Verder Geluister: Jes 52:13- 53:12 …. Goeie Vrydag

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

6 April 2012 ~ Jes 52:13- 53:12 …. Goeie Vrydag

Die Leesrooster se eksegese, kommentaar en preekvoorstel, het een woord by my laat vassteek: offer. Jesus was die offer. Dit is lank terug voorspel. Abraham se lewe vertel van die vroegste voorbeelde van die patroon waarvan ons in Jes. 52-53 lees. Hy moes sy enigste seun, sy letterlike laatlammetjie, gaan offer. Dit het bloedsweet gekos. Dink hoeveel duisende kere die drama weer afspeel met elke bloedoffer op elke altaar. Israel, die kerk, sê Gen 12:1-3, is gegee om ʼn seën te wees vir die wêreld. Offer-wees is deel van die gelowige se diepste identiteit.
 
As jy hierdie patroon nie in die geskiedenis kan sien nie, bly jy blind. Dis half amusant hoe die kommentare sukkel om ʼn konkrete gebeure vir Jes 52-53 te kry. Dit “moes” mos êrens konkreet afgespeel het. Dis die storie rondom Serubbabel en Darius, sê sommige, dis Israel self, sê ander. Natuurlik – hulle en baie meer! Die offerpraktyk is een van die mees “obvious” patrone of rituele in die Bybel wat die gelowige die hele tyd wil herinner aan sy/haar identiteit.

Offer is nie die verstekopsie (default) van die wêreld nie. Kyk na die koerante en media en alles waartoe die advertensiemedia ons aanspoor. “Ons wil almal hoog in aansien wees, baie eer ontvang.” (52:13) Wie wil nou homself uitgee vir die pyne en smart en ander se swaarkry en ellende help dra? Wie gee sy lewe as ʼn skuldoffer weg?

Daar is ʼn uiters sensitiewe vorm van offers opeis vir jou eie beswil. As jy onder kolonialisasie en groot Brittanje (of wie ook al) gely het, eis jy vergelding en vergoeding. As jy voorheen benadeel was, soveel te meer. As jy ʼn vrou is, soveel te meer. Daar is soms nie veel verskil tussen regstellende aksie en wraak nie. Restitusie is wat almal verlang. Reg. Maar gebeur dit om mee te offer om of mee verryk te word vir selfsugtige redes?

Ons leef en is deel van ʼn verbruikersmaatskappy  met ʼn verbruikersmentaliteit: om te koop, te ontvang, te hê. “Ons wil almal hoog in aansien wees, baie eer ontvang.”

Oor dit alles staan selfsug geskryf.
Offer, opoffer, is die teenoorgestelde.

Ek kon die betekenis van offer by my ma sien. Van die grootste indrukke in my lewe wat my die meeste gevorm het was my ma – hoe sy geoffer het. In elke vrou wat haarself, haar liggaam, gee om ʼn kind in liefde te ontvang, te versorg en groot te maak, sien mens iets van hierdie offer. Om só lewe te kan gee, is ʼn uitsonderlike voorreg. Maar vra vir die vrou; dit kos opoffering, wonde, pyn.

Jes 52:13-53:12 is bekend. Jesus se sterwe en opstanding is bekend. Paulus se lied oor hierdie patroon in Filippense 2:5-11 is hopelik net so bekend. Ons word geroep om te dien. Om af en nie op te beweeg nie … af na waar ons tot die uiterste diensbaar kan wees. Die geboorte van lewe en die koms van vrede is altyd in die pyn van opoffering.

Offer. Om op te offer is deel van die diepste wese van geloofsidentiteit. Dis waar lewe en vreugde en vrede begin. Opstanding is net moontlik as jy eers aan die self kan sterf …

Jesus het ons voorgegaan hierin. Dis nie ʼn swart Vrydag nie, dis ʼn goeie Vrydag. Maar dit is swaar.

Jurgens Hendriks

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment