Tweede Gedagtes: Markus 1:9-15

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Die koninkryk van God het naby gekom. Ons kan baie meer doen om ons lidmate te wys op konkrete tekens van die koninkryk wat naby gekom het.

Ds Stefan Louw is in September 2006 in sy huis in Johannesburg vermoor en die rowers is met net sy selfoon weg. Stefan was ‘n filmkenner en het graag van sy eie uitstekende filmanalises gebruik gemaak om sy preke te aktualiseer.

In April van daardie jaar maak hy ‘n preek waarin hy na aanleiding van twee films, Billy the Butcher en The gangs of New York, inligting benut om iets te laat blyk van die koninkryk van God wat naby gekom het. Ek gee dit hier weer met my eie gedagtes en aanpassings om dit meer toeganklik vir ons eie teks en tema te maak (amper soos die storie van die pyle wat eers teen die boom geskiet word waarna die teiken om die pyle geverf word!)

Verlede jaar se Oscar genomineerde film, The gangs of New York laat jou hierdie waarheid weer besef. Die film gaan oor die jong seun Amsterdam, wat as kind op die strate van New York groot word in die middel van die 19de eeu. Dis ‘n jong New York in sy geboortepyne. Die strate word effektief beheer deur bendes. Op jong ouerdom word sy pa, ‘n groot bendeleier, deur die berugte gangster Billy the Butcher voor sy oë vermoor. Tien jaar later is hy terug op die strate as ‘n jong man met een doel voor oë, om sy pa se dood te wreek. Deur ‘n vreemde sameloop van omstandighede word hy egter onder Billy the Butcher se vlerk geneem, wat hom nie herken nie, en so ontwikkel daar ‘n vreemde tipe vader-seun verhouding tussen hulle. Amsterdam bevind hom skielik in ‘n tipe liefde-haat verhouding. Aan die een kant het hy op ‘n vreemde manier sy pa teruggevind, aan die ander kant leef hy nou saam met sy pa se moordenaar. Sy innerlike stryd word geweldig. Hoe gaan hierdie liefde-haat verhouding uitdraai? In liefde, of in haat? In vergelding, of in vergifnis?

‘n Treffende oomblik in die film is waar Billy the Butcher vir Amsterdam wys hoe om met ‘n mes ‘n doodsteek toe te dien. Hy doen dit met ‘n demonstrasie op die karkas van ‘n afgeslagte vark. Die mes word dan vir Amsterdam gegee. Hy voer die steke perfek uit op die karkas en staan brandend van binne met die mes in die hand terwyl die niksvermoedende Billy hom lof toeswaai oor sy vernuftigheid. Tog weerhou hy homself van weerwraak. Later red hy selfs Billy se lewe toe ‘n sluipmoordenaar hom probeer skiet.

Die film se ontknoping gee ‘n antwoord op ons vraagstuk. Amsterdam kies die pad van vergelding. Hy bring sy pa se bende weer op die been. Aan die einde van die film lê hulle na hewige gevegte in mekaar se arms, Amsterdam en Billy the Butcher. Billy sterwend aan ‘n skrapnel wond. Daar’s geen verskil tussen hulle nie – Amsterdam en Billy the Butcher. Amsterdam dien hom die finale doodsteek toe.

Dit was makliker om dood te maak. Dis makliker om te vernietig, om af te breek, om met mag te beheer, om met vrees te regeer as om lief te hê. Liefde is baie moeliker. Wanneer die koninkryk van God naby kom, kom Jesus naby. En wanneer Jesus naby kom, kom onvoorwaardelike, selflose en selfopofferende liefde naby.

Die weg van die wêreld was nog altyd die maklike weg. Daarvan loop die geskiedenisboeke oor. Om jou te beskerm teen die monster word jy die groter monster. As iemand jou met ‘n klip gooi dan staan jy terug met ‘n ystervuis. Ons het dit onlangs weer helder sien afspeel in Amerika na 11 September. Om te vergewe, om jou vyande lief te hê – min sien daarvoor kans. Want dit sny teen ons grein in. Geweld vra vir geweld, vir weerwraak. Haat roep haat, bloed roep bloed. ‘n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand. Palestina en Israel, Amerika en Irak.

Maar ook nader aan ons. Dit kom natuurlik vir ons om dié lief te hê wie ons liefhet en te haat die wie ons te na kom. Ek onthou die dag toe hulle by my en Brenda se woonstel ingebreek het. Hoe ek die diewe in my gedagtes nie verwens nie!

Maar dis ‘n natuurlike reaksie. Hoekom kom dit so natuurlik dat ons makliker vergeld en moeiliker vergewe? Die Bybel wys dat die eintlike probleem ‘n diepgewortelde selfliefde is, ‘n ingebuigdheid op onsself. In die Griekse mite kyk Narsis in ‘n diep poel en raak verlief op sy eie weerkaatsing. Dis die probleem, sê die Bybel. Ons word ook gehipnotiseer deur hierdie poel. Ons raak te maklik gefikseerd met onsself, met ons eie begeertes. Dit kom vir ons natuurlik om die hele wêreld teen die agtergrond van ons eie belange te sien.

In ons teksgedeelte roep Jesus op tot bekering. Hy is beide die doel maar ook die inhoud van die koninkryk wat naby gekom het. Jesus se lewe is die koninkryk in aksie! Hierdie weg is die weg van die kruis. Vir ons wat weet wat hierdie koninkrykslewe van Jesus sou meebring, hang die kruis se skadu swaar oor hierdie gedeelte.

En dan sê Jesus vir hulle: Bekeer julle en glo die evangelie: Julle moet my volg. Daar waar ek is daar moet julle ook gaan. Die teksgedeelte is radikaal, want dit daag ons uit om die gewone gang van die wêreld teë te gaan. Dit daag ons uit om weer ons motiewe te ondersoek. Leef ons net vir onsself, of leef ons ook vir ander? Hoekom werk ek so hard? Vir wie werk ek? Watter ambisies dryf my? Wie kom ek te na? Hoe selfsugtig my motiewe? Waar pas God in my lewensstyl? Lyk ek nie maar net soos die res van die wêreld nie? Die gedeelte wil ons ook uit ons selftevredenheid uit ruk. Wie sy lewe bo my liefhet, verloor dit, sê Jesus hier, wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo my lief het nie, sal dit vir die ewige lewe behou.

Om vir Christus te volg is nie sommer vir almal nie. Dis nie ‘n populêre tipe voel-goed-oor-jouself godsdiens nie. Dis nie ‘n I’m OK, you’re OK dingetjie nie. Dis nie ‘n resep vir sukses- en welvaart nie. Dit bied geen kitsoplossings nie. Dis die moeilike weg. Dit daag ons uit om meer as net mensekinders te wees, om meer te doen as wat mense maar doen. Dit daag ons uit om kinders van God te wees.

Die koninkryk kom naby wanneer ons in liefde kan gee, ons in liefde kan ontvang, dat om geweld met geweld te antwoord meer geweld kweek, maar om te vergewe die siklus van geweld deurbreek.

Die evangelie werk, gemeente, maar dis ‘n moeilike pad. Dis die boodskap van die kruis. Dis hoekom die kruis ons altyd weer dring tot selfondersoek, tot nuwe toewyding aan God.

Maar hier is die goeie nuus, gemeente. Daar is ‘n ligtheid in die swaarheid. Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is, sê Jesus. Neem my juk op julle en leer van my, want my juk is sag en my las is lig. Om kinders van God te word, is daad van God. Dis God wat ons na Hom toe roep, dis God wat ons aanneem, dis God wat ons gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer. Die beste plek waar jy kan wees is juis daar waar jy ontdek hoe swak jy as mens is, hoe gebroke en onvolkome jy is. In hierdie oomblikke van eerlikheid, van sterf aan jouself, kan God oorneem om jou lewe te vernuwe.

Ek wil afsluit met ‘n tweede film wat saam met The gangs of New York uitgekom het met die naam Behind the sun. Dis die verhaal van twee families wat in ‘n jarelange vete gewikkel is om grond. Vir geslagte lank duur hierdie vete al voort. Iemand van die een familie word deur die ander geskiet, en dan moet die ander familie weer hierdie dood wreek. En so duur hierdie siklus van weerwraak eindeloos voort. Die verhaal gaan oor ‘n klein seuntjie – sy naam is net “the kid”. Die ouer een van sy twee broers word onder hom doodgeskiet toe dié hom deur die veld op sy nek gedra het. Die seuntjie se ander broer word dan deur hul onverbiddelike vader gedwing om hierdie dood te wreek, wat hy dan ook uiteindelik doen.

Die reël onder die families is dat daar na ‘n vergeldingsaanval een maansiklus lank vrede is tussen hulle. Dan kan die vergelding weer begin. Nadat “the kid” se oorblywende broer die seun in die ander familie geskiet het, gaan hierdie broer om te bid vir die gestorwene se siel by die begrafnis. Daar vra hy vir die ander Vader vir ‘n finale vrede tussen die families.

Die blinde ou man se woorde is treffend. Het jy al ooit ‘n vrou liefgehad? vra die vader hom. Nee, antwoord hy. Jy sal nooit nie, sê die ou man vir hom. Luister na daardie horlosie, sê hy. Elke slag sê “een meer”, “een meer”, “een meer”. Vir jou sê dit egter “een minder”, “een minder”, “een minder”. Dan sit die Vader vir hom ‘n swart band om sy arm as teken dat hy ‘n gemerkte man is, dat daar ‘n doodsvonnis oor sy kop hang.

The kid se broer gaan terug om sy laaste dertig dae uit te leef. Maar die verhaal gee tekens dat dinge die slag anders is. Daar kom ‘n jong sigeunervrou in sy lewe en hy raak verlief op haar. Die reën waarop almal wag, maar die hele tyd wegbly, begin val die aand voor sy grasietyd om is. Daardie aand bevestig hy sy liefde vir die sigeunervrou. Die oggend word hy in haar arms wakker met ‘n knal van ‘n skoot. Hy vind dat die swart armband om sy arm af is en dat sy hoed weg is.

Die storie eindig met “the kid” wat vertel hoe hy met sy broer se hoed en swart armband deur die bosse loop waar die jonger broer van die ander familie vir hom wag. In die reën en skemering word hy vir sy ouer broer aangesien en so sterf “the kid”. Hy gee sy lewe op in die plek van sy broer. Hy sterf sodat sy ouer broer kan lewe. Die siklus van vergelding word deurbreek. The kid se broer verlaat die familie en loop agter sy nuwe liefde aan om ‘n nuwe lewe te begin. ‘n Nuwe lewe wat baie duur gekoop is.

Die verhaal is die evangelie in ‘n neutedop. Dis wat die kruis vanoggend vir ons wil sê. Die pad van nuwe lewe is ‘n moeilike pad en dit is duur gekoop. Christus het gesterf sodat ons kan lewe. Kom ons volg ook hierdie weg van selflose liefde na.

 

 

André Agenbag

 

 

Seisoen van Luister PowerPoint

 

 

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment