tussen die twee nie?

 

Nuwe “Kloostergemeenskappe”: Gemeenskappe van Geregtigheid en Vrede

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

In die tweede aanbieding tydens vanjaar se byeenkoms van die American Society of Missiology (sien https://www.communitas.co.za/tussenin/?p=70 vir ‘n oorsig van die eerste aanbieding deur Alan Hirsch) vertel Jonathan Wilson-Hartgrove die verhaal van “The New Monastics: Mission Through Communities of Justice and Peace”. Dit is ‘n verhaal wat ten nouste gekoppel is aan sy persoonlike ervaring van “it is hard to be a christian in America”, en gebaseer op die vrae wat hy begin vra het oor Amerika se militere betrokkenheid in Irak. Dit het daartoe gelei dat hy ‘n lid geword het van die “Iraq Peace Team”, en daarna besef het dat ook ander “euwels” soos verbruikerisme, gierigheid, rassisme, ens. dit baie moeilik maak vir christene in die VSA vandag om hulle christelike oortuigings radikaal uit te leef. Hy vertel hoe hy homself kon begin identifiseer met die stelling, “if this is democracy, we don’t want it; if this is freedom, you can keep it”.

Dit alles het Jonathan begin inspireer om die kloosterbewegings van die vroee Christendom te begin bestudeer, en spesifiek te vra na wat dit vir christene in daardie tye beteken het om as minderheidsgroepe in die samelewing hulle christelike getuienis in die konteks van “Empire” uit te leef. Hy kom tot die konklusie dat die tendens in kloostergemeenskappe om die euwels van die tyd duidelik uit te spel en dit dan teen te staan as ‘n kontra-gemeenskap van gasvryheid relevant is vir vandag se post-christendom era. Die bedoeling van ‘n kloostergemeenskap is nie om ekslusief te wees in die lig van hierdie euwels nie, maar om juis oop, verwelkomende gemeenskappe te wees vir alle mense. Hy verwys na talle voorbeelde van hoe hierdie tendens telkens daarna in die geskiedenis nuwe gestaltes gevind het, en verwys veral na Dietrich Bonhoeffer wat vir die eerste keer die term “new monasticism” gebruik het in die tyd van Nazi-Duitsland.

Jonathan pleit dan vir die oprigting van soortgelyke gemeenskappe vandag as “tekens van die opstanding” in tye waar dit moeilik is om christen te wees. Hy argumenteer vir ‘n “tactics of subversion” (gebaseer op hoe hy Jesus se bediening op aarde verstaan) d.m.v. gasvrye gemeenskappe wat ‘n radikale etiek kontra die kultuur van vandag uitleef. Die oprigting van sulke gemeenskappe is belangrik, want “naming what is wrong is never good enough; you have to give people hope that another world is possible”. Hy dink aan sulke gemeenskappe nie as “nuwe kerke” nie, maar as “laboratoriums vir die institusionele kerk”.  Jonanathan se aanbieding is deurgaans gekleur deur die praktiese voorbeelde van so ‘n gemeenskap waarvan hy self deel is.  Alhoewel daar sekere teologiese vrae is wat ‘n mens in konstruktiewe dialoog met hom sou wou opper (ek doen dit later in ‘n bydrae oor my eie kritiese refleksie op al die ASM aanbiedings), is dit ‘n aangrypende verhaal vanuit ‘n jonger generasie Amerikaanse christene wat duidelike keuses gemaak het in verhouding tot die verbruikeristiese en militaristiese kultuur van hulle konteks.

