Verder Geluister: Hand 17:22-31

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

29 Mei 2011 – Sesde Sondag in Paastyd ~ Hand 17:22-31

Van kerke na kroeë; van gemeentes na gekwestes

In my preekstudie van die teksdeel haal ek ‘n verhaal van Dan Clendinin uit sy essay “From Synagogues and Sanctuaries to Bars and Boardrooms; The apostle Paul at the Aeropagus” aan. Lees gerus op p. 175 in Preekstudies van 2010-2011. Ek sluit hierby aan soos jy van die opskif kan aflei.

Tydens ons laaste streeksinode, na ’n lang dag van praat en sit, redeneer en argumenteer, stap ek laat aand ‘n kroeg in Bellville binne. Die deurwag (uitsmyter) is groot en groet vriendelik, terwyl hy die deur vir my oopmaak. Binne sien ek klomp mense, oud en jonk, bruin, swart en wit, mans en vrouens pool speel. ‘n Gay-paartjie sit met ander rondom die kroegtoonbank rustig en gesels. Ek bestel ‘n bier en sit alleen in die hoek en hou ‘n Indiër en Afrikaner dop, wat aan die tafel naaste aan my pool speel. Ek dink net die brood mis. Na die dag se onrus, vind ek hier so wrintiewaar rus. G’n wonder Chris Jones skryf onlangs vir die Kerkbode: Die “kerk” se einde is in sig. Hy skryf: Die NG Kerk het ʼn toenemend “konflik-belade” kerk geword waarin interne verskille, stryd en worsteling met behoud van integriteit, voortdurend na vore kom. Dít laat ons die beperktheid van sy lewenstog (in huidige vorm) net nóg helderder sien! Die kerk waar ek werk, maak my ook maar lekker moedeloos, dis so asof ons sukkel om God se wil vir vandag te onderskei en in pas daarmee te kom . Ons is kerk omdat daar ‘n sending van God is; en nie omgekeerd nie (Bosch). Die institusionele kerk is in die knyp en aan die kwyn; ek wonder of God die kerk -strukture en –taal verwelkom.  

Jones skryf: Al hoe meer post-moderne mense tree weg van strukture en modernistiese kerktaal. Alhoewel struktuur nut het, belê diesulkes gewoon nie meer geld en tyd hierin nie. Hulle strewe om die wonder van die verrassende, die vrye paaie van die Gees te beleef. Kerkwees is vir hulle véél meer as ‘n lidmaat-bewys en kerkorde. Hulle “commit” hulself nie met papier nie, maar met ‘n lewenstyl; nie via kommissies nie, maar elke lewensfaset is ‘n bedieningsgeleentheid. Die institusionele kerk het vir hulle benouend geword. Hulle is oortuig dat strukture ontwerp is vir ‘n tyd wat nie meer bestaan nie!

Ek is moeg vir al die politiek in die kerk. Terwyl ons tereg pres. Zuma se hemel betwyfel, wonder ek oor ons aardse geloofwaardigheid. Ons vertoon God se genade gebrekkig, die hoop wat in Christus se opstanding lê, halfhartig. God is daar waar mense hom die nodigste het, dit roep gelowiges en gemeentes uit hul gemaksones na die gekwestes en gestrandes. God se genade is vir almal bedoel.

Jones eindig sy kommentaar: Die “kerk” se einde is in sig … maar só ook sy begin! Die eeue oue ritme van dood en opwekking wat in elkeen van ons kragtig werk, is ook in die kerk aan die werk. Genadiglik! Ons kan nie meer net sit nie, ons moet opstaan. God se liefde laat ons opstaan veral wanneer iemand ly.

Terloops die “einde” het niks met Harold Camping en Johannes Coetzee se “wegraping” te make nie.

 

Pieter van Niekerk

Seisoen van Luister Powerpoint

Verdere preekriglyn in Argief – Hand 17:22-32

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment