Tweede gedagtes: Ps 80:1-8

Written by webmeester on . Posted in Verder geluister

Sal jy God se glimlag herken hierdie Advent?

 

Eerskomende Sondag, die 30ste November, is die eerste Adventsondag. Aggenee, sal julle sê, watse Roomse spulletjies is dit nou weer? Maar, sou ek sê, ons moet hier by die Rooms-Katolieke leer, want hulle hou gebruike van die kerk wat eeue oud is, en wat ons Gereformeerdes gerus ook weer kan optel. Baie van ons gemeentes het al, en met goeie vrug, die kerklike gebruike begin terugbring wat eeue gelede aan die hart van die kerk se skoonheid en lieflike samesyn gelê het. Ons noem dit die “ancient future”. Met die óú gebruike van die kerk beweeg ons die toekoms in.

Die vier weke voor Kersfees, is Advent. Dis ‘n tyd waarin ons onsself op Kersfees moet voorberei. Nie met Jingle Bells, drankaankope en oordrewe geskenke nie. In Advent kyk ons na ons eie en ander mense se pyn. Ons neem weer die gebrokenheid van die lewe in oënskou. En ons kan maar – want ons weet dat die uitkoms naby is, dat die Lig weer gaan skyn. Want Kersfees kom.

Kom ons berei onsself hierdie Sondag op Kersfees voor met Psalm 80:1-8. Die psalm praat met ‘n mens uit baie rigtings, en tref jou op baie sagte plekke. Maar kom ons laat hierdie psalm oor drie dinge met ons praat:

Die eerste ding wat hierdie psalm vir ons oor onsself sê, is dat dit ‘n “community lament” is. Dit is die klaaglied van ‘n gemeenskap. Dis ‘n hele gemeenskap wat na God toe uitroep in pyn.

Ons het nou onlangs 9000 – ja, nege duisend – vraelyste na gelowiges in Suid-Afrika uitgestuur waarin daar onder andere een vraag was waarvan die antwoord ons verras het. Ons het gevra waarvan hulle wil hê Jesus Christus hulle moet verlos. En wat antwoord ‘n groot meerderheid van die mense toe? Van seerkry. Dit was asof ek Psalm 80 hoor. ‘n Hele samelewing van gelowiges roep uit na God om hulle van seerkry te verlos. Van politieke seerkry. Van ekonomiese seerkry. Van seerkry in hulle intieme spasies.

Ja, ons is weer waar die seer mense van Psalm 80 was.

Maar Psalm 80 praat nog ‘n tweede praat ook met ons. Dit vra God om te verskyn. Die psalm weet God is die Een wat Sy gesig wys. God is die Een wat Sy glimlag laat skyn. God is nie soos die ander se gode wat uit klip gekap is nie. Ons kan altyd weer hoop dat dit sal skyn.

Soos ‘n refrein kom dit in Psalm 80 voor: vers 2, vers 4, vers 8, vers 12: O God, verskyn tog tot ons redding! Glimlag tog vir ons, dat dit weer met ons goed kan gaan.

Dan is daar nog ‘n derde manier waarop Psalm 80 met ons praat. Al is dit ‘n klaaglied, is dit vol hoop. Die psalm hoop daarop dat God weer Sy glimlag sal wys – omdat God dit in die verlede weer en weer gedoen het.

Israel se geskiedenis met God bewys dit: net wanneer die donkerte op sy donkerste was, het God die lig gestuur. Die psalm herinner God juis aan Josef: Josef se broers het hom in ‘n put gegooi, ‘n gat in die grond waar hy tien jaar gesit het. En toe die donkerste op sy ergste was, het God vir Josef uit die put gehaal om hom tweede in bevel van Egipte te plaas. Sodat Josef op sy beurt sy broers kan help wat in die donkerte van hongersnood was.

En dit kan ons ook weet terwyl ons tranebrood eet: wanneer dinge op hulle donkerste is, is die lig die naaste.

Soos Jesus se woorde aan die kruis (wat ook uit die psalms kom, naamlik Psalm 22:2): My God, my God, waarom het u my verlaat? En net nadat Jesus dit gesê het, het dit weer lig geword.

Lig in die Bybel is baie belangrik. Dis een van die woorde wat die meeste in die Bybel voorkom. Lig is die eerste ding wat God volgens Genesis 1 maak.

En Kersfees is ook die fees van die ligte.

Hoe sal ons ons dan in Advent voorberei op die Lig van Kersfees? Deur onsself te leer om God se glimlag raak te sien te midde van die donker. Deur God se glimlag te LAAT skyn in die donker.

Dis wanneer jy na iemand wat in nood is, uitreik – dat jy skielik op daardie oomblik bewus word van God se glimlag. Dis wanneer jy terugdink aan die jaar, en tussen baie terugslae en swaarkry, skielik onthou van iets wat jy reggekry het, dat jy skielik God se glimlag sien. Dis soos die blinde vrou wat nou die dag oor die radio vertel hoe sy dit reggekry het om die geel en die wit van ‘n eier te skei – en toe skielik “gesien” het hoe glimlag God vir haar. Dis die man wat dink die saad in sy tuin is dood, en skielik staan die groen lewe daar vir hom en glimlag saam met God.

Advent is ‘n goeie tyd van die jaar om vir mekaar in die kerk te vertel van ons vrese en verliese. Maar ook van die kere wat ons God se glimlag in ons lewens ervaar het. En waarom ons hoopvol uitsien na die Lig wat weer met Kersfees gaan verskyn.

Dis ook ‘n tyd van die jaar wat ons vir mekaar kan vertel hoe ons al God se glimlag geblok het. Hoe ons vir God ‘n strak gesig gegee het, soos ‘n afgodsbeeld, en geweier het om Sy glimlag raak te sien.

En dan is dit ook ‘n blye tyd wanneer ons vir mekaar kan sê: God is die een wat by jou bly. Hy steek soms Sy gesig weg, maar jy kan altyd weer Sy glimlag soek en kry. God is nie soos ‘n kêrel wat jy nie weet of hy weer sal kom nadat hy vir jou geglimlag het nie. God is nie soos ‘n vrou wat nie by jou wil bly nie.

Dat God daar is, en dat Hy glimlag, is een van die seker feite van ons lewens – waaraan ons mekaar weer in Advent kan herinner.

Mag jy God se glimlag sien hierdie Advent. En mag jy opnuut weer daarvan bewus raak hierdie Kersfees. En mag dit by jou bly, die hele jaar lank.

 

Christina Landman

Seisoen van Luister PowerPoint

Trackback from your site.

Leave a comment