Verder geluister: Johannes 10

Written by webmeester on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

o sosiale stigma – waar ‘n persoon of groep uit die gemeenskap uitgesluit word as gevolg van sy of haar HIV-Vigsstatus en tweedens:

o self-stigma waar ‘n persoon wat met HIV leef, hom/haarself blameer en isoleer.

Die skrywer gaan dan voort om te wys hoedat hierdie twee vorme van stigmatisering dikwels tot diskriminasie lei, en doen moeite om die leser aan van die jongste publikasies op die gebied voor te stel.

• In aansluiting by die twee voorstelle, sou ek graag wou sien dat ‘n mens die gemeente moet help (dalk jouself ook) om vir ‘n oomblik in die skoene van die Vigslyer te klim en vanuit daardie perspektief, Joh 10:1-10 te benader. Dit beteken dat jy jouself in die situasie van stigmatisering bevind, sosiaal en persoonlik uitgesluit voel en dus die teks lees en hoor met die hoop dat dit dalk goeie nuus kan bevat vir jou situasie. In die verband lyk dit vir my of die perikoop dan op twee maniere goeie nuus bevat:

• Die eerste brokkie goeie nuus het te make met Jesus se eerste “ek is-uitspraak” in hierdie perikoop, naamlik: “Ek is die ingang vir die skape” (vers 7) wat daarop dui dat Jesus die skape teen diewe en rowers beskerm (dus teen die self-aangestelde messias’e – hulle wat oordeel en uitsluit). Deur Homself as ‘n hek te beskryf, maak Jesus drie beloftes aan sy hoorders – drie beloftes met goeie nuus:

I. Verlossing – enige persoon wat deur hierdie hek in die kraal ingaan, geniet nie net die teenwoordigheid van God nie, maar vind ook verlossing.

II. Veiligheid – die herder beskerm die skape terwyl hulle wei en wanneer hulle na die skaapkraal terugkeer. Op dieselfde manier ervaar mense veiligheid wat God se teenwoordigheid deur die hek (deur Jesus) betree, terwyl God hulle beskerm waar hulle hulself ookal bevind.

III. Versadiging – Jesus het in Joh 4 reeds vir die Samaritaanse vrou vertel van die versadiging wat die water gee, wat Hy vir haar gee; dieselfde was die geval met die brood (Joh 6). Hier gee Jesus die belofte dat almal wat deur die hek (deur Hom) ingaan, gevoed en versadig sal word. Voedsel wat natuurlik ook op ‘n dieper vlak as net die gewone honger voed – maar op ‘n diep geestelike vlak wat dikwels deur stigmatisering veroorsaak word.

• Dit is in die verband wat Jesus dan ook vir sy hoorders vra om die lewe wat moontlik raak deur die skaapkraal binne te gaan deur (Jesus) die hek, te vergelyk met dit wat die diewe en rowers vir hulle kan offer, wie se enigste motief was om te roof. Mense wat gewillig was om ‘n dier dood te maak om sodoende die karkas makliker te kan beweeg, maar wat dikwels in die proses ook die kleintjies sonder ‘n ma agterlos.

• Dit bring ons by die tweede manier waarop hierdie perikoop vir ons help met goeie nuus, wanneer ons bereid is om onsself in die skoene van die viglsyer te plaas. Want reeds toe Jesus oor homself as die hek van die skaapkraal gepraat het, is daar ‘n verwysing na die verantwoordelikheid van die herder. Daarom kom dit nie heeltemal as ‘n verrassing wanneer Jesus in ‘n volgende “Ek is-uitspraak” sê: “Ek is die goeie herder” nie.

• As die goeie herder kontrasteer Jesus Homself nie net met die diewe en rowers nie, maar ook met die huurling. Laasgenoemde kan dalk meer vir die skape omgee as die diewe en die rowers, maar dit kom steeds nie naby dit van die herder nie. Dit raak duidelik as ons na die huurling se optrede kyk wanneer ‘n wolf (die gevaarlikste van die roofdiere in ou Palestina) sy verskyning maak. Wanneer die huurling die wolf sien kom, los hy die skape en hardloop weg. Die skape behoort nie aan hom nie en het dus nie dieselfde toewyding aan hulle as wat met die herder die geval is nie. Hy is nie bereid om persoonlike verlies te ly as sommige van die skape doodgemaak word nie.

• In kontras met laasgenoemde is Jesus die “goeie herder”, wat beteken dat Jesus genadig en effektief is. Hy sorg vir die skape met liefde en ken hulle. As die goeie herder ken Jesus die behoeftes, nood en aard van elkeen van sy skape. Elke skaap kan Hom ook herken en erken as die goeie herder.

• Dalk die grootste en verrassendste nuus van ons perikoop, veral vanuit die perspektief van die vigslyer, is Jesus se verklaring in vers 15: “Ek lê my lewe af vir die skape”. Alhoewel Jesus se sterwe nog in die toekoms gelê het toe Hy hierdie woorde uitgespreek het, was dit so seker, dat Hy die teenswoordige tydsvorm gebruik het. Jesus se ganse lewe, van sy geboorte tot sy sterwe, was in feite ‘n aflegging van sy lewe vir hulle wat in nood is, vir hulle wat ly, vir hulle wat eensaam en vermoeid is, vir hulle wat onder stigmatisering gebuk gaan.

• Die tweede preekvoorstel maak belangrike opmerkings oor hoe hierdie brokkies goeie nuus – vanuit die perspektief van die vigslyer – die boodskap verder kan help aktualiseer deur hande en voete daaraan te gee. Gaan ons so met die teks te werk, deur onsself in die posisie van die gestigmatiseerde te plaas, kan ons nie anders as om medelye met mense wat stigmatisering ondergaan, te hê en die goeie nuus van die teks op ‘n ander manier te hoor nie. Laasgenoemde staan lynreg teenoor ‘n moraliserende lees van die teks waaraan die Fariseërs hulself (en dikwels ook onsself), skuldig maak.

Daar is ‘n paar vorige riglyne in die argief:

Trackback from your site.

Leave a comment