Tweede gedagtes: Jes 40:21-31

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Sondag 8 Februarie 2009


 


Sekerheid in tye van onsekerheid


 


Onsekerheid skep angs, om onseker te wees grens aan ongemak, dit lei baie maal tot wanhoop en het selfs die potensiaal om tot ongeloof oor te gaan. Onsekerheid knaag aan ’n mens se psige, emosie, en intellek. Dit maak dat ‘n mens alle rasionaliteit kan verloor en soms loop dit uit op haastige gevolgtrekkings wat, sodra ’n mens weer kalm en rustig oor die onsekere en of dreigende situasie top, jou gevolgtrekking(s) lagwekkend laat lyk.


 


Dit blyk die situasie in ons gelese gedeelte te wees – Israel wat klaarblyklik twyfel oor die mag van God, Israel wat kla en wonder of God hulle situasie raaksien, en hulself afvra “gaan my reg by God verby?” (Jes 40:27). Só dien die voorafgaande verse (Jes 40:12–20) ook om aan te toon hoe Israel wonder oor God se teenwoordigheid in hul lewe, hul wonder of God hulle nie aan vreemde magte soos byvoorbeeld die regeerders en (af)gode van Babel oorgegee het nie. Dus hul gevolgtrekking – God het hulle in die steek gelaat!


 


Dit is in hierdie onsekere omstandighede met sy nadelige en ongodsdienstige gevolgrekkinge dat die profeet dit onomwonde en helder duidelik maak dat God sy troon bokant die hemelkoepel het (Jes 40:22). Die skrywer gaan verder om hierdie gedagte dat God Sy troon bokant die hemelkoepel het, te onderstreep deur aan te voer dat die aardbewoners vir Hom soos sprinkane is, God die Hemel soos ’n tentdoek oopspan om daar onder te woon (22c), dat Hy die vername mense tot niks maak (23) en dan vra hy in vers 25, “Met wie kan julle My (God) dan vergelyk, Wie is soos Ek?” Selfs die res van die verse word gewy aan die sekerheid van God, die sekerheid van God se Almag, die sekerheid van God se onvergelykbaarheid, die sekerheid van God se ewigheid, die sekerheid van God se sorg en voorsienigheid. En dit is hierdie soort van argumente wat die skrywer doelbewus gebruik om die hoorders en lesers te oortuig van sekerheid in tye van onsekerheid.


 


Die eindlose argument van die skrywer om dit wat seker is (soos God se wese, God se Almag, God se sorg, ens) te onderstreep, bevestig inderdaad die lokale en universele of kosmiese heerskappy van God. “God het sy troon bokant die hemelkoepel, die aardbewoners is vir Hom soos sprinkane …” onderlê juis die gedagte dat God se wil/heerskappy kosmies en aards tegelykertyd is. Dit bevestig vir die onsekere een, die een wat twyfel en angstig in onsekere tye word, dat God bemoeienis maak met die skepping, in die hemel en op die aarde.


 


Daarom kan ons verstaan dat die skrywer die volk en ook ons vandag oproep om as’t ware net na die hemel te kyk, en dat hulle en ons God dan sal sien. Ook deur net na Sy handewerk te kyk, sal hulle en ons God sien – en juis deur dit wat ons in ons sien en in ons kyk bemerk, sal ons vir God ontdek, sal ons God vind en ja, sal ons van al ons onsekerhede en valse gevolgtrekkinge waartoe ons dalk in ons wanhopige en angstige oomblik gekom het, ontslae raak.


 


Vandag is daar genoeg dinge wat ons tot onsekerheid en valse gevolgtrekkings kan lei. Om maar net ‘n paar voorbeelde aan te haal – daar is die swak en dreigende verswakking van die ekonomie; daar is die realiteit van voortdurende besnoeiing van die arbeidsmag, kos en petrolpryse wat weer die hoogte kan inskiet; wetgewing wat drankverkope op Sondae kan wettig; die uiteenlopende teologiese standpunte oor kerkeenheid, die doop, homoseksualiteit en die belang en nodigheid van die Belhar Belydenis; die  spanning rondom die onlangse politieke gebeure – onder meer die herroeping van die voormalige  president, Thabo Mbeki, die stigting van COPE, die geregtelike en morele wolk wat hang oor die ANC-president Jacob Zuma en sy aanspraak op die presidentskap van die land, asook  die vrees dat geweld nader aan die verkiesing kan eskaleer. Daar is die onmenslike lyding van die inwoners van Zimbabwe en die politieke twis wat nie tot ‘n humanitêre ooreenkoms kan gedy nie, en dan die Midde-Oosterse konflik wat teen hierdie tyd al meer as die twee groepe betrek het. (So kan die lys van dinge wat onsekerheid wek, aangevul word).


 


Dis alles dinge wat ’n mens kan noop om nie net onseker te wees oor die dag van môre nie, maar jou ook kan laat twyfel in die rol van Christene, Christelike gemeentes en die geloofsgemeenskap in die breë – en selfs in die bestaan, trou en sorg van God, wat weer kan bydra daartoe dat ons lagwekkende gevolgtrekkings sou kon maak. 


 


Dus geld die oproep van die profeet – kyk na die hemel … God het sy troon bokant die hemelkoepel – sy heerskappy geld in die hemel en op die aarde – sy sorg en trou is van krag in die hemel en op die aarde – ja weet God is ewig – Hy is die Skepper, Hy word nie moeg, en Hy raak nie afgemat nie, sy insig is ondeurgrondelik. Hy gee die vermoeides krag en Hy versterk die wat nie meer kan nie – ja, jongmanne word moeg en raak mat, manne struikel en val, MAAR dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag, hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg, hulle loop en raak nie afgemat nie – want God het sy troon bokant die hemelkoepel en Sy heerskappy geld in die hemel en is van krag op die aarde.


 


Daarom kan ons in tye van onsekerheid, seker wees – oor God, sy heerskappy, sy sorg en trou. Kan ons hoop koester en mag ons reeds nou, te midde van al die onsekerhede, in blydskap en sekerheid oorgaan tot aanbidding van die sekere, troue en sorgsame God!


 


Donald Katts (Volkskerk in Afrika)


 


Seisoen van Luister PowerPoint

Trackback from your site.

Leave a comment