Hoekom Kersfees?

Aanvanklik het Christene slegs Sondae as fees gevier. Die Opstandingfees op die eerste dag van die week was die enigste fees. Die geboorte van Christus was vir die vroeë Christene glad nie belangrik nie. Daarna het hulle naas die Sondag ook net Paasfees begin gevier (kruisiging en opstanding). Later het Pinksterfees bygekom. Dit was vir die eerste Christene die belangrikste fees.

Tog het daar deur die jare ʼn behoefte ontstaan om die geboorte van Jesus te herdenk. Konstantyn het ʼn kerk laat bou op die waarskynlikste plek waar Jesus gebore sou wees. So in die jaar 326 NC het hulle die kerk (basiliek) gebou bo op die grot wat oorlewering aangewys het as geboorteplek van Jesus. Dit is dus eers in die vierde eeu NC wanneer gelowiges begin belangstel om Jesus se geboorte te vier. In die agtiende eeu het hulle ʼn ster laat aanbring in die kerk by die geboorteplek om te sê:  Hier is Jesus Christus gebore (Nie, dat hulle ooit regtig geweet het waar dit presies was nie).

1 Is dit die regte tyd om Kersfees te vier? Jesus Birth

Jaartal:
Christene  kon nie op ʼn datum ooreenkom wanneer Christus gebore is nie, want niemand het geweet nie. Matteus vertel dat dit in die dae van Koning Herodes was. Lukas meld dat die bevel tot inskrywing uitgegaan het in die tyd van Keiser Augustus en dat dit gebeur het toe Sirenius goewerneur van Sirië was. (Luk 2:1). Verder word die 15de jaar van die regering van keiser Tiberias en die name van ander ook in berekening gebring. Met hierdie en ʼn paar ander Bybelgegewens kon daar afleidings gemaak word. Clemens Alexandrinus noem 18 November in die jaar 3 VC as geboortedatum,  terwyl Hippolytus wou hê dat dit omstreeks 25 Des in die jaar4 VC gebore is. Niemand kon egter nog ooit  met sekerheid sê nie.

Dag en maand
Selfs hier is daar nie definitiewe gegewens nie. Die Oosterse kerk vier Christus se geboorte (epifanie) op 6 Jan en die Westerse kerk vier dit op 25 Des. Hulle het later ooreengekom om albei datums te vier.

Die waarskynlikste oorsprong van die datum is by Mithras ʼn Persiese songod. Hy was die god van die lig, sterrehemel en reinheid. Dit was ʼn misterie godsdiens, maw net belangrike mense kon daaraan behoort. So dit was vir die hooggeplaastes ʼn baie gewilde godsdiens. Selfs van die konings het dit gebruik.Veral die Romeinse soldate het baie aan die Mithraïsme deelgeneem.  Dit was van omstreeks 70 NC ʼn baie gewilde heidense godsdiens. Teen die agtergrond het die kerk van Rome destyds die besluit ongeveer 330 NC geneem dat hulle teenoor die heidense winterfees, die herdenking van Christus geplaas het.
Daarby was die verskynsel dat die ou Germaanse stamme die winterson ewening as ʼn belangrike oorgang beskou het. Vanaf 25 Des het die son al hoe sterker en helderder geword. Vir die Germane was die son se verheldering na die koue winters van groot betekenis. Die kerk het hierdie gewilde fees oorgeneem en dit gekersten.

So – ter wille van die eenheid en eenvormigheid van Christene wêreldwyd het die kerk besluit om Kersfees 25 Desember te vier.

read more