Tweede gedagtes: Matteus 25:14-30

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Ek dink mens sou ‘n preek oor hierdie teksgedeelte as volg in drie kon verdeel:

1.  Die koninkrykslewe: Ons behoort nie aan onsself nie, maar aan God.

2.  Die selfbehepte lewe: Om God te reduseer tot slawedrywer, die self tot slaaf en die gawe tot besitting.

3.  As Hy weer kom, kom haal Hy sy pêrels.

Die koninkrykslewe: Ons behoort nie aan onsself nie, maar aan God.

Die lewe is wat met ons gebeur tussen die krip en die graf. Vir Christene is dit nie bloot die biologiese oorlewing wat een jaar in die volgende laat vloei nie. Na aanleiding van die gelykenis van die goue muntstukke kan ons sê dat Christene hierdie lewe ten diepste as gawe van God sien. Die slawe ontvang die muntstukke. Nie een weier dit nie. Dit was nooit hulle s’n nie. Dit sal ook nooit hulle s’n wees nie. Van die begin af verstaan ons ons lewe as God s’n. Maar dit kom met ’n opdrag, ’n roeping: Gaan maak wins daarmee. Woeker. Lééf nou! Dit is die koninkrykslewe. Die koninkrykslewe is die lewe van die nuwe mens. Die eerste twee slawe leef die koninkrykslewe. Hulle gaan elkeen en verdubbel dit wat hulle ontvang het.

Ons leef in ‘n samelewing wat o.a gekenmerk word deur verbruikerism en narcisisme. Die gelykenis van die goue munstukke keer ons wêreld se waardes kop-onderstebo: Ons behoort nie aan onsself nie, maar aan God. Alles wat ons is en het, kom van God.

Die selfbehepte lewe: Om God te reduseer tot slawedrywer, die self tot slaaf en die gawe tot besitting.

Die derde slaaf is ons “Most Peculiar Man”. Hy is die snaakse mannetjie van ons tyd wie se lewe toegesluit is in hom, in die illusie dat die sleutel binne-in hom opgesluit lê. Sy lewe is ’n voortsetting van die benoude godsdienstige wêreld waarbinne hy hom bevind. Hy is bang vir die gewer van wie hy die gawe ontvang het. Hy weet dat daar van hom rekenskap geverg gaan word. Van die begin af verstaan hy die lewe ook heeltemal verkeerd. In sy kop is die eienaar ’n slawedrywer – kwaai en veroordelend. Dit maak van hom noodwendig ’n slaaf. Só skryf hy eintlik sy eie verlossingsleer: My god is ’n slawedrywer en ek ’n slaaf. My verlossing lê daarin dat ek in my slawerny die bietjie wat ek het ten alle koste bewaar.” Die derde slaaf se keuses het opgedroog. Vir hom was die gewer eintlik die hebsugtige – die een wat net vat – die dief: “Meneer, ek ken u as ’n harde man, wat oes waar u nie gesaai het nie, en pluk waar u nie geplant het nie” (25:24). Hy ontwikkel ’n obsessie met die gawe wat hy ontvang het. Hoe groter die afstand tussen sy gawe en die Gewer, hoe banger word hy. Uiteindelik is hy só deurdrenk van die vrees, dat hy maar sy gawe begrawe: Liewer bang Jan as dooie Jan. My god is ’n dief en dus word ek ook een. Lewenslus en kreatiwiteit is daar nie meer by hom nie. Die heel veiligste is om niks te doen nie. Die lewe is mos soos ’n geslote ekonomiese sisteem waarin alles (en almal!) verbruiksartikels is – daar kan mos nooit genoeg wees vir almal nie! Op die ou einde breek alles in die lewe gelyk. Daarom is die beste strategie om dit wat ek het eenvoudig weg te steek en dit nie aan die lewe bloot te stel nie! Van die koninkryk en van die evangelie is hier nie sprake nie!

As Hy weer kom, kom haal Hy sy pêrels.

Vanuit die perspektief van die derde slaaf breek die kwade dag van die eienaar se terugkeer aan. Vir hom is dit ’n dag gevul met angs. Vir die twee slawe wat hulle gawes gaan verdubbel het, is dit ’n blye dag. Om die waarheid te sê, hulle het gelewe vir hierdie dag. Hulle het niks gehad nie en hulle eienaar het hulle vertrou met sy skatte. Hieroor was hulle só bly dat hulle nie anders kon nie as om uit te gaan en dit nóg meer te maak nie. Vir hulle was hulle lewe soos dié van konings. Om met soveel vertrou te word as jy niks van jou eie het nie, maak jou vry – maar verantwoordelik. Jy wil mos nooit jou eienaar teleurstel nie. Jou lewe is nie meer jou eie nie. As dit nie vir my eienaar was nie, het ek nooit hierdie lewe gehad nie! Die derde slaaf word ten sterkste veroordeel. Hy word ontmasker as die een wat van die begin af geweet het wie sy gewer is. Hy het die gawe aktief ontvang, maar toe heeltemal in ’n bedompige, benoude en selfgerigte lewe verval: Die “homo incurvitas.” Mens op hom ingebuig – die lui mens, die dief. Die derde slaaf se oordeel wys ook dat die lewe is soos om bergop fiets te ry. As jy ophou trap, stop jy nie – jy gaan agteruit. Daar is nie ’n geslote sisteem met ’n beginsel van gelykbreek waarmee jy jou van die lewe kan weerhou om jou só te bewaar nie. “Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word” (25:29). Alle gawes kom van die Gewer af. Dis nooit joune om weg te steek nie. Daar is ook nie neutrale grond nie. Die “homo novus” – die nuwe mens – sien ons in die slawe wat hulle gawes verdubbel het. Hulle deel in die vreugde van hulle eienaar. Hy beloon hulle deur hulle oor nóg meer aan te stel. Vir hulle ken die ekonomie van God se genade geen perke nie. Vir hulle is dit asof die koninkrykslewe ’n vreemde en bevrydende teenstrydigheid is: Eers het hulle niks gehad nie. Alles was gawes – alles is vir hulle gegee. Nou word hulle met nóg meer vertrou. Maar eintlik het hulle nog steeds niks nie. Alles is nog steeds die Gewer s’n. Dit is die koninkrykslewe.

André Agenbag

PowerPoint van die Seisoen van Luister

Trackback from your site.

Leave a comment