Pinkstergemeenskappe 7: ‘n Vertrek vol begaafde mense

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

In hierdie laaste van my sewe blog bydraes oor Pinkstergemeenskappe – geinspireer deur Coenie Burger se werk oor gemeentes as bewegings in die kragveld van die Gees, en in teologiese gesprek met Peter Block se boek oor hoe gemeenskappe vorm en transformeer – is die fokus op gawes.  Ek verkies Coenie se voorkeur om te praat van begaafde mense (mense met gawes) eerder as bloot gawes (bl. 191), want dit verhoed ons om saaklik en instrumenteel oor gawes te dink, en dit herinner ons dat dit primer oor mense gaan wat met hulle Gees-gegewe gawes in verhouding met mekaar leef.  ‘n Fokus op begaafde mense verklaar ‘n erns oor die verskil wat God self maak as Hy nie maar bloot ‘n abstraksie, idee, of beginsel is nie, maar waar Hy werklik self teenwoordig en aktief is te midde van die morsigheid en tekortkominge waar gewone mense geloofsonderskeiding en bediening saam met mekaar beliggaam.  Coenie skryf:  “Ons glo dat die Gees nie net mense se gawes en planne in diens wil neem nie, maar dat Hy mense self (met hulle volle wese) wil intrek in die proses van die kerk en die koninkryk.”

Peter Block wys op ons natuurlike gewoonte om maar al te graag te wil fokus op probleme, tekortkominge, en behoeftes in gemeenskappe.  Hy skryf tong in die kies:  “The only cultural practices that focus on gifts are retirement parties and funerals.  We only express gratitude for your gifts when you are on your way out or gone.  If we really want to know what gifts others see in us, we have to wait for our own eulogy, and even then, as the story goes, we will miss it by a few days.” Vanuit teologiese uitgangspunt en die werklikheid van Christelike geloofsgemeenskappe is dit selfs ‘n nog groter aanklag, want dit beteken dat ons ook nie die teenwoordigheid en aktiwiteit van God in mense se lewens ernstig neem nie.  Ons realisme oor gebrekkige situasies en die sondige menslike natuur (wat natuurlik altyd so is) word dan al te maklik ‘n eensydige beklemtoning van wat nie moontlik is vanuit menslike oogpunt nie, sonder dat ons ewe gretig is om die beweging en gawes van die Gees as ‘n ewe groot realiteit in dieselfde situasies in ag te neem.  Dan bestaan die gevaar dat ons realisme bloot ‘n verskansing is van ‘n dieperliggende skaarsheidmentaliteit wat nie meer kan glo dat God ‘n verskil in en deur mense kan maak nie.

Block skryf:  “Instead of problematizing people and work, the conversation that searches for the mystery of our gifts brings the greatest change and results.” Pinkstergemeenskappe, met hul onwrikbare geloof in die misterie en realiteit van die beweging van die Gees waarvan hulle deel geword het, plaas hulle hoop op transformasie wat net in die kragveld van die Gees moontlik is, maar wat juis gebeur daar waar gewone, kwesbare mense met hul tekortkominge en swakhede worstel in alledaagse lewensituasies.

Pinkstergemeenskappe 6: ‘n Vertrek waarin mense leer om na mekaar te luister

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Wanneer gemeentes nie bloot die objekte is van leierskap se passies, belange, en agendas nie, kan ‘n kultuur geskep word van luisterende gemeenskappe waarin daar ‘n openheid is vir mekaar se verskille van opinie, kritiek, en besware.  Dit is wat vir my so treffend is van die vroee Pinkstergemeenskap se Handelinge 6:1-7 episode, want die Handelinge 2:44 beskrywing van die eerste gemeente se “eensgesindheid” was duidelik nie ‘n romantisering van gemeenskap waarin daar nie ‘n openheid is vir “klagtes” en verskil van mening nie.  Luister is die gewoonte wat Pinkstergemeenskappe kultiveer om onderlinge verskille van mening integraal deel te maak van hul geloofsonderskeidingsprosesse.

Peter Block skryf:  “Listening is the action step that replaces defending ourselves.  Listening, understanding at a deeper level than is being expressed, is the action that creates a restorative community… This then is a key role of leadership:  get interested in people’s dissent, their doubts, and find out why this matters so much to them.  Dissent becomes commitment and accountability when we get interested in it without having to fix, explain, or answer it.” Nadat Block aandui dat daar wel “inauthentic forms of dissent” bestaan (hy verwys na “denial, rebellion, and resignation”), suggereer hy ‘n paar vrae wat die potensiaal het om ‘n openheid te skep vir “authentic dissent”:

 

  • What doubts and reservations do you have?
  • What is the no, or refusal, that you keep postponing?
  • What have you said yes to, that you no longer really mean?
  • What is a commitment or decision that you have changed your mind about?

En dan ook twee moeiliker vrae wat met diskresie hanteer moet word:

  • What forgiveness are you withholding?
  • What resentment do you hold that no one knows about?

As ons oor Pinkstervertrekke dink as plekke waar dit oor die onderskeiding van die beweging van die Gees in ons midde gaan (eerder as ons eie voorkeure, hoe sterk ookal), behoort ons nie dalk minder angstig te wees oor onderlinge verskille, en meer gefokus te wees op hoe goed ons werklik na mekaar kan luister nie?  Hoe kan ons dit beter doen?

 

Pinkstergemeenskappe 5: ‘n Vertrek waar ons verantwoordelikheid neem

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Iemand het gister ‘n kort, maar treffende, verhaal vertel van die merkbare verskil in die vertrek toe leiers begin verantwoordelikheid neem (sien https://www.communitas.co.za/index.php/dienste/gemeenteprosesse/314-bewegings-van-die-gees/1250-beweging-van-die-gees-8-die-gees-rig-leiers-op-wat-verantwordelikheid-neem?lang=).  Dit is presies hierna wat Peter Block verwys, in sy nuwe boek Community: The Structure of Belonging, wanneer hy skryf oor hoe belangrike die gesprek oor eienaarskap (“ownership”) vir enige gemeenskapsvorming en -transformasie is.  Aangesien Block nie as teoloog skryf nie, ontbreek die perspektief natuurlik dat God die Eienaar is, en veronderstel eienaarskap by hom ‘n optimisme t.o.v. die mens se konstruktiewe vermoens.  Daarom hou ek meer van die woord verantwoordelikheid as eienaarskap, want daarmee behou ons die teologiese fokus dat gemeentes deel word van ‘n beweging (die beweging van die Gees) wat reeds in volle swang is, nie deur onsself geinisieer word nie, en ook nie aan onsself behoort nie.  Ons deelname staan altyd in die lig van hoe ons onsself verantwoord ten opsigte van dit waarvan ons die voorreg het ontvang het om te kon deel word.  Paulus gebruik dikwels treffende metafore om hierdie aspek te verbeeld, soos bv. dat ons medewerkers (1 Kor. 3 & 2 Kor. 6) en bestuurders (1 Kor. 4) is van dit wat God reeds aan ons toevertrou het.

Block maak egter ‘n baie belangrike punt wanneer hy oor eienaarskap of verantwoordelikheid skryf:  “We have to realize that each time people enter a room, they walk in with ambivalence, wondering whether this is the right place to be.  This is because their default mindset is that someone else owns the room, the meeting, and the purpose that convened the meeting.  Every conventional gathering begins with the unspoken belief that whoever called the meeting has something in mind for us.  We are inundated with the world trying to sell us something, so much so that we cannot imagine that this time will be different.” In die vergadervertrekke van geloofsgemeenskappe is dit daarom uiters belangrik dat leierskap voortdurend ‘n klimaat skep waarin mense vertroue kan vind dat hierdie vertrek en vergadering aan God behoort (eerder as die vooraf bepaalde belange van diegene wat die mag het om die vertrek en vergadering te beheer met hul eie agendas), en dat dit gefokus is op die onderskeiding van wat God in gedagte het rondom wat ookal ter sake is (eerder as ‘n onderworpenheid aan die manipulasie en verkoopstegnieke wat die belange en agendas moet dien van diegene wat mag het in die vertrek).  Dit is wanneer leierskap die vermoee het om so ‘n klimaat te skep dat dit ‘n vertrek kan word waarin mense verantwoordelikheid neem.

Maar wat veral vir my treffend was toe ek gister die verhaal lees waarna ek reg aan die begin verwys, is dat verantwoordelikheid in daardie situasie die teenoorgestelde van blamering beteken, want “blame” is ook Block se teenoorgestelde van “ownership”!  Block skryf oor hoe werklike eienaarskap eers geskep kan word wanneer mense ophou om die blaam vir wat verkeerd is iewers anders te soek.  Block stel ‘n viertal vrae voor wat leierskap sou kon gebruik om die gesprek oor eienaarskap oop te maak en te fasiliteer, maar, skryf hy, “at some later point (nadat iets soos sy vier vrae reeds goed deur gepraat is), the essential question upon which accountability hinges needs to be asked:  What have I done to contribute to the very thing I complain about or want to change?” Ek wil suggereer dat Pinkstergemeenskappe, wat glo dat die Gees teenwoordig en werksaam is in hulle midde om voortdurend nuwe moontlikhede te skep en die toekoms oop te breek, is gemeenskappe in wie se vergadervertrekke die fokus weg skuif van ander blameer vir wat verkeerd is na ‘n klimaat van verantwoordelikheid aanvaar om deel te neem aan die moontlikhede wat die Gees skep.  Dit geld vir gemeentes se interne sake sowel as gemeentes se verhouding tot die lewe van die breer gemeenskap waarvan hulle deel is.

Pinkstergemeenskappe 4: ‘n Vertrek met oop vensters van moontlikhede

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Gemeentes wat beweeg in die kragveld van die Gees is oop vir die inbreking van God se toekoms op enige gegewe oomblik (“God’s promised and preferred future”, soos Pat Keifert dikwels daarna verwys).  Gemeentes is vertrekke met oop vensters waar die Duif verrassend kan invlieg.  Dit is nie iets wat vanuit die vertrek self georkestreer kan word nie.  Dit is altyd die verrassende inisiatief van God self.  Die Christelike pneumatologie ken nie die teleologie van die moderne humanisme se drang tot liniere progressie en ontwikkeling nie.  Pneumatologie is ingebed in die Christelike eskatologie, wat iets heeltemal anders is as teleologie.  Dit is georienteer aan praktyke en gewoontes van geloofsonderskeiding rondom Woord en sakrament, en in verhouding met die ander, eerder as die gekontroleerde middele van strategiese beplanning (alhoewel oomblikke van beplanning belangrik kan wees op gegewe momente binne die groter prentjie van geloofsonderskeiding). 

Peter Block, in sy boek Community: The Structure of Belonging, onderskei tussen “possibility… which lives into the future” en “problem solving… which makes improvements on the past”.  Hy skryf:  “The possibility conversation frees us to be pulled by a new future…  The leadership task is to postpone problem solving and stay focused on possibility until it is spoken with resonance and passion”.  Block meen dit is fataal wanneer ons moontlikhede begin verwar met doelstellinge, voorspellings, en optimisme.  Lg. vorm eintlik niks nie.  Dit sus net ons gewetens dat dinge darem nou ‘n bietjie beter is, en dit lig net die gemoed so effens met die illusie dat ons die toekoms kan beheer.  Block skryf:  “Possibility is not about what we plan to happen, or what we think will happen, or whether things will get better…  Nor is possibility simply a dream.  Dreaming leaves us bystanders or observers of our lives.  Possibility creates something new.  It is a declaration of a future that has the quality of being and aliveness that we choose to live into.”  Teologies sou dit vertaal kon word tot ‘n radikale toespitsing op die nuwe moontlikhede van wat God in ons midde inisieer.

Ek doen tans navorsing in ‘n gemeente wat besluit het om te eksperimenteer rondom gewoontes en praktyke van geloofsonderskeiding as hulle eenvoudig die vraag, “when we bring our gifts and desires, how do we imagine the future God bringing forth among us?”, in hulle midde plaas vir ‘n jaar lange proses van gesprekke met mekaar en in die breer gemeenskap.  Dit is vroeg in die proses alreeds vir my duidelik dat ‘n organiese benadering van geduldig wag op wat God te voorskyn gaan bring rewolusioner is in verhouding tot die tipiese visie-gedrewe benaderings.  Block skryf oor visie:  “Even the creation of a vision is part of the problem-solving mentality.  A vision is something we must wait for to realize and is most often followed by an effort to make it concrete and practical.  Even a vision, which is a more imaginative form of problem solving, needs to be postponed and replaced with possibility.”  Dit voel vir my dat Pinkster ons help verstaan hoekom ons, wanneer ons oor gemeentes dink as bewegings in die kragveld van die Gees, ons meer energie behoort te spandeer aan die kweek van gewoontes en praktyke wat kan lei tot ‘n voortdurende postuur en kultuure van geloofsonderskeiding eerder as die implementering van ‘n instrumentele benadering gebaseer op visie-doelstellings-planne-bronne-oorreding.