Verder Geluister: 2 Tim 2:8-15

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

10 Oktober 2010 ~ Negentiende Sondag in Koningskryktyd: 2 Tim 2:8-15

“Onthou altyd dat Jesus Christus, ‘n nakomeling van Dawid, uit die dood opgewek is” (2 Tim 2:8), en “Hou aan om die gelowiges aan hierdie dinge te herinner en vermaan hulle ernstig voor God om op te hou stry oor woorde” (2 Tim 2:14).

In die preekstudie vir vandag ontwikkel Eugene Beukes twee moontlikhede vir die prediking. Dit hou verband met die feit dat die leesrooster teks oor twee perikope strek, elk met eie temas vir die prediking. Wat wel in beide ter sprake kom, is die klem op “onthou en herinner”. Paulus wil hê dat Timoteus moet onthou dat dit nie eenvoudig en maklik is om die evangelie te verkondig nie, dit gaan met lyding gepaard. Ons eie bediening is ten nouste met die lyding van Christus verweef, maar ook met sy opstanding. Tweedens herinner hy vir Timoteus om “‘n onnodige woordestryd te vermy en as ‘n arbeider wat God se goedkeuring wegdra” in diens van die evangelie te stel.

Ek wil graag by dié gedagtes van “onthou en herinner” aansluit en verwys na ‘n nuwe publikasie waarvan Larry Goleman die redakteur is. Die titel van die boek is: Teaching our story: Narrative leadership and pastoral formation” (Alban Institute, 2010). Die boek bestaan uit verskeie bydraes, maar ek wil kortliks net stilstaan by die eerste bydrae wat Goleman self geskry het, met die titel: Towards a framework for narrative leadership in ministry.

Goleman poog om ‘n raamwerk te ontwikkel waarin verskillende narratiewe benaderings geïntegreer word en wat veral vir die bediening betekenisvol kan wees. Hy maak gebruik van ‘n sielkundige se navorsing oor die sogenaamde “redemptive self”, van ‘n antropoloog se insigte oor hoe kultuur en verhale in opvoeding werksaam is en van die bekende Howard Gardner se studie oor narratiewe leierskap. Op grond van hierdie insigte distilleer hy vier basiese insigte of beginsels wat mense in die bediening kan help om skeppend te werk te gaan, betekenis te help konstrueer en die proses van verandering in die bediening te begelei. Dit lyk vir my of ons hierdie insigte ook sinvol in die prediking sou kon gebruik, aangesien Paulus besig is om Timoteus te help om ‘n “raamwerk vir sy bediening” te ontwikkel.

Die vier beginsels wat hy noem is:
1. Verhale van verlossing/bevryding in geloof plaas menslike betekenis (meaning) binne die raam van God se tyd om sodoende mense en geloofsgemeenskappe self en hulle waardes te help vorm. Paulus doen dit met Timoteus deur hom aan die kruis en opstanding van Jesus te herinner.
2. Narratiewe leiers maak van persoonlike en simboliese intelligensie gebruik om hulle hoorders of gemeentes in te trek in die herinnering aan en konstruksie van verhale sodat hulle gesamentlik en intensioneel daarop kan reageer. Paulus verwag van Timoteus om op grond van Christus se verhaal op ‘n bepaalde manier op te tree.
3. Die keuse van die genre van verlossings motiewe vir ‘n gegewe verhaal help om die keuse van die plot en die karakters binne die breër doel van ‘n geloofsgemeenskap en ook moontlike reaksies, te plaas. Paulus is besig om vir Timoteus, maar ook vir die gemeente in Efese, voor sekere keuse moontlikhede te plaas – dus om navolgenswaardig en voorbeeldig te wees in hul uitleef van die evangelie.
4. Hierdie vorm van rekonstruktiewe narratiewe maak ook ‘n appèl op die breër kanoniese (Bybelse) verstaan van tradisie en praktyke. Dit beteken onder andere ook die rol van die Bybel om sekere tradisies te ontwrig en om nuwe betekenisse te konstrueer as bewys dat ‘n tradisie iets lewendigs is. Emosionele en fisieke lyding, die paradoks van God se trou ensomeer vorm alles deel van breër Bybelse tradisie wat Paulus aan Timoteus voorhou.

Ian Nell

Seisoen van Luister Powerpoint 2010 2003 & 2007

Foto’s van ruimte

 

Trackback from your site.

Leave a comment