Tweeduisend artikels by Communitas!

Written by webmeester on . Posted in Communitas Inligting

Dié week het die 2000ste artikel by Communitas verskyn!

Ons vier dit deur ‘n paar bydraes van die gemeenskap van Communitas bloggers hier te plaas.

Ons het gevra: Wat gee jou hoop?

En hier is hulle reaksies:

Jannie

Vanjaar se Verantwoordelike Vernuwing konferensie se herwin hoop tema, en die prominensie van bate metafore in sommige van die aanbiedings en refleksies, het my laat wonder hoe ons kan seker maak dat gemeentes hul “bates” en hul eie vermoens om “batebouers” te wees in ‘n teologiese perspektief op hoop kan verstaan.  Aan die een kant bring die bates-metafore ‘n welkome fokus op die positiewe wat God aan gemeentes gee, en help dit met ‘n hoopvolle eerder as probleemstellende teologiese uitgangspunt.  Aan die ander kant sou die gevaar kon bestaan dat valse hoop geskep word in die bates self, eerder as om die fokus te hou op God as die eintlike Batebouer in verhouding tot ons rentmeesterskap van God se bates.  In die metafoor van ‘n ou Halleluja liedjie, hoe kan ons ons seeninge tel en terselfdertyd nooit die God wat die seeninge gee vervang met die seeninge self nie?

Ek het aan die volgende aanhaling van Douglas John Hall, in sy The Cross in Our Context (p.195), gedink:  “A theology that confesses hope, not finality or consummation, will certainly have a mission in the midst of a despairing world, but it will be a mission that recognizes an expansiveness of divine grace that far exceeds its own grasp and representation of this mission.  For in the first place it will be hope in God, not in its own always-limited appropriation of God’s redemptive work.  Christian mission is a particular, ongoing attempt faithfully to comprehend and participate in the missio Dei…  Christians are those who have glimpsed in faith something of the reality and depth of this divine labor and who strive to involve themselves in it.  But they know that it is not their work, and they know that its end eludes them and in its advent may utterly surprise them.  Therefore they do not, may not, present themselves as a community for which all is finished – a body uniquely knowledgeable of the divine economy, in possession of secret truth concerning God’s closure of history, etc. (they are not Gnostics!).”

Hall se woorde spreek van hoop in beweging eerder as ‘n statiese hoop.  Dit mag ons dalk help om nie bates te sien as iets wat ons opbou en opgaar nie, maar iets wat eintlik nooit ons s’n is op ons geloofsreis nie.  Gemeentes as geloofsgemeenskappe van hoop is dus altyd ‘n communio viatorum, ‘n gemeenskap op reis, eerder as ‘n gearriveerde gemeenskap.  En wanneer jy op reis is kan jy nie altyd so baie bates saamvat of dit regtig opbou nie.  Maar jy kan wel die bates wat jy saam met jou op pad neem opnuut waardeer vir die waarde wat dit vir die doeleindes van die reis self het, en dit maksimaal aanwend in verhouding met diegene wat jy op reis ontmoet.  Dit maak van hoop ‘n hoop in aksie.  Toe 7 prominente teoloe in 2000 in Atlanta (onder voorsitterskap van die Ou Testamentikus, Walter Brueggemann) besin het oor die vraag, “What is the mission of the church in the 21st century?”, het hulle na maande se besinning tot die volgende antwoord gekom:  “The mission of the Christian Movement in the 21st century is to confess hope in action.” Hoop is altyd aan die beweeg in die rigting van diegene wat God se geregtigheid, heling, en vrede die meeste nodig het.  ‘n Gemeenskap van hoop wat altyd aan die beweeg is kan nooit bates opgaar vir die doeleindes van die bates self nie, maar kan wel die Batebouer vertrou dat Hy altyd op pad sal voorsien wat nodig is om saam te bou aan die Koninkrykswerk waarmee die Batebouer alreeds besig is in die wereld.

Alta Marais

My gemeenskapsbetrokkenheid is beperk tot twee sake waaroor ek passievol is. Een daarvan is ‘n positiewe ouerskapkursus (POSPAR). Ek is betrokke by die kursus en die Positiewe Ouerskap Kommunitas Blog. Die ander is ‘n welsynsorganisasie vir wie ek fondse insamel. Hoewel dié aktiwiteite ligjare van mekaar verwyder is, help beide my op dieselfde manier om hoop vir die toekoms te behou: In albei gevalle word my hoop vir die toekoms gebou deur die goeie wil van die mense by wie ek betrokke is – die wil van sogenaamde X-generasie ouers (pa’s én ma’s) om nuut te dink oor hoe hulle kan bydra tot hulle kinders se groei en ontwikkeling om hulle Godgegewe potensiaal te bereik en die wil van die gemeenskap om by te dra tot die groei van weerlose mense. Lees weer die voorlaaste artikel (Daar is ‘n draai in die gety) om te sien dat diè stelling oor die generasie X ouers deur verantwoordelike navorsers gedeel word. Dit is die eerste generasie ouers wat gewillig is om te erken dat tye onherroepelik verander het en dat dit vir ouers nodig is om ‘n draai te maak om ‘n nuwe siening, paradigma, gesindheid, manier van dink (noem dit wat jy wil) te ontwikkel.

Dit word verder gestaaf deur die feit dat daar onder andere by ’n Stellenbosch gemeente vertel word dat daar vir die eerste keer waglyste is van ouers wat ’n POSPAR-kursus wil volg. Dit is ouers wat gewillig is om te erken dat die kennis wat hulle geërf het nie voldoende is om die uitdagings van ouerskap in ’n snel veranderende wêreld die hoof te bied nie. Hulle het die moed van hulle oortuiging om Paulus se opdrag uit te voer, naamlik: “…. laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.” (Romeine 12:2(a)). Paulus help egter nie net deur te sê mense, ook ouers, moet nuut dink sodat hulle kan verander nie, maar hy sê ook hoe hulle kan verander en hy bid dat dit sal gebeur: “Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling , sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom….” (Filippense 1:9). Paulus bid dat mense, ook ouers, meer empaties sal word; sal probeer verstaan wat hulle kinders se behoeftes is, die dinge waarop dit regtig aankom.

Gesinne is die boustene van die gemeenskap en as ouers hierdie twee opdragte uitvoer, en dit lyk asof hulle wil, sal hulle gesindheid soos suurdeeg deurwerk om die wêreld gesond te maak.

Dit is wat my hoop laat behou. Hierdie ontwaking van die ouers, meer as enigiets anders, gee my moed vir die toekoms.

Chris Jones

Ek vind hoop in oriëntasie op God.

Ek kan nie na die wêreld draai vir hoop nie. Dit lê in ‘n verhouding met Christus. Die woord oriëntering beteken ‘n gerigtheid na die ooste. Na die Oriënt. Na Jerusalem. Na die plek waar Jesus gekruisig is en opgestaan het.

Die Christelike tradisie het dit dan ook letterlik opgeneem. In Latyn beteken dit mense rig hulle na die oriens sol – die opkomende son (Dirkie Smit). Dis ook interessantheidshalwe hoekom katedrale – in Europa oa – op ‘n oos-wes-as gebou is. Die altaar/preekstoel is aan die oostekant. Gelowiges kyk dus na die ooste wanneer hulle aanbid. En van hieruit is hulle georiënteer.

‘n Mens sou ook kon praat van die Son van geregtigheid wat oor hulle/ons skyn, met gepaardgaande implikasies. Hoe Hy ons lewe verlig … En hierin lê hoop – my hoop!

En hierdie hoop kan ‘n mens nie vir jouself uitwerk soos met soveel moderne vorme van hoop nie. Nee, dis ‘n geskenk, ‘n genade-geskenk. Ons ontvang dit! Dit lê nie daar ver vorentoe of hoog bo iewers nie. Dis binne-in ons.

En só word ons weer God se hoop vir hierdie wêreld. Hierdie hoop plaas ons op nuwe roetes. Nuwe weë. Dit laat ons nuut dink en kyk. Dit laat ons ánders optree! En hierdie “genade-gedrewe sprietjies van hoop” wat oral uitslaan, help my om hoop vir die toekoms te herwin.

Ek het die afgelope naweek in Hoopstad opgetree.

Bietjie oor hoop gesels. Die volgende gebed gebid nav iets wat ek iewers gelees het:

“Here, dankie vir ‘n mooi land waarin ons kan woon. Dankie dat ons deur U genade al soveel terugslae kon oorwin. Dankie vir mooi mense in hierdie land. Hulle lag so maklik. Van binne seer, arm en stukkend, maar van buite vol van die helder Afrika-son en die liefde vir hulle land. Robuuste, taai mense. Mense wat kan vergewe, wat die wêreld soms laat stilstaan en verwonderd laat toekyk … omdat hoop vir enigiemand so ‘n mooi gesig is om te aanskou. Maar saam hiermee, wil ek tog ook bid vir alles wat nié reg is in ons mooi land nie – dat U vandag iets klein in hierdie wêreld sal verander, op grond van één gebed. Dat U iets nuut sal maak op grond van één getuienis. Dat U iemand sal genees op grond van één versoek. Dat U ‘n stukkie misdaad en geweld sal wegneem op grond van één persoon wat by die poorte van U genade pleit. Dankie dat ons weet U wese is om nuut te maak. Maak ons gewillig om in Jesus se voetspore te volg, want as ons, U kinders, nie bereid is om U koninkryk in hierdie land te laat kom nie, wie Here moet U dan gebruik? Amen”

Jannie Hougaard

Ek sal graag my bydrae maak met ’n Liedgebed wat ek gereeld in meditasiedienste en my eie stiltetyd gebruik.  Ek vind dat die melodie die waarheid van die woorde op ’n manier in my vasmaak.  Ek het dit eenkeer geskryf na ’n praatjie van Coenie Burger waarin hy my getref het met die feit dat God self ons hoop is.

Quintus Heine

Hoe gemaak met mense wat saam met jou leef en wat hoop verloor het – wat hoop-loos is? Ek het al baie by mense gesit met ʼn volslae hooploosheid in hulle oë, net om te sien hoe daar na ʼn gebed lig in hulle oë verskyn. Is dit omdat gebed ʼn towerformule is? Wat is dit dan wat veroorsaak dat gebed so ʼn hoopvolle uitwerking op mense het?

Hoopvolle gebed is nie ʼn towerstaf wat alles regmaak as jy net glo nie. ʼn Hoopvolle gebed vir ʼn hooplose persoon maak ʼn deur oop dat hy/sy weer vir God raaksien. Dis God wat hoop gee. Net Hy kan mense wat sy stem nie hoor nie, weer laat hoor! Gebed is om jou weer bewus te maak van God se liefde en teenwoordigheid in jou lewe. Gebed bring mense in kontak met God. Dit is sy liefde, genade en versoening wat nuwe ʼn uitsig vir mense gee. As jy dus intree vir mense by God en vir hulle bid, weet dat jy slegs die instrument is wat God se lig duideliker in mense se lewens laat skyn.

As gelowiges is ons geroep om ander hoop te gee. Die kerk en sy lidmate is by uitstek ʼn instrument van hoop! In die meeste gevalle is hoopvolle gebed al wat mense nodig het om God weer in hulle lewens te sien. As draer van hoop het ek en jy die verantwoordelikheid om heeltyd ons oë oop te hou, sodat ons kan raaksien wie hoop nodig het.

Frederick Marais

Hoop word herwin deur die wat leer om te luister

Daniel Daréus (Michael Nyqvist)  is ‘n suksesvolle konsert dirigent wat vele inspireer en aan die hart gryp. Na ‘n hartaanval besluit hy om terug te keer na die klein dorpie Norrland in die verre Noorde van Swede, die dorp van sy kinderjare. Hy koop die Laerskool en rig dit in as ‘n blyplek. Kort voor lank bevind hy homself as ‘n onwillige koorleier van die plaaslike gemeente. Sy eerste woorde aan hulle is die volgende:

” Everything in life starts with listening!”

Die verhaal is beroemd gemaak deur die film As it is in Heaven.

As Dareus reg is, en ek dink hy is, sal dit ook so met hoop wees. Hoop groei op as-hope; die ergste van nood is die vrugbare kompos waarin hoop welig groei. Hoop is ‘n artikel wat jy nooit in besit kan neem nie, want die oomblik as jy dit in besit neem, hoop jy nie meer daarop nie. Hoop neem jóú eerder in besit, want dit waarop ons hoop vorm tot ‘n groot mate ons gedrag en denke. Of beter nog, hoop verras jou omdat dit hoop is – om aan te haal uit NT Wright se wonderlike boek  Surpriced by Hope.

Daarom kan jy hoop nie forseer, beredeneer of fabriseer nie.  Jy ontvang dit as ‘n meestal onverwagse geskenk van God. Hoe meer ek leer om te luister, hoe meer word ek verras met hoop wat herwin word op plekke waar ek dit nooit verwag het nie.

Trackback from your site.

Leave a comment