Verder Geluister: Efesiërs 2:11-22 – Een nuwe mensheid, geskenk en opdrag

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

22 Julie 2012 ~ Agste Sondag in Koninkrykstyd ~ Ef 2: 11-22

Een nuwe mensheid, geskenk en opdrag

Ons as gemeente is ‘n nuwe bevryde gemeenskap – een nuwe mensheid in Christus wat met ‘n nuwe blik, met die oë van Jesus na ander mense kyk. Dit transendeer eie belange en word deur ander se eie unieke menswees en kultuurverskille verryk. Lidmate kan nie geloofwaardig die boodskap van versoening uitdra indien die kerk self onversoend leef nie. Aparte kerke vir aparte kultuur- groepe beteken die voorsetting van Apartheid en dien nie die goeie nuus van versoening in Christus nie. Dit belemmer nasionale versoening en verskraal die krag van die evangelie. Die nuwe mensheid veronderstel ‘n Christelike etiek en is ‘n geskenk vir die wêreld.

Volgens Martin Versfeld is daar ‘n ingrypende verskil tussen ’n nasionalistiese etiek en die Christelike etiek. “Laasgenoemde word gestuur deur ’n geloof in ’n ware eenheid van die mensdom: die mensheid het ’n algemene oorsprong en ’n algemene doel in God en mag dus nie op ’n manier handel wat voorgee dat hulle nie almal na Sy beeld geskape is nie. Gevolglik is rassediskriminasie, eensydige patriotisme, deelneming aan onregverdige oorlog, uitbuiting, ens. sonde”.
http://repository.up.ac.za/bitstream/handle/2263/16260/Wolff_Selfkennis

Malan Nel skryf “Die gemeente is prototipe van die nuwe mensheid. Met die skep en voltooiing van die nuwe mensheid is God besig. Juis in hierdie verband is die gemeente God se geskenk aan die wêreld vir wie Hy so liefhet dat Hy sy eie Seun gegee het … Die gemeente is uit die aarde vir die aarde geskep; uit die wêreld, vir die wêreld. Uit die wêreld geskep en aan die wêreld teruggegee, geskenk. God dink wêreld en kerk tegelyk. Die kerk word in ‘n bepaalde sin tegelyk relevant en relatief in verhouding tot God se betrokkenheid by sy skepping. Ons mag nooit ons dubbele geboorte vergeet nie: uit God en uit die wêreld gebore” (http://www.teo.co.za – Teologies nagedink: Ons roeping in die wêreld). 

Die bediening van versoening laat die hart van die Christelike geloof goed en reg klop. Die universele en kosmiese versoening in Christus het reeds plaasgevind. God het deur Christus die wêreld met Homself versoen (2 Kor:5: 19). Dié wêreld bestaan uit gelowiges en nie-gelowiges en sluit ons vyande, agnostici  en ateïste in. Aan die ander kant word mense uitgenooi om tot diens van versoening te wees (Kistner). “The experience of God’s reconciliation in Christ that has already happened and that comprises all humans and creation, obliged Paul to take an uncompromising stand against members of the Church who were anxious to establish barriers of irreconcilability in the Church (for instance , those in Galatia). At the same time it exposed him to the persecution by religious leaders of the Jewish religious community as well as by the Roman Empire” (Kistner).

Die alomvattende versoening van God met die wêreld in Christus, wat reeds plaasgevind het en wat deur die gemeente geïmplementeer word en gelowiges bedien word, stel geweldige uitdagings. Dit is ‘n “… highly provocative message of the Church as an alternative society that obliges her to practise participation of all its members and sharing of its resources in its own life as well as in its relationship with the whole human community of which it is part” (Kistner).

Ons gemeente leef vanuit die versoening met God in Jesus Christus (Jonker). Dit dring ons om na gelyke menswaardigheid te streef; ons gee erkenning aan minderhede; ons stry vir ekonomiese geregtigheid; ons beveg misdaad en korrupsie en ons verbly ons oor gender gelykheid in ons gemeenskap en land. 
 

Black&White
http://bitsandpieces1.blogspot.com/2006/08/black-and-white.html

Uit die media
Minderhede13 July 2012 06:00 AM
Die leier van die vryheidsfront Plus, dr. Pieter Mulder, sê dit is belangrik dat die probleme wat minderhede in Suid-Afrika ondervind nou in die buiteland bekend gestel word, al irriteer dit die ANC. Mulder was op ‘n besoek aan België waar hy onder meer die veertiende vergadering van die UNPO-presidensie in Brussel bygewoon het. UNPO is ‘n internasionale organisasie wat in belang van minderhede wêreldwyd optree. Cobus Bester praat hieroor met Mulder. Media files 20120713_MON_LIVE_MINDERHEDE.mp3 (MP3 Format Sound, 4.0 MB)

ANC kry pak op armoede-konferensie
Mar 17 2011 07:29 Edward-John Bottomley – Kaapstad
Hoës uit akademiese, sake- en politieke kringe het die week op ’n armoedekonferensie teen die regering uitgevaar en gesê korrupsie, swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en die onbevoegdheid van staatsamptenare dra regstreeks tot armoede in die land by. Die konferensie, wat georganiseer is deur die barmhartigheidsbedieninge van die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk, is gehou om te besin oor armoede in Suid-Afrika.

Die ANC was in die spervuur weens sy ekonomiese en maatskaplike beleid wat volgens die sprekers grotendeels net die rykes bevoordeel. “As jy my vra waaroor ek die meeste teleurgesteld is, dan sou ek sê dat ek my nooit sou kon voorstel dat die ANC-kamerade so geweldig korrup en so geweldig gierig sou wees nie,” sê dr. Franklin Sonn, sakeman en oud¬ambassadeur.
Volgens Sonn is een van die grootste struikelblokke vir die oplossing van armoede “die ondoeltreffendheid van die staat, staatsamptenare wat nie hul werk doen of wil doen nie, en sluwe politici. “Ander bekendes soos mnr. Tony Ehrenreich, Cosatu se provinsiale sekretaris, en mnr. Moeletsi Mbeki, politieke ontleder en broer van oudpres. Thabo Mbeki, het uitgevaar teen SEB. Volgens Mbeki lei die ANC se huidige beleid daartoe dat “dié met mag ryker word”. “Maar om die mag te behou, verhoog die regering sy besteding aan maatskaplike toelae,” sê hy.

Die regering onderhou sowat 15 miljoen mense op ’n begroting van R100 miljard. “Dís wat die stemme vir die ANC koop. Altesame 67% van ANC-kiesers het nie werk nie. Die opvoeding van arm, swart township-kinders is nie ’n prioriteit nie,” sê Mbeki. Volgens hom het meer as 60% van die regering se kiesers ’n paar jaar se hoërskool-opleiding en minder as 10% het tersiêre opleiding. In teenstelling hiermee het meer as 30% van die DA se kiesers ’n naskoolse graad.

“Die vraag is of die ANC ’n gevestigde belang het om die armes arm en onopgevoed hou. Dit kan ek nie antwoord nie,” sê Mbeki. Hy het ook uitgevaar teen korrupsie, wat besteding verlaag, veral in die mynbedryf. Mbeki het verwys na die omstrede mineralereg-dispuut tussen Kumba en Im¬pe¬rial Crown Trading 289. Hy het mnr. Duduzane Zuma en die “nuwe Shaiks”, die Gupta-familie, by name genoem. “Die regering bestee al hoe meer aan sy eie private verbruik,” sê hy. Dié geld kan beter aangewend word vir beleggings in infrastruktuur.

“Een van die gevolge hiervan is dat ons skuld die hoogte inskiet. Dit sal na verwagting R1 300 miljard in 2014 wees.” Prof. Sampie Terreblanche, emeritus professor in ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch, sê die maatskaplike toelae van die ANC is prysenswaardig, maar dat dit “die vryheid beperk van diegene wat teen die regering stem”. “Ons moet ons nie laat mislei en dink dat ons demokrasie goed funksioneer nie,” sê Terreblanche. “Die mense is te arm en het nie die ervaring om te kies nie. Hul enigste keuse ¬is oorlewing. “Prof. Stef Coetzee, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI), het gesê hy verskil van Mbeki. “Die regering is ’n breë organisasie en daar is baie mense daar wat passievol is oor armoede.”

Hy het egter saamgestem dat daar nie genoeg bekwame staatsamptenare in poste geplaas word nie weens nepotisme, korrupsie of regeringsbeleid. “Afrikaners is seker die laastes wat daaroor by die regering kan kla, maar twee maal verkeerd is nie reg nie.”

Nasionale versoener

Uit die Bybel:
Bybelse versoening verwoord in die Belhar Belydenis

1. Ons glo in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, wat deur sy Woord en Gees sy Kerk versamel, beskerm en versorg van die begin van die wêreld af tot die einde toe.

2. Ons glo aan een heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges, geroepe uit die ganse menslike geslag.

Ons glo dat die versoeningswerk van Christus sigbaar word in dié kerk as geloofsgemeenskap van diegene wat met God en onderling met mekaar versoen is;

dat die eenheid van die kerk van Jesus Christus daarom gawe én opdrag is; dat dit ‘n samebindende krag is deur die werking van Gods Gees maar terselfdertyd ‘n werklikheid is wat nagejaag en gesoek moet word en waartoe die volk van God voortdurend opgebou moet word;

dat hierdie eenheid sigbaar moet word sodat die wêreld kan glo; dat geskeidenheid, vyandskap en haat tussen mense en mensegroepe sonde is wat reeds deur Christus oorwin is en dat alles wat die eenheid mag bedreig, gevolglik geen plek in die kerk van Christus mag hê nie, maar bestry moet word;

dat hierdie eenheid van die volk van God op ‘n verskeidenheid van maniere sigbare gestalte moet kry en werksaam moet wees, daarin dat ons mekaar liefhet, gemeenskap met mekaar beleef, najaag en beoefen; daarin dat ons skuldig is om onsself tot nut en saligheid van mekaar gewillig en met vreugde te gee; daarin dat ons een geloof deel, een roeping het, een van siel en een van sin is, een God en Vader het, van een Gees deur drenk is, van een brood eet en uit een beker drink, met een doop gedoop is, een Naam bely, aan een Heer gehoorsaam is, vir een saak ywer, een hoop met mekaar deel, saam die hoogte en breedte en diepte van die liefde van Christus leer ken; saam opgebou word tot die gestalte van Christus, tot die nuwe mensheid; saam mekaar se laste ken en dra en so die wet van Christus vervul, mekaar nodig het en mekaar opbou, mekaar vermaan en mekaar vertroos, saam met mekaar ly vir die geregtigheid, saam bid, saam diensbaar is aan God in hierdie wêreld, saam stry teen alles wat hierdie eenheid mag belemmer of bedreig;

dat hierdie eenheid slegs in vryheid gestalte kan vind en nie onder dwang nie; dat die verskeidenheid van geestelike gawes, geleenthede, agtergronde, oortuigings, soos ook die verskeidenheid van taal en kultuur, vanweë die versoening in Christus geleenthede is tot wedersydse diens en verryking binne die een sigbare volk van God;

dat die ware geloof In Jesus Christus die enigste voorwaarde is vir lidmaatskap van hierdie kerk.
Daarom verwerp ons enige leer wat òf die natuurlike verskeidenheid òf die sondige geskeidenheid so verabsoluteer dat hierdie verabsolutering die sigbare en werksame eenheid van die kerk belemmer of verbreek of selfs lei tot ‘n aparte kerkformasie, wat voorgee dat hierdie geestelike eenheid werklik bewaar word deur die band van die vrede wanneer gelowiges met dieselfde belydenis van mekaar vervreem word ter wille van die verskeidenheid en vanweë die onversoendheid;

wat ontken dat ‘n weiering om hierdie sigbare eenheid as ‘n kosbare gawe na te jaag sonde is,
wat uitgesproke of onuitgesproke voorgee dat afkoms of enige ander menslike of sosiale faktore medebepalend is vir lidmaatskap van die kerk.

3. Ons glo dat God aan sy kerk die boodskap van versoening in en deur Jesus Christus toevertrou het; dat die kerk geroep is om die sout van die aarde en die lig van die wêreld te wees; dat die kerk salig genoem word omdat hulle vredemakers is; dat die kerk deur woord en daad getuies is van die nuwe hemel en die nuwe aarde waarop geregtigheid woon;

dat God deur sy leweskeppende Woord en Gees die magte van sonde en dood, en daarom ook van onversoendheid en haat, bitterheid en vyandskap, oorwin het; dat God deur sy leweskeppende Woord en Gees sy volk in staat stel om te leef in ‘n nuwe gehoorsaamheid wat ook in die samelewing en wêreld nuwe lewensmoontlikhede kan bring;

dat hierdie boodskap ongeloofwaardig gemaak word en dat die heilsame uitwerking daarvan in die weg gestaan word indien dit verkondig word in ‘n land wat op Christelikheid aanspraak maak, maar waarin die gedwonge skeiding van mense op rassegrondslag onderlinge vervreemding, haat en vyandskap bevorder en bestendig;

dat enige leer wat sodanige gedwonge skeiding vanuit die evangelie wil legitimeer en dit nie wil waag op die pad van gehoorsaamheid en versoening nie, maar uit vooroordeel, vrees, selfsug en ongeloof die versoenende krag van die evangelie by voorbaat verloën, ideologie en dwaalleer is.

Daarom verwerp ons enige leer wat in die naam van die evangelie of die wil van God die gedwonge skeiding van mense op grond van ras en kleur in so n situasie sanksioneer en daardeur die bediening en belewing van die versoening in Christus by voorbaat belemmer en van krag beroof.

Pieter van Niekerk

Seisoen van Luister

Efesiërs 2:11-22 – 8ste Sondag in Koninkrykstyd – 22 Julie 2012

Efesiers2_11-22Vir Familietyd kan die verhaal van Eugene Peterson – from a zero to a minus – vertel word om kinders te help om uitsluiting te kan hanteer. Vir die preekriglyn kan die verhaal van Becky Zerbe se hantering van haar man Roger se groeiende vergeetagtigheid weens Alzheimers gebruik word om te ontdek hoe belangrik dit is om te onthou. Ons kan op dieselfde wyse vir mekaar in die kerk help onthou, nie net die dinge van die verlede waarvan ons verlos is nie, maar ook die verandering wat Christus bring. Dit onderstreep ons identiteit en roeping. Dit fokus ons aandag op God se werk en die doel daarvan: om ’n heilige tempel te bou. Hierdie onthou-werk is die krag wat ons lewens verander.

Efesiërs 2:11-22.ppt 868.5 KB Jul 16, 2012 00:13 Download
Efesiërs 2:11-22.pptx 581.86 KB Jul 16, 2012 00:09 Download
Efesiërs 2:11-22.doc 102 KB Jul 16, 2012 00:07 Download

 

Tags: ,

Trackback from your site.

Leave a comment