Tweede Gedagtes: Eks 20:1-17

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Sondag 15 Maart 2009

Ek sou oorweeg om, in die lig van Eksodus 20:1-7 en die preekstudie, ‘n lyn te volg wat sterker aansluit by die feit dat ons in die lydenstyd staan.  Eksodus 20:1-7 is ‘n oproep om die Here alleen as God te vertrou en te dien; om Hom te aanbid “deur die Gees en in waarheid” (Johannes 4:24) en nie soos ons Hom graag sou wou uitbeeld nie; en om sy Naam aan te roep in lof, aanbidding en voorbidding en dit nie te misbruik nie.  Dit gaan hier nie net om die eksklusiewe aanspraak dat die Here alleen God is nie, maar ook om die vrae: “Wie (of hoe) is hierdie Here werklik?” en “Hoe word hierdie Here aanbid en gedien?”

Ons moet insien dat die stryd oor hierdie tipe vrae in die geskiedenis nie alleen tot wonderlike nadenke gelei het nie, maar ook tot verskriklike ellende.  Dit is immers nie vrae waaroor mense rustig kan verskil nie – behalwe as die antwoorde vir hulle eintlike relatief onbelangrik is.  Die “godsdienstige toleransie” waarop die moderne mense hulleself beroem, het weinig te maak met egte liefde vir mense wat anders dink oor God; dit het meestal veel meer daarmee te make dat denke oor God skadeloos en irrelevant geword het vir die meeste mense.  Watter God jy dien, hoe jy oor daardie God dink, hoe jy God aanbid – dit alles het volgens die dominante denkwyse van moderniteit ‘n kwessie van blote opinie en keuse geword. 

Slegs een moontlikheid word nie verdra nie, in elk geval nie in die moderne Weste nie – en dit is dat mense hulle geloof in God, siening van God en aanbidding van God só ernstig opneem dat hulle bereid sou wees om tot die dood toe te stry daarvoor.  Westerse liberalisme is merkwaardig intolerant teenoor mense wat die vraag na God werklik weer in die brandende middelpunt van die lewe stel.  Daarom kyk ons met onbegrip na alles wat as “fundamentalisme” bestempel word (‘n begrip wat dikwels slordig gebruik word om enige iemand wat geloof werklik ernstig opneem, te beskryf) en met afgryse na veral “Islamitiese fundamentalisme” wat selfs bereid is om terreur aan te gryp in die naam van godsdiens.

Westerse moderniteit se klem op toleransie is self ‘n reaksie op ‘n besondere vorm van intoleransie: die absolute aansprake wat die Middeleeuse kerk op die waarheid oor God gemaak het, met die teenaansprake wat in die Reformasie gemaak is in die naam van die evangelie – en die verskriklike vervolginge, oorloë en vernietiging wat daaruit voortgevloei het.  Die Verligting kan ten minste ten dele verstaan word as ‘n reaksie wat gebore is uit mense se afgryse oor godsdienstige geweldpleging.  Die probleem lê by die oplossing: om die lewensvrae waartoe die eerste deel van die dekaloog ons dring, te marginaliseer en skadeloos te maak.

Die vraag is: is daar ‘n ander weg?  Moet ons kies tussen die intoleransie – en dikwels geweld – van mense vir wie die lewensvraag na die een ware God van brandende belang is, en die toleransie van mense vir wie die vraag hoogstens van sekondêre belang is?  Anders gestel: moet ons kies tussen ‘n fundamentalistiese intoleransie en liberale toleransie – is dit die enigste twee moontlikhede wat vir die kerk oop is? 

Na my oordeel is dit juis waar die lydensverhale vir ons ‘n uitdagende, maar terselfdertyd bitter moeilike perspektief oopmaak.  Christus word eintlik twee keer veroordeel.  Die eerste keer word Hy skuldig bevind deur godsdiensleiers op die godsdienstige klag van godslastering.  Sy optrede en sy aansprake het hulle siening van die een ware God so bevraagteken dat hulle ter wille van hulle eie legitimiteit van Hom ontslae moes raak.  Dit is opvallend dat Westerse vertolkers, veral dié wat diep beïnvloed is deur moderniteit, dikwels wil ontken dat die godsdiensleiers Jesus hieroor ter dood sou veroordeel.  Is dit dalk omdat ons by voorbaat besluit dat die Godsvraag nie belangrik genoeg is om ‘n rol in Jesus se lyding te speel nie?  Ek dink dat dit juis vrugbaar sou wees om te sê: Jesus ly juis onder ons godsdienstige ongenaakbaarheid. 

Die ander vraag wat hier altyd na vore kom (soos in die debat enkele jare terug oor Mel Gibson se The Passion) is of die klem op die godsdiensleiers se veroordeling van Jesus ons nie onvermydelik tot anti-semitisme verlei nie.  Dit is beslis so dat die kerk in hierdie opsig gesondig het.  Maar ek sou, saam met die Katolieke teoloog Gregory Baum, wou argumenteer dat die kerk homself daarmee juis aan projeksie skuldig gemaak het: ons het die skade wat ons self deur godsdienstige intoleransie aanrig, op die Joodse leiers geprojekteer en hulle daardeur gedemoniseer.  Hoe dikwels tree die kerk self nie soos die Joodse Raad op nie!  Vanuit moderniteit word dikwels met reg gesê dat hierdie soort gewelddadige intoleransie dikwels juis voorkom by monoteïstiese godsdienste.  Jy sou dus met reg kon sê dat Eksodus 20:1-7 in die hande van onverdraagsame mense ‘n bloedspoor gelaat het deur die geskiedenis.

Beteken dit dan dat toleransie (en onverskilligheid oor Eksodus 20 se aansprake op ons) ons enigste ander alternatief is?  Volgens die lydensverhaal is Jesus ‘n tweede keer veroordeel – hierdie keer deur Pilatus, ‘n politeïs wat homself beslis nie gesteur het aan die Tien Gebooie nie!  Vir Pilatus is die Joodse beheptheid met die vraag na God en godslastering totaal irrelevant.  Hy is pragmaties: die vraag vir hom is of Jesus ‘n bedreiging inhou vir die Romeinse oorheersing (en die antwoord daarop, reken hy vanuit sy perspektief, is nee); of dit beter is om die mense hulle sin te gee ter wille van die orde (die antwoord daarop is ja) en of ‘n keuse om Jesus onskuldig te vind sy verhouding met die keiser en sy loopbaan sou kon benadeel (waarop die antwoord weer ja is).  Die punt is beslis nie dat Pilatus ‘n “liberalis” was nie, maar dat die pragmatiese denke en onverskilligheid teenoor die Godsvraag ook ‘n rol gespeel het in Jesus se veroordeling.  Dit is dus blykbaar nie so dat die marginalisering van die Godsvraag en die voorkeur vir pragmatisme noodwendig tot geregtigheid lei nie – iets waarvan die gewelddadige geskiedenis van die moderne Weste meer as genoeg getuienis bied.

Die kerk het ‘n ander roeping: om Jesus na te volg in die oortuiging dat Hy die waarheid is, en dat ons in Hom die een ware God leer ken, aanbid en dien.  Jesus is beslis nie, volgens die lydensverhaal, onverskillig oor die vraag na God nie.  Hy praat die waarheid, leef die waarheid, is die waarheid van God.  Vir hierdie waarheid verduur Hy verwerping, vernedering, veroordeling en dood.  Jesus “verdra” nie godsdiensleiers se siening van die waarheid nie en Hy “verdra” ook nie Pilatus se onverskilligheid oor die vraag: “Wat is waarheid?” nie (Johannes 18:38).  Hy opponeer dit tot die dood toe.  Maar die punt is: Jesus opponeer dit nie met sy eie gewelddadige intoleransie nie.  Hy begaan nie gewelddadige intoleransie nie, Hy ondergaan dit (wat die betekenis is van sy passio).  Hy deurkruis dit met sy gebed: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”  (Lukas 23:34)  Hy seën hulle wat Hom vervloek en vervolg en vermoor – en juis só is Hy die waarheid oor God!

Ons vervul dus die eise van die dekaloog – om die Here alleen as God te dien, om Hom in Gees en in waarheid te aanbid, om sy Naam aan te roep – nie deur intoleransie of deur toleransie nie, maar deur ons kruise op te neem en Jesus na te volg; nie deur te vervolg of te ignoreer nie, maar deur te bid vir hulle wat ons vervolg (en vir hulle wat ons ignoreer …).  Die vraag is of die kerk hierdie waarheid al ooit regtig geleef het! 

Andries Cilliers

Seisoen van Luister PowerPoint

Sien verdere Preekriglyne_1 en Preekriglyne _2

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment