Verder Geluister: Deut 30:15-20

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

Sondag 13 Februarie 2010 ~ Sesde Sondag na Epifanie ~ Verder Geluister: Deut 30:15-20

Met ’n eerste lees van ons fokusteks het daar vir my twee woorde uitgespring: Kies en Vandag. Vir ‘n tweede lees van die teks het ek “Die Boodskap” nader getrek. Dit het my dadelik opgeval. In hierdie vertaling van ons fokusteks gebruik die vertalers die woorde “kies” en “keuse” minstens 13 keer! Die woordjie “vandag” is ook baie prominent. Dit het my finaal oortuig dat die keuse waarvan daar hier sprake is, ’n baie belangrike en dringende keuse is.

Dadelik het my gedagtes op hol gegaan. Dit is ’n wonderlike evangelisasie teks hierdie. Hiermee kan ek ongelowiges gaan oproep tot ’n keuse. Hulle ook waarsku oor die gevolge van hulle goddelose lewe. Dat as hulle so aanhou, as hulle op afgode bly vertrou, dan sal hulle omkom. Maar skielik is dit of ek ’n spoorwegsinjaal in my kop hoor lui: Stop. Moenie so haastig wees nie. Hoe kon ek dit vergeet. Ek is mos geleer om na die konteks van ’n skrifgedeelte te kyk! Moet ek regtig? Ek het mos die Here gehoor. Half teensinnig begin my oog tog dwaal oor die hele hoofstuk. Selfs verder terug tot by die eerste vers van hoofstuk 29.

Ook maar goed so. Want geleidelik besef ek hierdie oproep tot ’n keuse is tog eintlik aan Israel gerig. Die fokusteks is dus nie gerig op ongelowiges nie. Inteendeel, dit is juis vir gelowiges bedoel. Vir my. Nou wat moet ek daarmee maak? Ek het mos gekies. Ek volg God. Ek is selfs ’n teoloog! Geleidelik begin dit tot my deur dring. Hoofstukke 29 en 30 vertel die geskiedenis van Israel. God se geskiedenis met Israel. Van al die wonderlike dinge wat God vir Israel gedoen het! Want sien hierdie gedeelte word aangebied as ’n toespraak by ’n verbondsvernuwingsgeleentheid (29:1). Dit getuig van God se trou aan sy verbond met Israel. Maar dit ontbloot ook die verkeerde keuses wat Israel langs die pad gemaak het. Ook die verskriklike gevolge wat Israel se ontrou en afvalligheid vir hulle ingehou het.

Volgens die verhaalkonstruksie was die Israeliete op hierdie tydstip op die rand van die beloofde land. Daarom heel gepas dat hulle in hierdie toespraak herinner word aan God se trou. Maar ook aan die verskriklike gevolge van verkeerde keuses. Want sien, dit het al ’n vorige keer met Israel gebeur. Hulle kon reeds 40 jaar terug die beloofde land ingeneem het. Maar toe het tien van die verkenners hulle oortuig dat hulle dit nie moet waag nie. Dit is te gevaarlik. Ja, die Israeliete kies om God nie te vertrou nie. Die gevolg is dat die hele geslag, behalwe Kaleb en Josua, in die woestyn omgekom het. Die Israeliete wat nou die beloofde land moes inneem, was ’n hele nuwe geslag, ’n tweede gelag. Daarom word hulle herinner aan God se verlossingsgeskiedenis met Israel en ook aan Israel se verkeerde keuses en ontrou van die verlede. Word hulle opgeroep: Moenie dieselfde doen nie. Kies die lewe! Kies om die getroue God te vertrou. Kies om soos kinders van God te lewe.

Daar is ’n groot aantal Ou Testamentici wat van mening is dat die boek Deuteronomium eers tydens die Babiloniese ballingskap sy finale beslag gekry het. En dat hierdie verhaal juis ’n groot rol gespeel het in die verkondiging aan Israel in hierdie tyd. Want sien hier het ook ’n volgende geslag begin opgroei. ’n Geslag wat Jerusalem nie geken het nie. Wat die tempel nooit gesien het nie. ’n Geslag wie se ouers ontnugter was met wat met hulle gebeur het. Mense wat geworstel het met die realiteite van die ballingskap, die lyding en hartseer en vrees wat dit meegebring het. En ook met twyfel. Mense wat wonder of hulle ooit sal terugkeer na Jerusalem. Of God se beloftes nog regtig geldig is. En boonop was hulle hier in Babilon blootgestel aan allerhande afgode en verhale van hoe die afgode eintlik alles in die wêreld bepaal. Dit kon hierdie nuwe geslag verlei, veral omdat hulle nie self die wonderlike verlossing uit Egipte, die trou en liefde van God  wat daarmee gepaard gegaan het, self ervaar het nie. Ja, die gevaar was dat hierdie nuwe geslag hulle identiteit as volk van God kon verloor en maklik deel kon word van die omringende empire.

Ja, nadat alle vaste pilare van Israel se geloofsoortuigings deur die ballingskap onder hulle verkrummel het, beoordeel hulle nou hul geskiedenis in die lig van die gebooie soos vervat in die oer-Deuteronomium (hoofstukke 12-26). Hierdie teologie verskaf nie net antwoorde oor die tragiese verlede nie (naamlik: Wat het gebeur dat ons nou in ballingskap sit?), maar gee ook hoop vir die onseker toekoms (naamlik: Hoe weet ons dat God steeds ook vir ons weer sal inlei in die beloofde land?). Te midde van hierdie kern-geloofsvrae word Israel voortdurend opgeroep tot die oortuiging dat God se gebooie die kern van hul geloofsoortuiging vorm en dat dit daarom van geslag tot geslag oorgelewer moet word. Want juis daarin lê hulle identiteit, ook hulle toekoms. Ook hier in ons fokusteks word Israel daarom opgeroep om die lewe te kies, om te kies om die Here hulle God lief te hê en God se wil te doen deur God se gebooie, God se voorskrifte en bepalings te gehoorsaam (vers 16). Ja, om God te gehoorsaam en God aan te hang (vers  20). Om hulle identiteit as kinders van God elke dag uit te leef. Dit gaan dus in hierdie oproep om te kies nie net oor die groot keuses van die lewe nie. Die keuse om Jesus te volg, die keuse om belydenis van geloof af te lê, die keuse om ’n doopbelofte voor God af te lê, nie. Dit gaan ook oor die sogenaamde kleiner, onskuldige keuses van elke dag. Die keuses wat toon of ek God en my naaste lief het. Die keuses vir die lewe, ook om die lewe vir ander aangenaam of onaangenaam te maak. Die keuses om trou of nie trou aan God te wees nie.

Terwyl ek so al luisterend weer herinner is aan God se geskiedenis met Israel, het my gedagtes begin om te blaai deur die lêers van my geheue. Ja, in my eie lewe is daar talle herinneringe van my eie ervaring van God se trou aan my. Wonderlike ervaringe waarvan ek net kan getuig: Dit was Goddelike genade! God was oneindig goed vir my! Ek is seker dit is waar ook van jou lewe. Dit is ook waar van die geskiedenis van elke gemeente. Dalk moet ons meer/weer luister na die verhale van God se trou met ons gemeentes.

Maar terwyl ek so deur my geheue blaai word ek ook herinner aan my verkeerde keuses. Ja, dit is soms pynlik om te dink aan die kere wat ek ontrou geword het. Toe ek nie my identiteit as God se kind uitgeleef het nie. Aan die gevolge wat dit vir my lewe ingehou het. Ook vir ander mense se lewens. Dikwels was dit sogenaamde klein, onskuldige besluite wat ek geneem het wat groot gevolge gehad het. Onbedoelde gevolge. Gevolge wat ek glad nie kon bereken nie.

“My hel in Egipte” (Die Burger 1 Februarie 2011) en “Kaïro brand” (Die Burger van 4 Februarie 2011). So het die opskrifte van Die Burger dit die afgelope week uit basuin.  Op TV het ons talle tonele van die onrus, opstand en konflik in Egipte gesien. En dit lyk of nog meer lande in Noord-Afrika en die Midde-Ooste aan die brand kan raak. En dit alles het begin by die keuse van die polisie om ’n vrugteverkoper in Tunisië, Mohammed Bouazizi , te klap en sy vrugtekraampie te konfiskeer. Toe hy die saak gaan aangee by die polisie het hulle nie daaraan aandag gegee nie. Die gevolg? Hy het homself gaan verbrand uit protes (vergelyk verder geluister – Jes. 58:1-8 deur Frederick Marais). En nou brand Kaïro. Die polisie het beslis nie verwag hulle onregmatige optrede teenoor Mohammed Bouazizi sou sulke gevolge inhou nie. Dat hulle keuse tot soveel dood sou lei nie.
Dikwels het ons verkeerde keuses van elke dag nie sulke omvangryke gevolge nie. Dit beteken egter nie noodwendig dat ons keuses minder verkeerd of sleg is nie. Die afgelope naweek het ’n nuwe vriendin van ons gesin vir die eerste keer vir ons kom kuier. ’n Baie toegewyde kind van die Here. Soos so dikwels het ons vir Vrydagaand ’n DVD gekry om net af te skakel en lekker te ontspan na die week se rondhardlopery. Die DVD het skaars begin toe die eerste kru woorde uitpeul. ’n Rukkie later word selfs die Naam van die Here ydellik gebruik. En dit word al erger.

Uiteindelik staan ek op en gaan sit voor my rekenaar, in dieselfde vertrek, en werk. Nie te lank daarna nie staan die vriendin op met die verskoning dat sy wil gaan slaap. Ek laat my kop in skaamte sak. Hoekom het ek nie dadelik die DVD afgesit nie? Wat dink sy nou van ons? Watter beeld van ons identiteit straal dit uit? Nog meer, hoe voel God oor  die petalje? En toe slaan dit my: Sou ek die DVD afgesit het as ons alleen was? Of sou ek bly kyk het?
Ja, is ons fokusteks dalk nie tog bedoel vir ongelowiges nie? Ongelowige gelowiges. Soos ek. Wat so sukkel om elke dag gelowige keuses te maak. Keuses te maak vir die lewe en teen die dood. Keuses wat toon dat ek die Here liefhet en bereid is om sy wil te doen. Keuses wat nie getuig van selfverloëning en die navolging van Jesus Christus nie. Keuses wat nie my identiteit as kind van God uitstraal nie. En die gevaar is dat die sogenaamde klein en onskuldige keuses van elke dag ’n gewoonte kan raak. ’n Gewoonte wat lei tot afvalligheid. Tot die dood in plaas van tot die lewe.

Daarom is ons fokusteks ’n baie ernstige teks. Juis vir my as gelowige. Want sien ek mag nooit rus in my groot keuse(s) van die verlede om God te vertrou nie. Die uitdaging is om elke dag te kies, te kies vir die lewe, om God lief te hê en aan te hang, om God te gehoorsaam en God se wil te doen. Ja, ons fokusteks roep my op om vandag my oorspronklike keuse vir die lewe te herbevestig.  Ek kan tog mos nie anders reageer op God se wonderlike trou aan my nie. Of wil ek dobbel met my toekoms.

VIR KINDERS
Terwyl ek hierdie gedagtes geskryf het, het die vraag by my opgekom: Hoe sal ek die fokusteks vir kinders oordra? Dit is nie maklik nie. Dit is immers ’n feit dat stories duideliker met kinders kommunikeer as ’n logiese verduideliking van ’n teks. Dalk kan die verhaal van Josua en Kaleb en die ander 10 verkenners ons hiermee help. Dit illustreer immers duidelik die gevolge van ’n bepaalde keuse vir die lewe. Wil jy nie dalk tog probeer om verhalend hieroor te preek nie? Vertel tog net die storie met oorgawe!
Geniet die proses van  preek maak en die prediking self!

Jan Grobbelaar

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere preekriglyne oor Det 30: 15-20 in argief

 

 

Tags: , , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment