Tweede Gedagtes: 1 Sam 17:54-18:5 & 18:10-16

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Sondag 21 Junie 2009
Tweede Sondag in Koninkrykstyd

Ek het Danie van Zyl se preekstudie oor die teks van die week met instemming gelees. Dit gaan hierdie week oor die verhaal van Dawid se opgang (verlede week het ons gekyk na sy salwing – 1 Sam 15:34-16:13) wat fokus op sy oorwinnings, eers oor Goliat die reus, later as leërhoof, die indruk wat hy op Saul se familie gemaak het, oa sy vriendskap met Jonatan en sy opgang as geliefde leier in die oë van die volk. Danie dink tereg dat 1 Sam 18:12,14 belangrik is omdat dit die klem laat val op die feit dat Dawid se opgang ‘n beskikking van God self was. Die klem val daarom op die feit dat God in krisistye – in hierdie geval die oormag van die Filistyne, soos veral gesimboliseer in Goliat en ‘n koning wat nie meer altyd toepaslik optree nie – ingryp. Die kernvraag wat die teks stel is: Hoe en waar is God betrokke in krisistye? Danie stel voor ons moet vrae vra oor God se teenwoordigheid en waar God besig is in die wêreld?

Ek het met hierdie vrae gaan kyk na die ander tekste wat ons met ons saamdra as ons volgende Sondag na ‘n preek hieroor gaan luister. Dit is tekste oor ekonomiese resessie en die inpak daarvan op ons almal. Die subteks is eintlik, wanneer gaan hierdie nagmerrie verby wees sodat ons almal met ons gerieflike lewe kan voortgaan – sal dit nog ‘n jaar of meer wees – maar ongelukkig gaan huispryse eers oor drie jaar weer klim! Ai tog! Oor die tragedie van die vliegramp en die gespook om uit te vind wat  fout gegaan het. Sport is hoog op die lys met die Wêreldbeker 20/20 krieket toernooi in Engeland – hoop maar dit gaan nog so goed met ons teen volgende Sondag; en natuurlik die FIFA Konfederasie-beker wat vir die eerste keer in Afrika gespeel word. Politieke partye hou aan om in die nadraai van die verkiesing mekaar sleg te sê; die SABC is sonder ‘n raad nadat nog meer raadslede bedank het en minister Barbara Hogan is weer in die moeilikheid omdat sy uitlatings gemaak het wat in stryd is met die beleid van die ANC se Polokwane-uitsprake. Dan woed die taaldebat onverpoos voort op die Matiekampus en dreig die krisis om te verdiep.

Hoe is God in hierdie wêreld teenwoordig? Kyk ‘n mense na wat in die media gepubliseer is die afgelope week, word die vraag oor God nie net in die kerk gevra nie, maar ook in die media. Die vraag wat hier gevra word lyk dit my is nie óf God teenwoordig is nie, óók nie in die eerste plek wat God doen nie, maar wie is hierdie God? Time van 15 Junie, het ‘n wydlopende artikel van Robert Wright Decoding God’s Moods waarin hy na die Christendom, Judaïsme en Islam se geskrifte gaan kyk om vas te stel of daar harmonie tussen die Godsdienste moontlik is. Hy is hoopvol want hy sien patrone van inklusiwiteit. 

 Lees gerus by http://www.time.com/time/magazine/article/0,9171,1902851,00.html meer hieroor. Terloops die artikel is gebaseer op sy boek The Evolution of God. Die artikel het my nie soseer beïndruk nie, maar meer die feit dat Time deesdae meer gereeld artikels dra met Godsdienstige tema’s en meer spesifiek oor God self. Die wêreld waarin ons preek is ‘n wêreld waarin daar baie oor God gewonder word, dit is nou as Time se redakteur dit reg het met die lees van die globale tydsgees.

Vir die afgelope twee weke is daar ‘n gesprek in die By van 6 Junie oor Willie Esterhuyse se boek God en die Gode van die Egipte. Ek beperk my kommentaar oor wat daar oor God gesê word in die kommentaar. Deon Thom het vorige week ‘n paar kritiese opmerkings gemaak oor die boek en die uitdagings aan die tradisionele christelike aannames. Uit Stellenbosch reageer  ‘n skrywer dat hulle Esterhuyse nie verstaan nie. Vir die skrywer is die uniekheid van Christus nie oorspronklik nie, maar die laaste in ‘n reeks van “dying and rising gods”, die NT is eintlik die evangelie volgens Paulus en dat die OT  ook nie oorspronklik is nie, maar ge-predateer kan word  in die Egiptiese hiërogliewe en Sumeriese tablette. Die briefskrywer is duidelik van oordeel dat min of meer niks van die tradisionele aannames van die Christelike geloof staan nie. Almero Cloete skryf ook in By van 13 Junie ‘n ope brief aan Willie Esterhuyse en Deon Thom – saam met wie hy in die laat sestiger jare sendeling in die Transkei was. Hy vertel van ‘n lewensreis waarin hy soekend was en gepoog het om vas te hou aan die tradisionele waarhede van die christelike geloof, maar terselfdertyd bewus geword het van stemme uit die wetenskap wat hierdie waarhede uitdaag. Daar is min twyfel dat hierdie debat uitdagings aan die tradisionele christelike geloof gaan stel wat nie maar net geïgnoreer kan word nie. As ons die voorreg het om oor hierdie teks te preek, sal ons moet onthou ons preek lank nie meer vir mense wat alles on-krities sluk wat die tradisie voorskryf nie. Of ons daarvan hou of nie, die vrae gaan gevra word en ons kan gerus ‘n veer uit die hoed van Almero Cloete haal as ons deelneem aan die gesprek. Hekwagters is geneig om nie goeie luisteraars te wees nie en sal geneig wees om die geleentheid te mis, naamlik dat ons in ‘n tyd is waar mense graag oor God praat, hoewel nie noodwendig soos wat die tradisionele kerk graag daaroor sal wil praat nie.

Die vraag wat ons teks van die week aan dié debat vra is eenvoudig: Onthou ons nog in dit alles dat God ingryp in krisisse, dat daar oor die God van die Bybel vertel word dat Hy ‘n besondere aanvoeling het vir wanneer dinge uitmekaar begin val en dan daadwerklik ingryp, in hierdie geval deur ‘n jong onwaarskynlike leier op te rig. Dat die ingrype van God dikwels, soos hier, uit onverwagse oorde kom en nie noodwendig uit die koningshuise nie.

‘n Interessante, op die oog af skynbaar onverwante, gesprek het in By ontstaan rondom ‘n artikel van Naas Ferreira: Heilige ‘vuil’ seks. (By 6 Junie) ‘n Gewaagde titel om die minste te sê, ek vermoed min van ons gaan melding hiervan maak op die kansel! Verrassend is die positiewe kommentaar van ‘n aantal sms-skrywers – die een ‘n sielkundige wat Naas prys vir sy insigte en dan ‘n brief van Albertus Louw van George (dankie Albertus) waarin hy tereg daarop wys dat seksuele intimiteit ook bedink en beredeneer moet word vanuit die perspektief dat seksualiteit ‘n God-gewensde gawe en realiteit is. Hy vra of ons nie ‘n nuwe “Love Life Campaing” nodig het wat nie begin by veilige seks nie. Albertus som dit so op:“Groter klem op die selfloosheid en goddelikheid van seks is na my mening die enigste hoop vir ‘n seksverslaafde wêreld.” Naas Ferreira en Albertus Louw waag dit om vrae oor God in gesprek te bring met publieke sake soos ‘n seksverslaafde Westerse wêreld, ons behoort hulle voorbeelde te volg. 

Anton Harber vra ook in ‘n artikel in die By van 13 Junie wat het geword van brawe joernaliste? Hy vra die volgende vraag aan joernaliste wat nie daarin kon slaag om voor of nou in die finansiële krisis kritiese joernalistiek te bedryf nie: Het ons soos papegaaie alles onkrities nagepraat wat deur die makro-owerhede, reguleerders en sogenaamde kenners gesê is- waarvan baie geblyk het totale bog te wees? So kan ek maar vir myself en almal wat dit waag om te preek vra:  Het ons as predikers soos papegaaie alles onkrities nagepraat wat ons weet ons gemeente wil hoor en wat die owerhede en reguleerders en sogenaamde kenners nie gaan ontstem nie, of kan ons dit nog waag om regtig die vrae oor God te vra soos wat hierdie teks ons aanmoedig? Kan ons oor God vra as die angs van die finansiële krisis styg en ons almal net wil hoor wanneer en hoe gou gaan dit oor wees- vra hoe is God in dit alles en wat wil God vir ons hierin sê?

Ek– of watter prediker- het nie die antwoord(e) nie, maar ek weet as ons met die vraag oor God besig bly, sal ons die antwoord(e) ontvang wat ons nou nodig het. Die vraag is of ons braaf genoeg gaan wees om die Gods-vrae te vra! Of dalk, Danie, om vir ‘n slag die finansiële, politieke, morele en geestelike krisisse waarin ons ons bevind in te nooi in ons geestelike ruimte, om in eerlikheid daaroor te praat en dan maar eenvoudig die verhaal te vertel oor die God wat ingryp as ons angs het oor die reuse wat ons bedryg. ‘n God wat beskik as dinge uit mekaar begin val… van ‘n jong seun… van ‘n reus… van ‘n wankelrige koning… van ‘n God wat ingegryp het! Ek het die vermoede dit gaan genoeg wees vir hierdie keer.

Frederick Marais

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere Preeksketse in Leesrooster-agief

Trackback from your site.

Leave a comment