Verder Geluister: Hand 7:55-60 Vergifnis maak jou vry

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

Maar tog bid ons: “en vergeef ons ons oortredinge soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.”
En dan Jesus se woorde aan die kruis: “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Soms voel ons net té seer om te vergewe, maar Jesus, soos ook Stefanus, roep ons op om op ‘n “bold” manier te vergewe. En om vir God te bly vra om nie op te gee met hulle wat verkeerd opgetree het nie. Want dís tog hoe God met ons maak.
Is ons bereid om  hierdie pad te loop terwyl ons met woede, haat, geweld en moord gekonfronteer word? Kom ons dink vanuit hierdie teks ‘n bietjie na oor die belangrikheid van vergifnis in óns lewe.

Daar is ‘n soort gevangeneskap wat ‘n mens nie regtig kan sien nie. Hierdie tronk hou ‘n mens nie gevange met tralies, staalhekke en mure nie. Nee, dit bind jou van binne. Sy naam is: onvergewensgesindheid! Die onvermoë om iemand te vergewe.

Nadat Jesus vir sy dissipels die “Onse Vader” gebed geleer het, gaan Hy voort om vir hulle net één aspek uit die gebed te verduidelik – die deel oor vergifnis. Gaan lees gerus weer Mat 6:14-15. Dit was vir Jesus ontsettend belangrik. Want Hy het sy lewe gegee om ons oortredinge te vergewe.

Ons elkeen weet wat dit is om ander seer te maak. Ook weet ons wat dit is om seergemaak te word. Maar om te vergewe, is so ontsettend moeilik. Dis eintlik ‘n wonderwerk.

Maar God verwag dit van ons. Hy verwag dat ons nuut sal begin. Nuut met jouself, maar ook nuut met die mense om jou wat jy seergemaak het. Hy wil hê ons moet van vooraf begin met daardie persoon wat ons so intens seergemaak het. Of te na gekom het. Dis om tyd te maak en liefde te betoon aan iemand wat dit volgens jou nie verdien nie. Vergifnis is om die onvergeeflike te vergewe!

Feitlik al Christus se kruiswoorde kom direk of indirek uit Ps 22. Maar daar is een kruiswoord wat nie in Ps 22 voorkom nie. “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” En só gaan Christus één kruiswoord verder as die Skrifte en vandat Hy dít gedoen het, kan ons ook deur Sy genade vergewe. Net soos Stefanus.

By wie begin vergifnis? Dit begin by jou!! By niemand anders nie. Jy moet die inisiatief neem. Jy moet jou hand uitsteek. Jy moet daardie persoon vir wie jy te na gekom het, verseker van jou vriendskap. Selfs die persoon wat jou te na gekom het. Jy moet die eerste tree gee. Jy moet weer jou vrou se man word. Jy moet weer jou pa se kind word. Dit is wat die Woord ons leer!

Maar dis ‘n proses. Dis nie ‘n skakelaar wat jy aan of af skakel nie. Nee, dis om seergemaak te wees. Dis om verbitterd te wees. Hatig te wees. Maar dis uiteindelik ‘n wilsbesluit – ‘n geloofsbesluit. Jy moet besluit: “ek gaan die seer begrawe. Ek wil die pad van genesing, herstel, bevryding, vergifnis stap.”

Jy moet bewus wees van die vernietigende gevolge van negatiewe gedrag in ‘n mens se lewe, soos om nie te vergewe nie. Jy moet besluit om hierdie boek van kwaad toe te maak.

Vergifnis bly ‘n wonderwerk. Alexander Pope het gesê: “To err is human, to forgive divine”. Onthou: wraak maak die telling gelyk (oog vir ‘n oog!), maar vergifnis maak van jou ‘n wenner. Dit bevry jou. En belangrik: jy het ‘n keuse.
‘n Mens sou hier ook na Markus 11: 22-25 kon verwys: “Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê: Lig jou op en val in die see, en daarby nie twyfel nie, maar glo wat hy sê, vir hom sal dit gebeur.”

En dan vs 25, wat ons dikwels nie genoegsaam in verband hiermee bring nie: “En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredinge vergewe.”
Nou het jy dit seker gehoor? Duideliker kon Jesus dit nie gesê het nie. As ‘n mens die krag van gebed wil ervaar, daardie “bergverskuiwende ervarings” wil hê, moet jy eers die dinge wat jy teen ander hou, of wat hulle aan jou gedoen het, vergewe. By die kruis gaan neerlê. Dan kan die krag van God deur jou vloei.

Daar is geen voordele wat met onvergewensgesindheid gepaardgaan nie. Dis die moeite werd om te vergewe.
Waar ‘n mens dit reg kry om te vergewe, ontstaan ‘n stuk innerlike vrede, geluk, en ‘n nuutgevonde stuk entoesiasme vir die lewe. Daar breek die lentebloeisels van God se komende koninkryk vir jou deur. Dis wat Christus vir ons aan die kruis kom doen het. Dis wat Hy van ons verwag! Dis die voorbeeld wat Stefanus vir ons gestel het.

‘n Paar verdere gedagtes:

  • Kan ‘n mens regtig vergewe én vergeet? Ek dink ‘n mens onthou altyd die seer, maar vergifnis help jou om nie met dieselfde negatiewe emosie(s) as vroeër daaraan te dink nie! Jy raak nie telkens van vooraf verbitterd nie. 
  • Dis belangrik dat jy jouself ook moet kan vergewe. God sê Hy werp ons oortredinge in die diepte van die see. Hy dink nie weer daaraan nie. Dis ons wat telkens terugkeer na die “viswaters”, begin “hengel” en daardie oortredinge “uittrek”. Dan kasty ons onsself weer van ooraf. Dis nie wat God wil hê nie.
  • Onvoorwaardelike liefde vir jou medemens is belangrik om te kan vergewe. Tony Campolo vertel van ‘n jong student wat eendag in April 1958 ‘n brief gaan pos het. Op pad terug het ‘n bende tienderjariges hom voorgekeer omdat hulle geld benodig het om te gaan dans. Hulle het hom beroof en wreedaardig vermoor. Die jong Koreaanse student wat in Philadelphia (Amerika) studeer het, was ‘n toonbeeld van Christenskap. Die seuns wat hom vermoor het, was veragtelik. Selfversekerd. Aggressief. Toe die regter die dag die vonnis uitspreek, het hulle vir hom gelag. Die weduweemoeder van die student het met finansiële hulp van haar kerk in Korea die hofverrigtinge bygewoon. Almal het verwag dat sy bitter sou wees, maar sy was nie. Sy het spesiaal gekom om die moordenaars van haar seun te help. Toe hulle skuldig bevind is, het sy op haar knieë voor die regter gaan staan en gesoebat dat hy hulle lewe moet spaar. Haar optrede het die jeugdige moordenaars so getref, dat hulle begin huil het, en berou getoon het. Polisiemanne het begin huil. En die inwoners van Philadelphia (wat broederskap beteken) het gesien hoe die liefde van God konkreet tot uiting kom in die ma se liefde vir haar seun se moordenaars. Hierdie ma het besef hoe vernietigend woede en onvergewensgesindheid kan wees. 
  • Los die tou! ‘n Bekende Nederlandse vrou vertel ‘n aangrypende verhaal oor vergifnis. Iemand het haar baie seergemaak en sy het gesukkel om die persoon te vergewe. Sy het weke lank snags wakker gelê. Een nag het sy ernstig vir God gevra om haar hiermee te help. Die volgende dag het sy by ‘n straatkafee gaan koffie drink, en sielik het ‘n predikant by ‘n tafeltjie langs haar kom sit. Sy het langs hom gaan sit en haar probleem aan hom verduidelik. Dat sy gesukkel het om te vergewe. Hy het haar vertel dat hy van ‘n klein plattelandse gemeente kom. Een van sy take was om die kerkklok elke Sondag te lui. Dit was nog een van daardie ou modelle wat jy met ‘n tou gelui het. Nou vertel hy hoe hy sy hand op die tou geplaas het en die klok dan begin lui het. Solank as wat hy die tou getrek het, het die klok gelui. En wanneer hy moes stop, het hy doodgewoon sy hand gelos. Die klok het sagter en sagter gelui totdat dit ophou lui het. Vergifnis werk ook so. Wanneer iemand jou te nakom, sit ‘n mens gewoonlik jou hand op die tou. En solank jy die seer vertroetel, lui die klok in jou gemoed. En hierdie geluid sal jou gek maak, dit sal jou gees seermaak, behalwe as jy die tou los. Los daarom die tou van bitterheid of haat, en die gelui sal mettertyd sagter en sagter word totdat dit ophou lui. Dis hoe vergifnis werk! 
  • Jo Petty het gesê: “Forgiveness is the fragrance the violet sheds on the heel that crushed it!” 
  • Lees meer oor vergifnis en verhale hieroor by: 

https://communitas.co.za/wp-content/uploads/2010/03/Heartlines_Preeksketse_Waardes.doc

Chris Jones

Seisoen van Luister PowerPoint

 

 

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment