Tweede Gedagtes: Heb 4:14-16; 5:7-9

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Goeie Vrydag: 10 April

Ek het die afgelope week die voorreg gehad om ‘n lesing van Paul Post by Communitas in Stellenbosch by te woon. Hy is professor in liturgiese en rituele studies by die Universiteit van Tilburg in Nederland. Die onderwerp van sy lesing was: “ritual space in liturgical and missional perspective”. Ongelukkig is sy teks nog nie in e-formaat beskikbaar nie, maar dit was in vele opsigte verrykend en insiggewend.

Hy maak onder andere van die driedeling van “representation of space”, “spaces of representation” en “spatial practices” gebruik om te verduidelik hoedat dié drie aspekte in voortdurende interaksie met mekaar is wanneer ons nadink oor rituele en die rol daarvan in ons lewe. Die sleutelwoord wat ons in al drie genoemde terme vind is “space” en in dié verband het hy gereeld na ‘n lesing van die Franse filosooof Michel Foucault verwys, met die titel: Heterotopias: Of Other Spaces. Die lesing is reeds in 1967 gelewer, maar eers gedurende die tagtigerjare in Engels vertaal. Dit is baie maklik om dit op die internet in die hande te kry deur net “heterotopias” by google in te sleutel.

In dié artikel skryf Foucault onder andere: “In any case I believe that the anxiety of our era has to do fundamentally with space, nou doubt a great deal more than with time … To be sure a certain desanctification of space … has occured, but we may still not have reached the point of a practical desanctification of space.” Op interessante wyse bespreek hy dan die rol van “utopia” en “heterotopias” in ons alledaagse lewe, met heterotopia as die betekenisvolle “ander plekke” in ons lewe. Hy gaan voort om verskillende aspekte van hierdie sogenaamde heterotopias in sy artikel te bespreek.

In die nuutste uitgawe van Praktiese Teologie in SA (Vol 23 (2) 2008) is daar twee verdere interessante artikels wat ook met plek en ruimte te make het. Johan Cilliers se titel is “In die omtrek van die Gees: ‘n besinning oor die ruimtelikheid van die liturgie”. Daniël Louw se titel is weer: “Towards a praxis theology of affirmation: the atmospheric dimension of place and space in a practical theological ecclesiolgy”.

Al bogenoemde bied interessante perspektiewe wat ons teks verder kan belig. Veral as ons na die teks kyk deur die lense van “plek of ruimte”. In aansluiting by denkers soos Lefebvre en Soja onderskei Cilliers tussen drie kategorieë van ruimte. Dit is naamlik eerste ruimte (fisiese ruimte – soos plekke), tweede ruimte (verbeelde of geïdealiseerde ruimte) en derde ruimte (geleefde of eksistensiële ruimte). Hy vul dit verder aan met wat hy vierde ruimte noem en wat aansluit by die tweede ruimte, maar wat dit ook oorskry. Hierdie ruimte noem hy liturgiese of spirituele ruimte, dus ruimte wat antisiperend vooruit gryp op transendente werklikhede.

Laasgenoemde ruimte wil op hermeneutiese wyse die werklikheid so transendeer dat die werklikheid werklik verander word en dat ons selfs vanuit die ontdekking leef dat die werklikheid reeds verander is. Daarom word die kwaliteit of potensiaal van ‘n spesifieke ruimte onder andere bepaal deur die houding, perspektief en verwagting van diegene wat die ruimte aanskou en benader. Met die oog op laasgenoemde ontwikkel hy met behulp van Bybelse perspektiewe drie begrippe wat ons in ons nadenke oor liturgiese ruimte verder kan help, dit is naamlik: in-ruiming, ver-ruiming en ont-ruiming.

Myns insiens kan hierdie drie begrippe ook sinvol gebruik word vir verdere besinning en aktualisering van die Heb 4-5 teks met die oog op Goeie Vrydag se erediens, veral as ons in gedagte hou hoeveel verskillende aspekte van ruimte in die teks aanwesig is: ‘n Hoëpriester wat deur die hemele gaan, die hoëpriester wat aarde toe gekom het en aan versoeking onderwerp is, die aardse hoëpriester wat offers bring, die priesterorde van Melgisedek, Jesus die Hoëpriester wat deur lyding heen gehoorsaam bly, ens.

Onder in-ruiming bespreek Cilliers die feit dat God sy aangesig na ons toe gedraai het in Christus (die Hoëpriester) en daardeur die ganse werklikheid omskep het in ‘n baarmoeder van betekenis. Hoe help hierdie teks ons om na te dink oor die praesentia realis? Hier kan die verbeeldingryke nadenke oor die “hoëpriester teologie” van Hebreërs verrassende perspektiewe open. Wat is die volle betekenis daarvan dat Christus die rol van Hoëpriester op aarde kom speel?

Onder ver-ruiming staan die sin-vraag vir Cilliers sentraal. Want ruimte, hermeneuties verstaan, verruim nie net ons begrip van God en Christus nie, maar ook van onsself (identiteit) en ons wêreld en werklikheid. Hier gaan dit dus oor die werklikhied waarbinne ons elke dag leef en die ver-ruiming daarvan. Wat beteken Christus se hoëpriesterskap in ‘n tyd van verkiesing, van politici wat kansels gebruik om kiesers te werf, van kerklui wat politieke rolle speel. Daar is in dié verband ‘n lewendige debat in die koerante waarby ons kan aansluit in ons nadenke oor ons verantwoordelike deelname aan die politiek. Vgl. ook in dié verband verklarings wat deur die moderature van die NG en VG Kerke in dié verband gemaak is.

Onder ont-ruiming gaan dit volgens Cilliers oor die vraag of ons nie dikwels só in ons werklikheid vasgevang geraak het, dus in ons persepsie van die huidige werklikheid, dat ons die sin vir ander (Ander) werklikhede verloor het? Dit is hier waar die Hebreër-skrywer ons help om deur verbeelding en antisipasie bewus te raak van die feit dat hierdie werklikheid, hoe belangrik en waardevol ookal, nie die finale is nie. Die Hoëpriester teologie help ons om op verbeeldingryke wyse ander werklikhede te (her)ontdek, raak te sien en te antisipeer. Dit ont-ruim ons dus in die rigting van ‘n ander werklikheid – op ‘n manier kan ons ook nie die volheid van die oomblik belewe nie omdat daar die afwesigheid is van ‘n ander werklikheid.

Op Goeie Vrydag is dit juis die simbool van die kruis, die brood en die wyn wat ons aan laasgenoemde herinner. In hierdie drie simbole vind ons die dieptepunt van ontruiming, van die sinloosheid, smart en lyding van ons bestaan omdat die Hoëpriester self die offer word en van God verlate is. Maar genadiglik is Sondag oppad – ‘n nuwe (verbeeldingryke) ruimte!

Ian Nell
 
What we hunger for perhaps more than anything else is to be known in our full humanness, and yet that is often just what we also fear more than anything else….Little by little we come to accept instead the highly edited version which we put forth in hope that the world will find it more acceptable than the real thing.

—Frederick Buechner

Seisoen van Luister PowerPoint

Sien verdere preeksketse by een en twee

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment