Verder Geluister: Jeremia 33:14-16

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

As ek so deur die koerante blaai, is dit verstommend hoe min geduld ons het – wat moet gebeur, moet nóú gebeur, anders skryf ons dit af as ‘n verlore stryd. Ek dink Jeremia het ook maar ‘n bietjie aan hierdie siekte gely, soos baie van ons gewaande profete van vandag.

Ek skryf hierdie gedagtes terwyl ek in Nederland is en die verkiesing van die eerste premier van die EU volg. En hoe die Belgiese premier, Herman Van Rompuy, onverwags verkies is. Sy foto in Trouw van die afgelope Saterdag is geneem waar hy as “gelowige Katoliek” – só beskryf die koerant hom – op sy jaarlikse retreat is. Ek ken die man nie en wil my nie uitlaat oor sy politiek nie, maar ek kon nie anders as om verwonderd te wees oor ‘n politikus wat op ‘n stilretreat tyd maak om in God se teenwoordigheid te wag nie. Waarskynlik besef hy hoe nodig hy dit het, want hy staan elke dag in die politiek van die dag – gejaagd en onder druk. So hy moet wegbreek. Hy besef hoe belangrik dit is om oor tyd na te dink, want daar kom ‘n tyd, so sê die Here … Dis waarmee ons teks van hierdie week begin.

Ons begin hierdie week (Advent) nadink oor die koms van die Koning, wat as vervulling van God se belofte gekom het – Jesus, die seun van ‘n timmerman, nie uit die elite van die samelewing en ook nie uit Jerusalem nie. Die tyd het inderdaad gekom, maar vele het Hom nie (h)erken as die vervulling van die belofte nie! Die probleem is nie dat die tyd nie gekom het nie, maar dat dit in ‘n vorm gekom het wat nie (h)erken is nie – wat ‘n mens laat wonder hoe dikwels dit oor en oor met ons gebeur dat die reg van God in ons tyd deurbreek, maar dat ons dit nie (h)erken nie!

Dít het my laat dink aan die volgende gedig van Sheila Cussons:

“Wat ruis in die donker flikkerende bome
in die wind, en glans in die driftige vlae
van die reën, roer in die wortel, stoot
in die sap? – besige Christus, Jy.
Hoe kon ek jou ooit misgekyk het
die sin van dié stuwing gemis het
en so afwesig gestaar het na my?”
– Sheila Cussons (“Corpus Christi”, uit: Die swart kombuis, 1978, Kaapstad: Tafelberg.)

Is wat ons nodig het, nie mense wat kan wag op die inbreek van God se tyd nie … So, waaroor gaan die belofte?

Die preekstudie wys daarop dat … ”mishpat op verskeie maniere in die Ou Testament gebruik is om heerskappy of regering te beskryf.” Die reg waarna hier verwys word, is nie in die eerste plek dit wat ons van die regering alleen verwag nie – nee, elkeen van ons word opgeroep tot billike, medemenslike (Engels: “kind”) optrede. Dit laat ’n mens onwillekeurig aan Matteus 7:12 dink: “Alles wat julle wil hê dat mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.” Die Koning wat gaan kom, sal nie alleen toesien dat reg geskied nie, maar sal ook self reg doen.

Onreg begin wanneer ons die vermoë verloor of onwillig is om ander mense te sien as medemense wat “voel-soos-ek-voel” en “ly-soos-ek-ly”. Die voorloper van daadwerklike onreg skuil dikwels in gesindhede wat die volle menswaardigheid van ’n medemens ontken. Maar Christene weet tog van beter! Ons volg die Koning wat met sy lewe en sterwe kom demonstreer het wat ware medemenslikheid en God se geregtigheid beteken. Blaai maar deur die koerante of deur jou eie gedagtes en kyk hoe dikwels is die oproep tot geregtigheid direk gekoppel aan eie belang en ‘n gepaardgaande onwilligheid om ander te sien as mede-mense.

Wanneer ons hierdie week begin met Advent, die seisoen waarin ons die koms van die Koning vier, doen ons dit vanuit die wete dat God se belofte gehou is. Die Koning het gekom en sal weer kom om ‘n koninkryk finaal te laat deurbreek waarin geregtigheid geleef sal word. Dit is die hoop van waaruit ons leef!

Frederick Marais

Seisoen van Luister Powerpoint

Verdere preekriglyn in argief

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment