My kind meet kragte met my – en wen
Iemand anders vertel dat sy as klein kind geweier het om in opdrag van haar ouers vir haar boetie verskoning te vra omdat sy “lelik” was met hom. Sy is aangesê om op ‘n stoel te sit tot sy kans sien om verskoning te vra. Sy het ure op die stoel deurgebring, maar kon nie beweeg word om verskoning te vra nie.
Ouers beland onverhoeds in so ‘n “oorlog” of “magstryd” met weerstandige kinders oor hulle verantwoordelikhede en pligte. Wat ouers moet verstaan is dat hulle nie die stryd kan wen nie. Kinders het al die tyd in die wêreld om die magspel te speel en jou te toets en te beproef. Al raad is om die kind oor te haal tot ‘n ander siening.
1. Fokus op die probleem en nie op jou kind of die stryd nie, want as ma op die kind fokus en hom beskuldig, byvoorbeeld: “Jy is ongehoorsaam/ stout”, verstaan hy dat hy die probleem is. Hy voel dan veronreg en jammer vir homself en nie oor sy ongewenste gedrag nie. Boonop sal die kind ervaar dat sy ouer onbillik teenoor hom is. As sy in ‘n stryd tree met haar kind oor byvoorbeeld optel van speelgoed, kan ‘n volskaalse magstryd ontstaan sonder dat die probleem opgelos word. Dit help die ouer om minder emosioneel te reageer en gee perspektief as sy in haar gedagtes die probleem van haar kind skei en vir haarself sê dat hy nie die probleem is nie. Sy is vir hom lief en hy is pragtig en is nie ‘n slegte mens omdat hy nie die speelgoed optel nie. Die probleem is dat die speelgoed nie opgetel word nie.