Een en twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Die volk van God het tot op hierdie tydstip al herhaaldelik van Hom weggedwaal. Maar die droogte, wat krisisafmetings aangeneem het, laat hulle terugdraai na God. Hulle redeneer dat, as hulle ‘n “nasionale biddag vir reën” sou uitroep, God hulle gebede outomaties sou verhoor en aan hulle reën sou gee.

Almal, groot en klein, het tempel toe gegaan om te bid. In afhanklikheid. Met die nodige eerbied. Hulle voer die “regte” godsdienstige handelinge uit. Hulle vas. Hulle bring offers. Hulle bely hulle skuld. Hulle het immers húl kant gebring, en op grond hiervan moes die Redder in nood darem nou sy kant ook bring! Hy kon nie soos ‘n reisiger net een nag oorbly of soos ‘n verskrikte soldaat weier om te help nie (14:8-9).

Maar God reageer op ‘n vreemde manier. Hy was nie baie ingenome met hulle toenadering nie. In 14:10 staan daar: “Ek, die Here, is hulle nie meer goedgesind nie. Ek sal hulle nou hulle sonde toereken en rekenskap van hulle eis vir hulle oortredings.”

Eintlik klop dit nie met die prentjie van ‘n liefdevolle, vergewende God wat ons het nie. God sê selfs vir Jeremia dat hy nie vir die volk voorspraak mag doen nie (14:11). Oordeel en vergelding was hulle voorland!

Eintlik wil ‘n mens simpatie met die volk hê. Want is dit maar hoe ons ook is nie? Vir tye “vergeet” ons van God, en dan op ‘n dag as ons ‘n krisis ervaar, soek ons skielik weer toenadering tot God, en verwag ons dat Hy onmiddellik moet help. Nood leer immers bid!

read more